skip to content

Intellektuele Eiendom > Ontwerpe

    SOEK 

ʼn Model beskerm die nuwe en onderskeidende visuele kenmerke van ʼn produk. Hierdie visuele eienskappe kan in die vorm, konfigurasie, ornamentasie en/of patroon van die produk te vinde wees.
ʼn Model moet deur middel van ‘n industriële proses vervaardig kan word.
Die Wet op modelle skryf voor dat spaar parte vir masjiene ens. nie beskermbaar sal wees deur middel van ‘n funksionele model nie. Dit kan egter nog steeds moontlik wees om ‘n estetiese model vir sulke parte te kry.

Estetiese ontwerpe:
Die estetiese kategorie fokus slegs op die visuele voorkoms en verleen beskerming aan die estetiese eienskappe van modelle (artikels) wat as sodanig geregistreer is.

  • Estetiese modelle het ʼn leeftyd van 10 jaar.

Funksionele ontwerpe:
Funksionele modelle kan verkry word indien ‘n ontwerp aspekte het wat genoodsaak word as gevolg van die funksie wat die ontwerp moet vervul. Funksionele modelle gee egter nog steeds net beskerming vir die visuele aspekte van sulke ontwerpe en bied nie beskerming vir die funksionele werking van die produk nie (soos in die geval van patente). Die nuwe patroon van ’n glyvaste rubbermat sal byvoorbeeld so beskerm kan word. Ontwerpe vir geïntegreerde stroombane en gepaardgaande maskers ingevolge die Wet op Modelle kan uitdruklik beskerm word.

  • Funksionele ontwerpe (vorm, fatsoen of konfigurasie) het ʼn 15-jaar-beskerming

Wetgewing:
ʼn Ontwerp vir artikels wat industrieel vervaardig kan word, kan ingevolge die Wet op Modelle No. 195 van 1993, geregistreer word as dit nuut en oorspronklik is. Ontwerpregistrasie beskerm die kenmerke van die voorkoms van ʼn produk, dit wil sê die eksterne kenmerke van vorm, fatsoen, patroon en konfigurasie van ʼn ontwerp van toepassing op artikels wat industrieel vervaardig kan word.

Die eienaar van ’n geregistreerde ontwerp verkry ’n monopolie om andere te verhoed om ’n produk met wesenlik dieselfde voorkoms in Suid-Afrika te vervaardig, te gebruik of te verkoop vir ’n tydperk van onderskeidelik 10 en 15 jaar vir estetiese en funksionele modelle. Jaarlikse hernuwingsfooie is betaalbaar vanaf die derde jaar na registrasie van die model om die model van krag te hou.

’n Vervaardigingsmetode of -beginsel, die kenmerke van ’n model (anders as die voorkoms) wat funksionele eienskappe van die produk is, uitvindings (wat deur patentreg beskerm word) en artistieke werke wat nie industrieel vervaardig gaan word nie (wat deur outeursreg beskerm word) kan nie as modelle geregistreer word nie.

Aansoeke om registrasie van ’n model moet by die Registrateur van Patente ingedien word voordat die nuutheid daarvan verval. Anders as in die geval patente, is daar egter ‘n grasie periode van 6 maande waarbinne die eienaar van die model nog steeds ‘n aansoek vir die registrasie van die model kan indien.

Suid-Afrikaans geregistreerde modelle geniet beskerming slegs binne die territoriale gebied van die RSA. ’n Suid-Afrikaanse aansoek kan as basis dien om konvensievoorkeurregte in die meeste ander lande te verkry mits die aansoek in die betrokke land ingedien word binne ses maande nadat dit in Suid-Afrika geregistreer is. In die geval van modelle setel eienaarskap in die persoon wat die model registreer.

Erkennings: Gerard Verhoef


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University