'n Patent kan verkry word vir enige nuwe uitvinding wat 'n vindingryke stap bevat en wat in die handel of nywerheid of landbou gebruik of toegepas kan word. Oor die algemeen het uitvindings 'n tegniese inhoud en kan dit die vorm aanneem van nuwe (of verbeterdere) artikels of toestelle, apparaat of toerusting, prosesse vir die produseer of vervaardiging van 'n produk, chemiese middels of formules.
Wat is nie patenteerbaar nie?
- Wiskundige formules en wetenskaplike teorieë
- Ontdekkings
- Werke wat alreeds deur outeursreg beskerm word
- Metodes om besigheid te dryf en speletjies
- Rekenaarprogrammatuur
- Die voorstelling van informasie
- Mediese prosedures
- Plante en diere (nie-GM)
'n Uitvinding wat bloot een of meer van hierdie items as kenmerke van die uitvinding inkorporeer, kan steeds patenteerbaar wees. Advies moet altyd in hierdie verband verkry word.
Dit is belangrik om eerstens tussen 'n ontdekking en 'n uitvinding te onderskei:
- Goud is ontdek, maar suiwering van goud uit die erts was 'n uitvinding.
- Penisillien is ontdek, maar die aanwending daarvan as 'n antibiotiese middel om bakteriële infeksies te genees, was 'n uitvinding.
Hierdie punte is belangrik wanneer Tradisionele Kennis of Inheemse Reg toegepas word.
Nuutheid
- Allernuutste tegnologie en prioriteitsdatum
Die belangrikste voorvereiste vir die patenteerbaarheid van 'n uitvinding is dat dit in die Wet op Patente as nuut gedefinieer moet word. 'n Uitvinding word as nuut beskou indien dit nie deel uitmaak van die allernuutste tegnologie onmiddellik voor die prioriteitsdatum van die uitvinding nie. Die allernuutste tegnologie behels alle materiaal (hetsy 'n produk, 'n proses, inligting oor enige daarvan, of iets anders) wat beskikbaar gestel is aan die publiek (hetsy in die RSA of elders) deur skriftelike of mondelinge beskrywing, deur gebruik of op enige ander manier. Vir doeleindes van bepaling van nuutheid behels die allernuutste tegnologie ook materiaal vervat in 'n hangende patentaansoek in Suid-Afrika waar sodanige materiaal 'n vroeëre prioriteitsdatum het. 'n Uitvinding wat in die geheim maar op kommersiële skaal in die RSA gebruik word, sal vir die doeleindes van bepaling van nuutheid ook deel uitmaak van die allernuutste tegnologie. - Bekendmaking voor patentering hef nuutheid op
Die uitvinder en/of aansoeker moet verseker dat die uitvinding geheim gehou word tot wanneer 'n patentaansoek vir die uitvinding ingedien is. Indien dit nodig is om besonderhede van die uitvinding aan ander persone bekend te maak voordat 'n patentaansoek ingedien is, byvoorbeeld, vir die doel van voorbereiding van tekeninge of om tegniese bystand te verkry, of in handelsbelang ten einde finansiële hulp te verkry, moet sodanige bekendmaking onder belofte van geheimhouding geskied wat verkieslik skriftelik gegee moet word. 'n Nievertroulike bekendmaking van die uitvinding voordat die patentaansoek ingedien is, kan moontlik die nuutheid van die uitvinding ophef en kan enige hoop om geldige patentbeskerming vir die uitvinding te verkry, uitskakel. - Bekendmaking van innovasie wat in enige land bekend gemaak word, kan nuutheid ophef.
Vindingryke handeling
'n Ander belangrike voorvereiste vir patenteerbaarheid is dat die uitvinding 'n vindingryke handeling moet behels. Dit behels 'n ondersoek na die vraag of die uitvinding voor die hand liggend sou wees vir 'n persoon wat bevoeg is in die tegnologie waarop die uitvinding betrekking het, teen tyde van die indiening van 'n patentaansoek vir die uitvinding. Die toepaslike allernuutste tegnologie vir assessering van vindingrykheid is effe enger in omvang as in die geval van nuutheid. Die inhoud van 'n vroeëre hangende patentaansoek en vooraf geheime gebruik van 'n uitvinding maak nie deel uit van die allernuutste tegnologie wanneer voor-die-hand-liggendheid geassesseer word nie.
Bruikbaar in handel, nywerheid en landbou
Die laaste vereiste vir patenteerbaarheid is dat die uitvinding bruikbaar moet wees in handel, nywerheid of landbou. In breë terme beteken dit dat die uitvinding bruikbaar moet wees vir 'n kommersiële doel in ten minste een afdeling van wetenskap en tegnologie.
- 'n Uitvinder is altyd 'n private persoon; 'n patenthouer aan die ander kant kan 'n natuurlike of publieke persoon (bv. 'n maatskappy) wees.
- Uitvindings wat gesamentlik besit word, word besit deur die patenthouers in gelyke, onverdeelde dele, tensy anders voorsien word.
'n Aansoek om 'n patent kan deur die uitvinder gemaak word óf deur enige ander persoon wat van die uitvinder die reg verkry om aansoek te doen, óf deur sowel sodanige uitvinder as sodanige ander persoon. 'n Patentaansoek kan dus ingelewer word in die naam van 'n gevolmagtigde (bv. 'n natuurlike persoon of 'n maatskappy) wat 'n skriftelike oordrag van die uitvinding van die uitvinder het.
Aansoek om 'n patent
Daar is twee maniere waarop 'n eerste aansoek om 'n patent deur 'n plaaslike aansoeker ingelewer kan word, naamlik
- As 'n voorwaardelike patentaansoek, vergesel van 'n voorwaardelike spesifikasie wat die uitvinding behoorlik beskryf. 'n Volledige patent-aansoek moet binne 12 maande vanaf die voorwaardelike aansoek ingelewer word (wat beteken dat die voorwaardelike aansoek binne 12 maande afgehandel moet word), of binne 15 maande ná betaling van verlengingsgeld.
- As 'n volledige patentaansoek in die eerste plek, vergesel van 'n volledige spesifikasie wat die uitvinding en die manier waarop dit uitgevoer moet word ten volle beskryf, tesame met verduidelikende tekeninge en aansprake wat die inhoud beskryf waarvoor daar op beskerming aanspraak gemaak word.
Die indiening van 'n voorwaardelike patentaansoek verseker 'n prioriteitsdatum, sowel nasionaal as internasionaal, ingevolge die Parys Konvensie.
Indien 'n voorwaardelike aansoek nie binne 12 maande deur die indiening van 'n volledige aansoek gevolg word nie, verval dit. 'n Verlenging van drie maande kan toegestaan word vir indiening van die volledige aansoek.
- 'n Voorwaardelike patentaansoek kan gewoonlik ingedien word met die minimum vertraging, onder andere aangesien aansprake nie in 'n voorwaardelike spesifikasie vereis word nie.
- Die indiening van 'n voorwaardelike patentaansoek verseker 'n prioriteitsdatum, sowel nasionaal as internasionaal, ingevolge die Parys Konvensie.
- 'n Voorwaardelike aansoek bied 'n geleentheid vir 'n ondersoek van die nuutheid, tegniese meriete, en handelsvooruitsigte van die uitvinding voordat verdere patenteringskostes aangegaan word.
- Ontwikkelings en verbeterings wat geskied ná indiening van die voorwaardelike patentaansoek kan in 'n latere aansoek gedek word.
Volledige Patentaansoek
Die indiening van 'n volledige patentaansoek in die eerste instansie, in plaas van 'n voorwaardelike patentaansoek, is slegs raadsaam indien die aansoeker heeltemal tevrede is dat die uitvinding vervolmaak is en dat verdere verbeterings of modifikasies daarvan onwaarskynlik is. In 'n volledige spesifikasie moet die uitvinding en die wyse waarop dit toegepas gaan word volledig beskryf word, en ten minste een metode bekend aan die uitvinder om die uitvinding uit te voer moet beskryf word. 'n Volledige aansoek w in die eerste instansie ingedien word, word so ingedien sonder 'n aanspraak op prioriteit. Die effektiewe datum is die datum van inlewering van die aansoek.
Nuutheid Soektogte
Dit word aanbeveel om soektogte uit te voer voordat 'n patent aansoek, hetsy voorwaardelik of volledig, ingedien word. 'n Skending-soektog moet vasstel of ontginning van die uitvinding op 'n vorige patent in Suid-Afrika wat deur 'n ander persoon besit word inbreuk sal maak. 'n Skendingsoektog is raadsaam voordat groot kapitaalkoste aan die begin van die ontginning van 'n uitvinding aangegaan word. 'n Nuutheidsoektog word gedoen om vas te stel tot watter mate die uitvinding nuut, en dus patenteerbaar is. Sodanige soektogte moet, namate kostes te bespaar, gedoen word voordat patentaansoeke op 'n groot skaal in ander lande ingedien word.
Termyne en handhawing van patent
Die termyn van 'n patent is 20 jaar vanaf die datum van indiening. In die geval van 'n volledige aansoek is dit die datum waarop 'n aansoek vir die patent by die patentkantoor ingedien word. Om 'n patent in stand te hou moet jaarlikse hernuwingsgelde betaal word vanaf die derde jaar na indiening van die patentaansoek. Versuim om die hernuwingsgelde betyds te betaal, lei tot die verval van die patent.
Oorsese Patente
'n Patent wat in Suid-Afrika toegestaan word, verleen regte slegs in Suid-Afrika, en nie in enige buurlande, of in enige ander land in die wêreld nie. Indien patentbeskerming vir die uitvinding in enige land buite die RSA vereis word, moet afsonderlike patentbeskerming in daardie land verkry word. Dit geskied normaalweg deur 'n aparte patentaansoek in elke land waarin beskerming verland word of deur 'n streeks- of 'n PCT-patentaansoek. Daar kan in tersaaklike gevalle op prioriteitsvoordele onder die Parys Konvensie aanspraak gemaak word. Alhoewel 'n PCT aansoek bekend staan as 'n "Internasionale patent aansoek" word dit nooit 'n goedgekeurde patent nie is dit dus nooit afdwingbaar nie. Daar bestaan nie iets soos 'n enkele, internasionale patent nie. Die PCT aansoek behou slegs die aansoeker se regte om uiteindelik in alle lidlande van die PCT patente te kry. 'n PCT aansoek verleng egter die tydperk waarbinne aparte aansoek in elkeen van die PCT lidlande ingedien moet word met tot 19 maande. Tydens die PCT proses word daar ook 'n tegnologie soek en eksaminering van die aansoek gedoen wat die aansoeker 'n goeie indikasie gee van die moontlike kans om goedgekeurde patente in ander, eksaminerende lande te kry.
Suid Afrika is al sedert 1999 lid van die PCT.
Die volgende is 'n rowwe indikasie van die kostes van patentaansoeke op die verskillende stadiums wat bo verduidelik word:
Voorwaardelike patent aansoek: ± R 9 000
Voorbereiding en indiening van 'n PCT aansoek (binne 12 maande van die indiening van die voorwaardelike aansoek): ± R 40 000
Nagaan van PCT Soektog-verslag: ± R 15 000
Indiening van PCT nasionale fase aansoek sowat 30 maande na die indiening van die voorwaardelike aansoek: ± R 50 000/land
Wetgewing
Suid-Afrikaanse Wet op Patente No. 57 van 1978 | Wet op Planttelersregte No. 15 van 1976
Biotegnologie en Patente 1
Wat is nie patenteerbaar nie?
- 'n Ontdekking
- Variëteite van plante en diere (nie-GM)
- Enige essensiële biologiese prosesse vir die produksie van diere of plante, wat nie 'n mikro-biologiese proses is nie
- Metodes van behandeling wat beoefen word op die menslike of dierlike liggaam
1Boedapest Verdrag 1977
Wat is patenteerbaar?
- Nielewende entiteite
DNA, rekombinante DNA, RNA, promotors, plasmiede, vektors, peptiede, proteïne, teenliggaampies - Lewende Entiteite
GMO-organismes, plant- en dierkulture - Toepassing: Gebruik van mikro-organismes, aanwending van 'n biologiese molekule; mengsels; komposisies
- Metodes van vervaardiging
Programmatuur
- Programkode as sulks is nie patenteerbaar nie, maar word beskerm deur outeursreg.
- Bloot omdat 'n uitvinding egter deur middel van 'n rekenaar of sagteware beoefen word sluit dit egter nie patenteerbaarheid uit nie. As die programmatuur 'n "tegniese effek" het kan die uitvinding nog steeds patenteerbaar wees. Advies moet altyd in hierdie opsig ingewin word.
Erkenning:
WIPO (World Intellectual Property Organisation)
Intellectual Property and Biotechnology: A Training Handbook
Adams & Adams Patent Prokureurs
Gerard Verhoef
