skip to content

Intellektuele Eiendom > Outeursreg

    SOEK 

Outeursreg word gedefinieer as die reg wat die outeursreghouer van ʼn oorspronklike werk het om ander te verbied om ongemagtigde kopieë van sodanige werk te maak. Met ander woorde, outeursreg verleen aan die eienaar van outeursreg die reg om andere daarvan te weerhou om sonder sy/haar toestemming onder andere skendende kopieë of reproduksies van die werk te vervaardig of te laat vervaardig, om dit die eerste keer aan die publiek beskikbaar te stel, om dit in die publiek op te voer en, in sommige gevalle, om dit uit te huur of te koop aan te bied.

Vereistes vir Outeursreg

  • Oorspronklikheid
  • Materiaal moet in ʼn tasbare vorm aangebied word
  • Outeur moet deur SA reg as ʼn regspersoon erken word

Werke wat vir outeursreg kwalifiseer

In terms of section 2(1) of the Copyright Act, the following works, if they are original, are eligible for copyright:

  • Letterkundige werke
    ʼn Letterkundige werk sluit in, ongeag letterkundige gehalte en op watter wyse of in watter vorm ook al uitgedruk: romans, verhale en digwerke; dramatiese werke, verhoogaanwysings, rolprentdraaiboeke en uitsaaitekste; handboeke, verhandelings, historiese werke, biografieë, essays en artikels; ensiklopedieë en woordeboeke; briewe, verslae en memoranda; lesings, toesprake en preke; en tabelle en samestellings, met inbegrip van tabelle en samestellings van data wat in 'n rekenaar of 'n medium wat tesame met 'n rekenaar gebruik word, geberg of vasgelê word
  • Musiekwerk
    ’n Musiekwerk beteken 'n werk wat bestaan uit musiek, met uitsluiting van enige woorde of handeling wat daarop bereken is om saam met die musiek gesing, uitgespreek of opgevoer te word.
  • Artistieke werke
    ʼn Artistieke werk beteken, ongeag die kunsgehalte daarvan: skilderye, beeldhouwerk (wat insluit 'n afgietsel of model wat vir beeldhoudoeleindes gemaak is), tekeninge (wat insluit ook 'n tekening van 'n tegniese aard of 'n diagram, kaart of plan), gravure en foto’s (enige produk van fotografie of van 'n proses gelyksoortig aan fotografie); boukundige werke wat óf geboue óf modelle van geboue is; of handwerk.
  • Rolprente (Flieks)
    ʼn Rolprent beteken vaslegging of berging op enige wyse hoegenaamd op film of enige ander stof van data, seine of ʼn reeks beelde wat, as dit saam met 'n meganiese, elektroniese of ander toestel gebruik word, as 'n bewegende prent gesien kan word en gereproduseer kan word, en ook die klanke in 'n klankbaan aan die rolprent verbonde, maar wat nie 'n rekenaarprogram insluit nie.
  • Klankopnames
    ʼn Klankopname beteken enige vaslegging of berging van klanke, of data of seine wat klanke verteenwoordig, wat gereproduseer kan word, maar wat nie ʼn klank insluit nie.
  • Uitsendings
    ʼn Uitsending beteken ʼn telekommunikasiediens van oorsending wat uit klanke, beelde, tekens of seine bestaan en wat deur middel van elektromagnetiese golwe van gespesifiseerde frekwensies in die ruimte oorgesend word sonder 'n kunsmatige geleier en bedoel is vir ontvangs deur die publiek.
  • Programdraende Seine
    ʼn Programdraende sein beteken die eerste persoon wat die sein na ʼn satelliet uitstuur.
  • Gepubliseerde Uitgawes
    ʼn Gepubliseerde uitgawe beteken die eerste druk deur watter proses ook al van 'n besondere tipografiese ordening van 'n letterkundige werk of musiekwerk.
  • Rekenaar Sagteware
    ʼn Rekenaarprogram beteken 'n stel voorskrifte wat op enige wyse vasgelê of geberg word en wat, indien dit regstreeks of onregstreeks in 'n rekenaar gebruik word, die werking daarvan rig om 'n resultaat teweeg te bring.

(1) Wet op Outeursreg No. 98 van 1978, soos gewysig 1992


Skending van outeursreg

Regstreekse skending:
Outeursreg in ʼn werk word geskend deur enige persoon wat, sonder die magtiging van die eienaar, enige van die handelinge verrig waarop die eienaar die uitsluitlike reg het.

Byvoorbeeld:

  • Die maak van onwettige kopieë sonder toestemming van die outeursreghouer
  • Die reproduksie van onwettige kopieë sonder toestemming van die outeursreghouer
  • Die werk in die openbaar opvoer of uitstal sonder toestemming van die outeursreghouer

Onregstreekse skending:
Outeursreg word onregstreeks geskend deur enige persoon wat, sonder die magtiging van die outeursreghouer, ’n artikel in die Republiek invoer, verkoop, verhuur, by wyse van handel vir verkoop of verhuur aanbied of uitstal, of vir handelsdoeleindes versprei indien hy/sy weet dat die vervaardiging van daardie artikel 'n outeursregskending uitmaak of sou uitgemaak het as die artikel in die Republiek vervaardig was.

Wetlike regverdiging van outeursreg
As ʼn algemene reël berus die eienaarskap van outeursreg by die outeur, behalwe in die onderstaande gevalle: (Sien SA Wet op Outeursreg, artikel 12, 21)

  • Die outeursreg van 'n letterkundige of artistieke werk wat deur 'n outeur vervaardig word in die loop van sy diens by die eienaar van 'n koerant, tydskrif of dergelike blad, behoort aan die eienaar van 'n koerant, tydskrif of dergelike blad vir die doel van publikasie, maar in alle ander opsigte berus die outeursreg by die outeur.
  • Iemand wat opdrag gee vir die neem van 'n foto, skilder of teken van 'n portret, die maak van 'n gravure, die maak van 'n rolprent of die maak van 'n klankopname en daarvoor betaal, en die werk ingevolge so 'n opdrag vervaardig word, sal die eienaar van enige outeursreg daarin bestaan, wees.
  • In die geval van enige werk wat nie die bostaande kategorieë val nie en wat in die loop van die outeur se diens by 'n ander persoon ingevolge 'n diens- of leerlingkontrak vervaardig word, word die outeursreg deur sodanige ander persoon, die werkgewer besit.

Outeursreg word nie geskend nie deur enige billike gebruik van 'n letterkundige of musiekwerk

  • vir die doeleindes van navorsing of persoonlike of private gebruik
  • vir die doeleindes van beoordeling of resensie van die werk of van ʼn ander werk
  • ten einde oor sake van die dag verslag te doen in 'n koerant, tydskrif of dergelike blad; of deur middel van uitsending of in 'n rolprent
  • aanhalings

Met dien verstande dat die bron asook die naam van die outeur in al die werke vermeld word.


Algemeen

  • Daar is geen formele registrasieprosedure nie:
    Geen registrasie is nodig vir outeursregte nie, aangesien outeursreg outomaties volgens die Wet op Outeursreg van krag word. Hoewel geen voorafregistrasie of ander formaliteite vereis word nie, is dit wenslik om die datum, naam van die outeursreghouer en ʼn outeursregaanspraak onder alle outeursregmateriaal aan te bring, byvoorbeeld: Kopiereg © 2006 Universiteit Stellenbosch Alle regte voorbehou
  • Duur van outeursreg:
    Die duur van outeursreg word in artikel 3(2) bepaal en die termyn verskil ten opsigte van die verskillende kategorieë werke. Die termyn van outeursreg ten opsigte van letterkundige of musiekwerke of ander artistieke werke as foto's, is die lewensduur van die outeur en vyftig (50) jaar vanaf die einde van die jaar waarin die outeur sterf. Besondere voorwaardes geld in die geval van ongepubliseerde werke

    1.) In die geval van rolprente, foto’s en rekenaarprogramme, is die termyn vyftig (50) jaar van die einde van die jaar waarin die werk aan die publiek met die toestemming van die eienaar van die outeursreg beskikbaar gestel word, of die einde van die jaar waarin die werk vir die eerste keer gepubliseer word, welke termyn ook al die langste is, of by ontstentenis van so 'n gebeurtenis, vyftig (50) jaar vanaf die einde van die jaar waarin die werk vervaardig word.

    2.) In die geval van klankopnames, is die termyn vyftig (50) jaar vanaf die einde van die jaar waarin die opname vir die eerste keer gepubliseer word.

    3.) In die geval van uitsendings, is die termyn vyftig (50) jaar vanaf die einde van die jaar waarin die uitsending die eerste keer plaasvind.

    4.) In die geval van programdraende seine, is die termyn vyftig (50) jaar vanaf die einde van die jaar waarin die seine aan 'n satelliet uitgesend word.

    5.) In die geval van gepubliseerde uitgawes, is die termyn vyftig (50) jaar vanaf die einde van die jaar waarin die uitgawe vir die eerste keer gepubliseer word.

    6.) Besondere bepalings geld in die geval van anonieme of pseudonieme werke en werke van mede-outeurskap.
  • Organisasies
    DALRO (Dramatiese, Artistieke en Literêre Regte Organisasie)
    SAMRO (Suider-Afrikaanse Musiekregte Organisasie)
    UVSA (Uitgewersvereniging van Suid-Afrika)
    MUSA (Musikante Unie van Suid-Afrika)
  • Verdrae
    Outeursregkonvensie van Bern, 1886 (RSA 187 en VSA 1989)
    Parys 1971
    Outeursregverdrag (WIPO)
  • Wetgewing
    Outeursregkwessies in Suid-Afrika word deur die onderstaande wette beheer:
    Wet op Outeursreg No. 98 van 1978 | Wet op Registrasie van Outeursreg in Rolprente 62 van 1977

Erkennings:
WIPO (World Intellectual Property Organisation)
Intellectual Property and Biotechnology: A Training Handbook
Adams & Adams Patent Attorneys
Gerard Verhoef


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University