skip to content

Intellektuele Eiendom > Handelsmerke

    SOEK 

'n Handelsmerk is ’n teken wat geregistreer is met die doel om in die loop van die handel een persoon se dienste of produkte van sy/haar mededingers se dienste of produkte te onderskei.

'n Handelsmerk verleen dan ook aan die eienaar daarvan die uitsluitlike reg om mededingers se gebruik daarvan uit te sluit ten aansien van dieselfde of selfs soortgelyke produkte of dienste. Naas gewone handelsmerke bestaan daar ook versamelhandelsmerke en waarmerkingshandelsmerke. Indien ’n teken nie geregistreer is nie, kan ’n aksie vir onregmatige mededinging steeds van nut wees rakende ongemagtigde mededingende gebruik van die teken, mits die teken reputasie het.

Voorbeeld van ʼn handelsmerk:
Handelsmerk = Coke ®
Maatskappynaam = Coca Cola (Edms.) Bpk.
Domeinnaam = www.coke.com

 

  • ʼn Handelsmerk is ʼn teken waarvolgens ’n mens se eie produkte/dienste van dié van jou mededingers onderskei word
  • Waarde van handelsmerke in
    Korporatiewe beeld
    Bemarkingstrategie
    Publisiteitswaarde
    Onderskeiding van mededingers
    Gehalte
    Beeld = handelsmerkgewing! (branding)
  • ʼn Handelsmerk kan ook die fatsoen, ʼn vorm, ʼn patroon of ʼn houer vir goedere wees, bv. die Coca-Cola-bottel
  • Sowel positiewe en negatiewe assosiasies word met handelsmerke gemaak
  • Beperkinge
    Vlag
    Verbintenis met regering, bv. SABS
    Vanne, bv. die kitskosgroep McDonald’s in plaas van die van MacDonald
    Versamelhandelsmerke bv. Stellenbosch Wynroete
    Letters, getalle, klanke, kleur, woorde
  • Skending
    Voordoening - Dieselfde produk, verskillende vervaardigers
    Soortgelyke produkte - Verwarring van kliënt
    Vervloeiing/Verwatering - Verskillende produkte, onbillike voordeel
  • Streeksname
    Parys Konvensie vir die Beskerming van Industriële Eiendom van 1883
    Lisbon Agreement for the Protection of Appellations of Origin and their International Registration
    Artikels 22 tot 24 van die Handelsooreenkoms oor Intellektuele Eiendomsregte (TRIPS) gaan oor die internasionale beskerming van geografiese aanwysings binne die raamwerk van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO)
  • Wetgewing

    Wet op Handelsmerke No. 194 van 1993

Wat is ʼn versamelhandelsmerk?

'n Versamelhandelsmerk is ook ’n handelsmerk, maar met dié verskil dat dit die dienste of produkte van 'n groep geassosieerde persone onderskei van die dienste of produkte van ander groepe. ’n Goeie voorbeeld is die wynboere van die Stellenbosch-distrik wat die uitsluitlike versamelhandelsmerk bekom het om die woorde "geproduseer in die Stellenbosch-distrik" te kan gebruik. Versamelhandelsmerke mag nie deur individue geregistreer word nie. Plek- en geografiese name is baie gewild by dié soort handelsmerkregistrasie.


Wat is waarmerkingshandelsmerke?

'n Waarmerkingshandelsmerk is ook ’n handelsmerk, maar met dié verskil dat dit die dienste of produkte van een persoon sertifiseer ten opsigte van oorsprong, gehalte, materiaal of enige ander onderskeidende eienskap wat dit onderskei van die produkte of dienste wat nie sodanig gesertifiseer is nie. ’n Goeie voorbeeld is die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) wat aan sodanige produkte of dienste 'n SABS-merk kan toeken. In hierdie geval doen die SABS byvoorbeeld by die Registrateur van Handelsmerke aansoek om die waarmerkingshandelsmerk as sodanig te laat registreer. Sodoende verkry die SABS die reg om aan sy kliënte die waarmerkingshandelsmerk toe te ken, mits die kliënte aan die SABS se vereistes voldoen.

Erkennings:
Gerard Verhoef

 


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University