Intellektuele eiendom (IE) is ʼn groep wettig erkende regte wat met innovasie en kreatiwiteit geassosieer word – die werkinge van die intellek, in teenstelling met fisiese produkte, grond en ander tasbare hulpbronne. Selfs al is dit ontasbaar, word intellektuele eiendom dikwels as persoonlike eiendom erken, wat soos ander vorme van eiendom verkoop en verhandel kan word.
Intellektuele Eiendom word in twee kategorieë onderverdeel:
- Industriële eiendom, wat insluit uitvindings wat beskerm word deur middle van patente, handelsmerke, industriële ontwerpe, en geografiese aanduidings van bron; en
- Outeursreg, wat insluit letterkundige en artistieke werke soos romans, gedigte en toneelstukke, films, musiekwerke, artistieke werk soos tekeninge, skilderye, foto’s en beeldhouwerke, en boukundige ontwerpe.
Regte wat verband hou met outeursreg sluit in dié van uitvoerende kunstenaars in hulle optredes, vervaardigers van fonogramme in hulle opnames, en dié van omroepers in hulle radio- en televisieprogramme.
Regsbeskerming is nodig ten einde ander te weerhou van die ongemagtigde gebruik van die intellektuele eiendom tot nadeel van die ware eienaar, en om te verseker dat die ware eienaar die volle handelsvoordeel van sy/haar skeppende werk sal geniet.
