Planttelersregte 1
Planttelersregte word tot ʼn groot mate op dieselfde manier as patente gehanteer. Daar is egter verskeie belangrike verskille, soos kortliks hieronder uiteengesit
Tydperk van beskerming
ʼn Planttelersreg word in die geval van wingerdstokke en bome vir 25 jaar toegestaan, en in alle ander gevalle vir 20 jaar.
Jaarlikse hernuwingsgeld is betaalbaar, soos in die geval van patente.
Suid-Afrika is ʼn ondertekenaar van die UPOV Konvensie van 1978 (Internasionale Konvensie vir die Beskerming van Nuwe Variëteite van Plante). Planttelersregte in Suid-Afrika word ook ingevolge die Wet op Planttelersregte No. 15 van 1976 gereguleer.
Registrasie
Soos met patente moet daar by die Registrateur van Planttelersregte om ’n planttelersreg aansoek gedoen word, en spesifieke voorwaardes geld in hierdie verband.
Vereistes vir die registrasie van ʼn variëteit as ʼn planttelersreg
- Nuut
Ten einde aan die nuutheidsvereiste te voldoen, moes die variëteit nie aan die kommersiële mark beskikbaar gestel gewees het nie vir ’n tydperk van een jaar in die geval van Suid-Afrika; ’n tydperk van ses jaar in die geval van bome en wingerdstokke in soverre dit in ’n konvensieland beskikbaar gestel is of ʼn tydperk van vier jaar in alle ander gevalle in soverre dit in ’n konvensieland beskikbaar gestel is. - Onderskeibaar
Die variëteit moet duidelik van bestaande variëteite van dieselfde soort onderskei kan word. - Uniform
’n Bepaalde eienskap van die variëteit moet binne die normale perke van variasie te alle tye in die variëteit voorkom. - Stabiel
Die variëteit moet stabiel wees in die sin dat bepaalde eienskappe van die variëteit tydens vermeerdering te alle tye teenwoordig sal wees.
Regte
Soos met ’n patent verleen ’n planttelersreg aan die eienaar daarvan die reg om die variëteit te produseer, te vermeerder, te verkoop en in of uit te voer. Hierdie reg geld ook ten opsigte van variëteite wat van die geregistreerde variëteit afgelei is, maar nie noodwendig onderskeibaar is nie.
1Wet op Planttelersregte No. 15 van 1976
