Algemene Vrae

Algemene Vrae

Kliek op vraag om die antwoord te sien

0

1. Wat Doen Innovus

Innovus help die Universiteit Stellenbosch se uitvinders en navorsers om hul idees en uitvindings te kommersialiseer deur patentering, lisensiëring en die vorming van afwentelmaatskappye.

2. Hoe kan Innovus my hulp?

Indien jy 'n navraag oor intellektuele eiendom ten opsigte van jou navorsing of navorsingsfinansiering het, kan Innovus jou help deur hierdie kwessies op te klaar en jou te help saam die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch.

As jy 'n uitvinder aan die Universiteit Stellenbosch is, kan Innovus jou raadgee oor of jou idee patenteerbaar is, en sal namens jou om patente aansoek doen.

As jy 'n kommersiële idee het, kan Innovus jou help met die bemarking en finansiële vereistes om jou idee in die markplek te gebruik.

1

1. Wat is a patent?

'n Patent is in wese 'n monopolistiese reg wat van staatsweë aan uitvinders toegestaan word. Dit bring mee dat so 'n uitvinder sy uitvinding kan verkoop, kan afdwing in ons (en internasionale) howe, inbreukmakers daarop sivielregtelik kan aanspreek, en ook om die patent sonder vrees vir kompetisie te kan eksploiteer. Die statutere beskerming geld net vir 20 jaar mits daar deurentyd aan al die formele voorskrifte voldoen word. (Sien die Wet op Patente No 57 van 1978).

2. Watte idees kan gepatenteer word?

Enige produk, proses, metode, toestel, 'n kombinasie daarvan of 'n verbetering op sodanige produk, proses, toestel of metode is patenteerbaar. 'n Goeie patente-agent ontsien geen moeite om met die patentbeskrywing sorgvuldig die uitvinding as een van die alternatiewe of 'n kombinasie daarvan te beskryf nie om sodoende die wydste beskerming moontlik aan die uitvinder te kan verseker. Patenteerbare idees is nie uitputtend van aard nie - daar bestaan egter tog statutêre beperkings op sekere kategorieë, elk met 'n goeie rede vir die verbod op die patentering daarvan. Voorbeelde van sulke beperkings is mediese behandelingsmetodes, 'n metode om 'n besigheid te bedryf, 'n biologiese proses vir die produksie van diere, of 'n ontdekking (omdat laasgenoemde 'n toeval is). 'n Wiskundige formule kan ook nie gepatenteer word nie, aangesien dit verteenwoordigend is van 'n natuurlike verskynsel.

Rekenaarprogrammatuur word normaalweg beskerm deur die Wet op Outeursreg. Dit is egter moontlik om sekere aspekte van rekenaarprogrammatuur ook te patenteer, soos bv. breë algoritmes of 'n proses in die program. Hierdie is egter 'n gespesialiseerde en hoogs mededingende veld, en dit is wenslik om 'n patente-agent te raadpleeg en nie slegs op outeursregbeskerming vir programmatuur staat te maak nie.

3. Wat is die regsvereistes?

Daar bestaan 3 wetlike vereistes vir patenteerbaarheid: 

Nuutheid: 'n Idee moet nuut wees of vir kenners op die betrokke gebied nie klaarblyklik of algemene kennis wees nie. Daarom is die vroegtydige publikasie van die uitvinding in enige vorm (voordat dit deur middel van patentering beveilig is) fataal en vernietig dit onmiddellik die nuutheidsvereiste. 'n Ontdekking ("discovery") is nie 'n uitvinding ("invention") nie en kan dus nie gepatenteer word nie, want as natuurverskynsel is dit nie nuut nie en het dit ook nie deur die mens se geestesinspanning tot stand gekom nie.

Vindingrykheid: Hier is die toets of 'n kenner op die betrokke gebied met die "huidige stand van die tegniek" tot sy beskikking nie tot dieselfde gevolgtrekking sou kom as hy met dieselfde probleem gekonfronteer sou word nie.

Nuttigheidswaarde: 'n Idee moet in die handel, nywerheid of landbou nuttige toepassing vind en dus vir iemand van waarde kan wees. Die ekonomiese sukses van 'n uitvinding is nie 'n maatstaaf vir die voldoening aan die vereieste nie. 

'n Nuwe idee wat aan hierdie drie vereistes voldoen kwalifiseer vir registrasie as 'n patent en is uiteraard dan 'n nuwe uitvinding.

4. Hoe doen ek 'n patentsoektog?

In Suid Afrika word geen formele patentsoektog voorgeskryf waaraan die drie patenteringsvereistes getoets kan word nie. 'n Patent word dus vrylik toegestaan en die onus rus dan op die party wat voel dat daar op sy patent inbreuk gemaak word om die ongeldigheid van die nuut-toegestaande patent in die hof te bewys. Wanneer 'n uitvinder egter sy regte in ander lande wil beskerm word 'n formele patentsoektog normaalweg vereis voordat enige aansoek om patentering aldaar toegestaan sal word. So 'n uitvinder behou egter deurentyd die voorkeurdatum van sy oorspronklike aansoek in Suid Afrika, sou die soektog daarop dui dat daar geen soortgelyke patent bestaan nie

Elke land het spesifieke bepalings omtrent so 'n soektog en die voorskrifte maak die registrasie van internasionale patentregte uiteraard baie duur. Dit sal daarom wys wees van enige uitvinder om eers self so 'n voorlopige soektog te onderneem voordat groot kostes aangegaan word. Daar bestaan verskeie gratis soekenjins op die internet waarvan enkeles die volgende is: 

Europa: www.european-patent-office.org 
VSA: www.patents.ibm.com | www.uspto.gov
Kanada: www.strtegis.ic.gc.ca
WIPO (PCT): www.pctgazette.wipo.int
RSA: www.hahn.co.za

Is my idea worth patenting?

"Anything that won't sell, I dont want to invent" - Thomas Edison 

Voordat 'n klein fortuin bestee word om 'n vindingryke idee te patenteer, moet verskeie mark-oorwegings in ag geneem word. Is die uitvinding 'n unieke - en beter - oplossing vir 'n werklike bestaande probleem? Kan die produk maklik en ekonomies vervaardig word, of geïntegreer word met 'n bestaande produk? Is daar 'n aanvraag vir die produk? Hoe groot is die aanvraag? Toon die mark potensiaal om te groei? Wat is die mededingende produk(te)? Sal die produk uitgedien wees teen die tyd dat dit op die mark kom? Hoeveel sal dit kos, en hoe lank sal dit neem, om die produk te laat vervaardig en tot die mark te laat toetree? Hoe sal dit bemark en verkoop word? Die antwoorde op hierdie vrae berus op marknavorsing, waarvoor kundige hulp dikwels ingeroep moet word. Eerstens behoort 'n uitvinding tegnies 'n wesentlike probleem aan te spreek. Die kritiese volgende stap is om te vra of die oplos van die probleem deur die uitvinding vir iemand van waarde sal wees. Hoe, en die strategie wat gevolg moet word, om dit te bepaal verg werklik insig in die proses. So 'n besluitnemer behoort dus 'n persoon met tegno-mark flair te wees. 'n Uitvinding hoef ook nie noodwendig op die voorpunt van die tegnologie te wees nie, aangesien dit somtyds van meer waarde kan wees indien die uitvinding slegs waarde toevoeg tot bestaande tegnologie en die tegnologiese infrastruktuur daaraan verbonde - losstaande tegnologie is dikwels nie vatbaar vir kommersiële sukses nie en dit kan dekades neem om die marktoestande ideaal te kry vir so 'n uitvinding. Indien ondersoeke toon dat die uitvinding, hoe briljant dit ook al mag wees, 'n geringe markpotensiaal het, is dit dikwels geraadsaam om van patentering af te sien. Die Kantoor vir Intellektuele Eiendom is beskibaar om personeel en studente van hulp en raad te bedien met die beraming van die markpotensiaal van hul uitvindings. 
Also consult:www.fplc.edu

6. Hoe registreer ek 'n patent?

In Suid Afrika kan enige persoon self aansoek doen om 'n voorlopige patent te registreer. 'n Voorkeurdatum word verskaf deur die: 

Registrateur 
Kantoor vir Patente en Handelsmerke 
Privaatsak X400 
Pretoria 0001 
Tel: (012) 310 9791 

aan die aansoeker ten opsigte van die patentregte se internasionale afdwingbaarheid. Voorlopige patentregistrasie kan sonder die hulp van 'n patente-agent gedoen word en behels tans R60 per aansoek.Hierdie voorkeurdatum in geldig vir een jaar in alle lande, te danke aan die Paris Treaty on Industrial Property wat in 1883 geteken is. Sou die aansoeker besluit om 'n finale patentaansoek te registreer, moet hy met behulp van 'n geregistreerde patente-agent binne een jaar na die voorkeurdatum so 'n aansoek indien. Die gebruik van 'n patente-agent vir die finale registrasie is 'n wetlike vereiste, maar dit verseker ook dat die bewoording van jou patent waterdig is, so wyd as moontlik en tegnies korrek omskryf word, en dat daar aan al die wetlike vereistes voldoen word. Dit is dus in jou eie belang om van so 'n patente-agent gebruik te maak. Tydens die indiening van die finale patent moet die aansoeker ook sy voorneme bekend maak om die patent in ander lande te laat registreer. Daar is twee wyses waarop dit gedoen kan word, maar die Universiteit volg die PCT Roete. Die internasionale registrasie van 'n patent is baie duur weens die feit dat (a) patentsoektogte en (b) vertaling van die patente na die amptelike tale van die betrokke land(e) verpligtend is. Die proses vir die registrasie van patente vir personeel en studente aan die Universiteit van Stellenbosch word begin deur 'n openbaarmakingsvorm te voltooi.

7. Die patenteringproses aan die Universiteit Stellenbosch.

Indien 'n student of personeellid aan die US van mening is dat 'n idee patenteerbaar en kommersiëel lewensvatbaar is, word die volgende prosedure voorgeskryf ten einde daardie persoon sowel as die Universiteit se belange die beste te dien.

1. LOGBOEK
Departementele rekordhouding van navorsing of projekte moet geskied by wyse van die hou van 'n laboratorium-logboek.

2. BEKENDMAKING
Indien u van mening is dat u 'n nuwe uitvinding gemaak het, voer 'n patente-soektog uit om vas te stel of die idee nie reeds voorheen gepatenteer is deur iemand anders nie. Voltooi die bekendmakingsvorm insake die bekendmaking ("disclosure") van u uitvinding aan die Universiteit. Verkry die nodige handtekening van u Departements- of Fakulteitshoof en ander partye wat om die een of ander rede betrokke is. (Die bekendmakingsdokument voldoen aan dieselfde bepalings as 'n vertroulikheidsooreenkoms ten opsigte van die ander partye wat dit onderteken). Bekendmaking is ingevolge u diens- of studie-ooreenkoms verpligtend. Oorhandig die dokument per hand in 'n verseelde koevert, gerig aan die Senior Direkteur: Navorsing, aan die Afdeling Navorsingsontwikkeling, 3-de vlak, Administrasiegebou B. Intussen moet u uitvinding op geen wyse aan enige derde party bekend gemaak word nie!

3: AFD. NAVORSINGSONTWIKKELING & KIE
Voorlopige evaluering van die idee vind plaas deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling in oorleg met KIE. Albei instellings onderneem om te poog om die voorlopige evaluering binne enkele dae te voltooi.

4. TERUGVOERING
KIE gee binne normaalweg 4 weke terugvoering oor die status van die bekendgemaakte idee na aanleiding van 'n uitvoerbaarheidstudie. In hierdie stadium sal aangedui word of daar deur die Universiteit met voorlopige registrasie van 'n patent voortgegaan sal word, al dan nie. Prima facie onvolledige of swak idees sal in hierdie stadium terug besorg word met die verstandhouding dat gebreke uitgewys sal word, vir moontlike heroorweging na die regstelling daarvan Moontlike afstanddoening van regte deur die Universiteit aan die uitvinder sal eers op 'n latere stadium geskied, sou die Universiteit van oordeel wees dat dit nie wesenlik baat sal vind by die patentering van die idee nie.

5. VOORLOPIGE PATENTERING
Indien die uitvinding patenteerwaardig geag word en die Universiteit wens om daarmee voort te gaan, sal KIE aansoek doen om voorlopige patentregristrasie.

6. FINALE PATENTERING
Binne een jaar na die registrasie van 'n voorlopige patent, sal KIE 'n besluit neem oor die registrasie van 'n finale patent in Suid-Afrika. Desgelyks sal KIE binne 30 maande na die registrasie van die voorlopige patent, 'n besluit neem (ingevolge die PCT voorskrifte) oor die registrasie van 'n finale patent in oorsese lande.

7. EKSPLOITERING
Die geregistreerde voorlopige patent word aan InnovUS gestuur met die oog op moontlike kommersiële ontginning daarvan deur die Universiteit. Die kommersialiseringsproses word grafies uitgebeeld in 'n bladsy wat gesien kan word deur hier te klik. Die moontlikhede en resultate van marknavorsing, sakeplanne, lewensvatbaarheidstudies, kosteberamings, lisensiëring en moontlike afwentelmaatskappye word verder ondersoek en aksieplanne word in werking gestel om die patent eventueel suksesvol te kommersialiseer

8. Hoe kry ek my patent gekommersialiseer

Die volgende alternatiewe is beskikbaar vir die kommersiele ontginning:

Deur die patent te verkoop aan 'n entrepreneur of maatskappy wat dit sien as iets wat kan waarde toevoeg tot hul bestaande produktereeks of selfs as 'n nuwe produk te bemark. Die markwaardebepaling van so 'n onontwikkelde patent is moeilik vasstelbaar, veral as daar nog geen produkdeurbraak of -geskiedenis bestaan nie.

Deur die patent te lisensieer aan 'n maatskappy wat reeds op die betrokke veld spesialiseer. Tantiemes word dan verkry op die produk wat deur die maatskappy verkoop word. Dit is belangrik om om vir 'n persentasie van die omset te onderhandel aangesien tantiemes gegrond op winsdeling daartoe kan lei dat die maatkappy doelbewus verliese maak. Verder behoort 'n prestasieklousule ook deel te wees van die ooreenkoms.

Deur die patent self te ontwikkel. Die proses is baie gekompliseerd en kan nie sonder die inagneming van die volgende prosesse suksesvol bestuur word nie: (a) Die ontwikkeling van 'n besigheidsplan, (b) die bou van 'n tegnologie-infrastruktuur rondom die patent, (c) die aanspreek van logistieke, operasionele en bestuursaspekte en (d) 'n finansieringsmodel vir die projek. InnovUS is bereid om behulpsaam te wees met die stigting van 'n afwentelmaatskappy deur vennootskappe te sluit met belanghebbende partye soos finansiers, ontwikkelaars en maatskappye.

So 'n vennootskap sal tipies in die stig van 'n nuwe maatskappy inslag vind waarin belanghebbenes ook aandeelhouers is tot die mate van die waarde toegevoeg tot die kommersiële ontginningsproses deur elke party.

Deur 'n agent aan te stel. Agente wil gewoonlik'n baie hoë persentasie van die omset as vergoeding hê terwyl hulle terselfdertyd geen wesentlike risiko loop nie. Daar moet ook lig geloop word vir agente wat hul heffings vooraf betaalbaar wil laat maak.

9. Wat is a PSO (Patentsaamwerkingsooreenkoms)?

Internasionale Patentesamewerkingsverdrag (PCT) 

'n Patent wat in Suid-Afrika geregistreer is, is slegs binne die grense van Suid-Afrika geldig. Om jou IE volgens die konvensionele prosedures in ander lande te beskerm vereis dat 'n patent-aansoek in elkeen van die betrokke lande ingedien moet word, en wat elkeen sy eie prosedures en vereistes voorskryf (bv. 'n patent is vir slegs 17 jaar in die VSA geldig, en in Europa moet die patentbeskrywing vertaal word in die amptelike taal van die land waarvoor 'n patent-aansoek ingedien word). Suid-Afrika het die honderste land van die PCT patentesamewerkingsverdrag (Patent Co-operative Treaty) in 1999 geword. Die doel van hierdie verdrag is om al die probleme aan te spreek wat oor jare heen ontstaan het in verband met die prosedures, tydrame en kostes wanneer 'n patent internasionaal geregistreer word. Die vernaamste voordeel vir die gebruik van die PCT roete om patente internasionaal te registreer is dat slegs één aansoek vir alle PCT lande ingedien hoef te word in dieselfde land as waar die voorlopige patent-aansoek ingedien is. Die voorkeurregdatum sal dan vir 20 maande (in sommige gevalle so veel as 30 maande) beskerm word in alle PCT lande, wat die uitvinder voldoende tyd gee om marknavorsing en lewensvatbaarheidstudies uit te voer in al die lande waar patentering oorweeg word. Teen die vervaldatum moet die uitvinder dan slegs aandui in watter lande hy wil voortgaan met die finale patent-registrasie. Hierdie verlengde tydraam stel die aangaan van vertalings- en regskostes effektief uit en ofskoon hierdie kostes uiteindelik nie vermy kan word nie, is die uitvinder in 'n beter posisie om sy patentregistrasie-strategie te oorweeg en formuleer. Hiedie 20 maande periode in PCT lande is aansienlik meer as die konvensionele 12 maande, en is die vernaamste rede waarom Stellenbosch Universiteit die PCT roete voorskryf in gevalle waar die internasionale registrasie van patente oorweeg word.

10. Kan Programmatuur-verwante uitvindsels gepatenteer word?

Die patenteerbaarheid van rekenaarprogramme is lank reeds 'n onderwerp wat tot hewige debatte lei weens die groot kommersiële implikasies van programmatuur. Die patentewet stel dit baie duidelik in art. 25(2)(f) dat rekenaarprogammatuur nie patenteerbaar is nie. Daar is egter in klousule 25(3) 'n voorbehoudsbepaling wat die agterdeur ooplaat sodat rekenaarprogramme wel, maar in baie beperkte omstandighede, gepatenteer kan word. Die voorbehoudsbepaling is egter nog nie in SA se howe getoets nie, en paptenteprokureurs moet hulle gevolglik laat lei deur die ontwikkeling van internasionale regspraak in hierdie verband. In Suid Afrika word die probleem verder gerieflik omseil aangesien geen formele patentsoektogte of ondersoeke na patenteerbaarheid vereis word nie, en 'n innoveerder kan dus heel maklik so 'n patent laat registreer. 

Om gepatenteer te kan word moet 'n rekenaarprogram 'n integrale deel van 'n proses vorm. Dié stelling is egter nie ekplisiet genoeg nie en is dit nodig om na die ontwikkeling van die debat in die VSA-howe te kyk om meer duidelikheid hieromtrent te kry. Verskeie toonaangewende hofuitsprake het riglyne ontwikkel waaraan 'n rekenaarprogram moet voldoen om gepatenteer te kan word wat soos volg saamgevat kan word: 

Die program moet net soos enige ander uitvinding as 'n metode, prosedure òf as 'n toestel in eie reg toepassing vind sonder dat dit bloot as hulpmiddel tot 'n proses gesien kan word. Die hofuitsprake was dikwels vaag of moeilik om te interpreteer en daarom het die Patentekantoor van die VSA in 1995 drie riglyne daargestel om hiermee behulpsaam te wees. Dit is: 

  1. "A computer or other programmable apparatus whose actions are directed by a computer program or other form of software may be considered a "machine."
  2. "A computer-readable memory that can be used to direct a computer to function in a particular manner when used by the computer is presumed to be an "article of manufacture."
  3. "A series of specific operational steps to be performed on, or with the aid, of a computer is deemed a "process."" Verdere besonderhede aangaande hierdie riglyne is beskikbaar deur hier te kliek.

Daar word ook duidelik onderskeid getref tussen breë algoritmes en baie spesifieke wiskundige algoritmes. Eersgenoemde word gedefinieer as "a fixed step-by-step procedure for accomplishing a given result, usually a simplified procedure for solving complex problems." Laasgenoemde word beskou as 'n blote nabootsing van die menslike verstand en is volgens die wet nie nie patenteerbaar nie, want die wet op Patente sluit wiskundige metodes spesifiek uit as 'n patenteerbare idee. ("…claims were not patentable because they really distilled down to a mathematical algorithm representing a mental process that is not applied to physical elements or process steps.") Dit word aan die howe oorgelaat om die onderskeid te tref. 

Broad algorithms can be defined as "a fixed step-by-step procedure for accomplishing a given result, usually a simplified procedure for solving complex problems", and are patentable. It is left to the courts to decide on this matter. 

'n Verdere onderskeid word tussen rekenaarprogramme en sagteware (programmatuur) getref. Eersgenoemde word beskou as 'n reeks stellings en opdragte wat direk of indirek in 'n rekenaar toepassing vind en sekere resultate meebring. Sagteware, daarenteen, is 'n breër begrip wat onder andere rekenaarprogramme insluit, maar databasisse en/of -biblioteke vorm ook deel van die sagteware. Gevolglik sal sagteware op sigself nie patenteerbaar wees nie, maar slegs op outeursreg aanspraak kan maak. 

Tipiese voorbeelde uit die VSA-regspraak is die volgende: 

Nie patenteerbaar nie. 

"a computer software program algorithm for converting from binary-coded decimal numbers to pure binary numbers" 
"A process and apparatus for testing a complex system and analyzing the results, using functions of K elements (any arbitrary subdivision of the system such as neuropathways in the human nervous system." 
A method and machine for planning object movement" 

Patenteerbaar: 

"System software"
"Algorithm for typesetting alphanumeric equations"
"Computer program for the translation of natural languages" 

Rekenaarprogramme word gelukkig deur die Wet op Outeursreg as afsonderlike kategorie beskerm en dit word aanbeveel om te alle tye die woorde Kopiereg © jaartal Outeur Alle regte voorbehou op alle rekenaarprogramme aan te bring ingeval 'n aansoek om patetering misluk (waar die jaartal die jaar is waarin die program die eerste keer "gepubliseer" is). Meer informasie is hier beskikbaar.

2

1. Hoe stel ek 'n sakeplan op?

'n Idee met 'n goeie sakeplan het beslis 'n beter kans op sukses as 'n briljante patent sonder 'n sakeplan. As jy beoog om jou idee te patenteer en kommersieel te ontwikkel, is 'n sakeplan daarvoor 'n noodsaaklikheid. Die doel van 'n sakeplan is juis om ander mense te beïnvloed om jou idee te ondersteun aangesien hulle oor middele beskik wat jy nodig het om jou idee suksesvol te ontwikkel. Finansiering of ondernemingskapitaal is tipiese voorbeelde van sulke middele en die mense wat kan besluit oor die toekenning van onder andere ondernemingskapitaal stel streng vereistes voordat hulle enigsins oortuig kan word van jou idee se moontlike kommersiële sukses. Jou sakeplan sal waarskynlik een van baie wees wat aan hulle voorgelê word, en om die mededinging te wen moet jy professioneel te werk gaan. 'n Goeie sakeplan sluit ten minste die volgende aspekte in: 

Inleiding 

Beskrywing van onderneming ( oorsig van bedryf, produkte, produksieprosesse) 
Die mark (mededinging, grootte, kliënte, markneigings) 
Finansies (inkomstestaat, uitgawes, kontantvloeivooruitskatting)
Ondersteunende dokumente (bemarkingsplan, ens) 

Dit sal beslis tot jou voordeel strek as jy realistiese projeksies doen aangesien die persone wat jou sakeplan gaan ontleed goed onderleg is om onrealistiese voorleggings te identifiseer. Selfs al is geen ander persoon of instansie se hulp nodig nie, is dit nog steeds raadsaam om so 'n plan op te stel. Die oefening sal jou forseer om die hele idee strategies te benader sodat jy seker is dat daar aan alles gedink is voordat jy begin met iets wat nie haalbaar is nie.

Daar bestaan baie goeie programmatuur vir die opstel van sakeplanne. Die programmatuur het die voordeel dat die insetwaardes deurentyd aangepas kan word om verskillende scenario’s te oorweeg. KIE is beskikbaar om personeel en studente van die US behulpsaam te wees met die opstel van sakeplanne. Die (voormalige) KSOK het Riglyne vir die Opstel van Sakeplanne beskikbaar gestel.

Kopiereg 2017 Innovus Technology Transfer, Alle Regte Voorbehou
Webtuiste deur NetMechanic ontwikkel