skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 10de uitgawe - 3 Junie 2011

    SOEK 

InnovUS e-nuus 10de uitgawe
Vrydag, 3 Junie 2011

SWET bring winde van verandering

Stellenbosch Windenergietegnologieë (SWET) is een van die jongste afwentelmaatskappye wat met die hulp van InnovUS gestig is. SWET spesialiseer in die ontwikkeling en vervaardiging van klein windturbines gemik op boere, kleinsake- en residensiële eienaars.

SWET is in 2011 by die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch deur Abri Stegmann, prof. Maarten Kamper en dr. Rong-Jie Wang gestig. InnovUS het 'n 40% aandeelhouding in SWET en het steun aan die maatskappy verleen ten opsigte van patent- en maatskappyregistrasie en ook aanvangsbefondsing. Philip Marais, deeltydse besigheidsontwikkelaar,  verteenwoordig InnovUS in SWET en hy sal voortgaan met die werwing, regs- en strategiese aspekte en patentering  van die maatskappy.

SWET is in Stellenbosch gevestig. Daar huur hulle 'n perseel in die Universiteit se Instandhoudingsgebou waar hul produkte vervaardig word. Alle kragopwekkers word by die Universiteit se elektriese masjinerie- laboratorium getoets. Die maatskappy se kantore wat op dieselfde perseel geleë is, oefen die nodige beheer oor die toetsproses uit.

"SWET se visie is om die toonaangewende klein windturbinevervaardiger in Suid-Afrika te word," sê Abri Stegmann, hoof- uitvoerende beampte van SWET. Die maatskappy se eerste projek, 'n permanente magneetwindturbine wat bekend staan as die Stormer™, wek energie van 6.6 kW op. In September 2010 is 'n aansoek om 'n Patente Samewerkingverdrag vir die lugkern-dubbelrotortegnologie wat in die Stormer™ gebruik word, ingedien. 'n Besluit oor watter internasionale lande ingesluit gaan word, sal voor Maart 2012 geneem word.

Bykomend daartoe is SWET ook in vennootskap met Otto Solar, 'n maatskappy in Upington wat die Stormer™-opwekkers koop en op plase in Suid-Afrika installeer. "SWET beoog egter om in die toekoms die hele windturbinestelsel te beplan en te vervaardig en regstreeks vir sy kliënte te installeer," sê Abri.

Toekomstige projekte wat vir SWET beplan word, is die kommersialisering van die split permanente magneetinduksie-kragopwekker (S-PMIG), 'n modulêre magneetopgewekte induksiesinchrone kragopwekkerkombinasie. SWET gaan poog om 'n 15 kW weergawe van die S-PMIG-tegnologie te ontwikkel. 'n Voorlopige patent vir die S-PMIG-tegnologie is in Augustus 2010 ingedien. SWET se langtermyndoel is om die Stormer™ en S-PMIG-produkte internasionaal te bemark en te verkoop.

Eiewys blinkbreine leer by kundiges 

Wil jy meer weet oor al die uitdagings wat navorsing bied as sulks, hoe om die toepassingsmoontlikhede  van navorsingsuitsette te identifiseer en oor hoe om jou navorsingsuitsette en/of gevolglike tegnologieë in 'n lewensvatbare onderneming om te skakel?  Dan is die geleentheid om na diegene wat alreeds die pad gestap het te luister en van hulle te leer net die regte ding om te doen. Dit is waarom InnovUS op Woensdagaand 11 Mei 2011 die tweede sessie in hul reeks oor Entrepreneuriese Mavericks aangebied het. Personeellede en studente van die fakulteite Natuur- en Agriwetenskappe is uitgenooi na hierdie spesiale "fliekaand" met springmielies en koeldrank in die rolprentteater in die Langenhoven Studentesentrum (Neelsie). 

Prof. Jens Kossmann van die Departement Genetika en die Instituut van Plantbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch; Saberi Marais, besigheidsontwikkelaar by InnovUS; dr. Reinhard Hiller, besturende direkteur van die Sentrum vir Protonomiese en Genomiese Navorsing (CPGR) en dr. Eugene Smit van die Departement Chemie aan die Universiteit van Stellenbosch en die HUB van die Stellenbosch Nanoveselmaatskappy, het aan die entrepreneurs vertel van die lesse wat hulle geleer het en watter steun vir navorsers beskikbaar is.

"InnovUS, die Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy, ondersteun innovasie en die kommersialisering van idees. Dit help uitvinders met blink idees om by die markplek uit te kom en konsentreer spesifiek op patente, sakeplanne, maatskappystigting, regs-en belastingkwessies en die oorbrugging van die gaping tussen navorsing en die markplek deur die ervaring van leiers op hul onderskeie areas bymekaar te bring," sê Saberi.

Prof. Kossmann het die gehoor van sy navorsingservaring vertel en hoe hy die produk voortvloeiend uit sy navorsing na die mark geneem het. 'n Navorsingsprojek waaraan hy deelgeneem het, naamlik oor die molekulêre ontleding van die omsetting van stysel in transgeniese aartappelplante, is uiteindelik aan Bayer Crop Science Ltd. verkoop. Lees meer oor prof. Kossmann.

Dr. Smit het aan die gehoor vyf wenke gegee oor hoe om hul navorsing in suksesvolle sakeondernemings om te skakel: (1) Moenie te gou jou idee bekendmaak nie; (2) leer ken die sakesektor wat jy wil betree; (3) lisensieer jou tegnologie; (3) maak gereed om sake te doen sodra jou produk in die mark bekend gestel word, en (5) benut netwerke voortdurend.

Dr. Hiller het 'n oorsig gegee van die dienste wat CPGR aan US-navorsers kan bied. Kliek hier vir meer inligting.

  • Wees op die uitkyk op die InnovUS-webwerf onder Nuus en Gebeure vir die volgende Maverick-geleentheid wat vir 3 Augustus 2011 om 17:00 by die Fakulteit Gesondheidwetenskappe op die Tygerberg-kampus beplan word. 

Die dryfkrag van 'n droomspan

Wat het 'n wêreldreisiger, kranige drawwer, bonsai-kundige, ywerige kok, amateurgholfer, en 'n geesdriftige bergfietsryer in gemeen? Hulle is die dryfkrag agter InnovUS Technology Transfer (Edms.) Bpk., die Universiteit Stellenbosch se volfiliaal-oordragmaatskappy. Heelwaarskynlik het jy al hul professionele profiele op hul webwerf gelees, maar laat ons agter die kap van die  byl kom buite kantoorverband.

Anita Nel is nie net die energieke hoof- uitvoerende beampte van InnovUS nie, maar sy is ook 'n wêreldreisiger. Ten spyte van haar woeste skedule, bestee sy soveel tyd as moontlik aan haar man en twee dogtertjies. Tuis sal jy haar nooit in 'n paar tuinhand-skoene sien nie, want sy ontspan eerder met 'n boek deur 'n Sweedse skrywer of kyk fliek. Rustige oomblikke soos hierdie is egter so skaars soos hoendertande. "Van die interessantste dinge wat ek al ervaar het, was om gewigloos te wees tydens 'n paraboliese vlug in 'n Ilyushin Il-76-straler buite Moskou; om in Baikonour in Khazakstan die lansering van 'n Soyuz-ruimtetuig te sien, en om lande te besoek waar McDonalds eenvoudig net nie 'n oorweging is nie," sê Anita.

Venessa Williams is die HUB se administratiewe beampte en persoonlike assistent. Sy het in September 2008 by InnovUS aangesluit en volgens haar is sy versot op haar werk in hierdie stimulerende omgewing. Sy is tans besig om 'n kursus as gesertifiseerde professionele sekretaresse te voltooi. In haar vrye tyd neem sy saam met haar man aan padlope deel.

Doris Peters, InnovUS se assistent vir intellektuele eiendom en finansies, is al vir 'n dekade deel van die InnovUS-span. Sy bied ondersteuning aan die hele span en is tans besig om 'n kursus in entrepreneurskap te voltooi. Sy geniet dit om tyd saam met haar man Sean, met wie sy nege jaar getroud is, deur te bring. "Daar is niks so lekker as die samesyn met familie en vriende nie, veral as jy 'n bottel goeie Kaapse wyn kan oopmaak. Haar drie honde, Zet, Noah en Mitzi kry baie aandag by haar huis in Bellville. Sy lees graag avontuur- en liefdesverhale, is 'n ervare bonsai-kweker en ontwikkel tans haar fotografiese vaardighede.

Carol Kat is InnovUS se outeursregbeampte en administrateur van die kortkursusafdeling. Sy woon in Stellenbosch saam met haar man, Johan, en twee dogters, Chanel (20) en Caitlin (18). Haar gesin en werk hou haar tans op haar tone, maar voorheen het sy ultramarathons soos die Comrades en Two Oceans gehardloop. Vandag verkies sy eerder lang staptogte saam met goeie vriende. Hierdie liefde vir die buitelug lei ook daartoe dat sy baie gaan stap met haar twee honde in Stellenbosch se wingerde en sy skoffel graag in die tuin. Sy ontspan heerlik met 'n boek of kyk na rolprente oor die Tweede Wêreldoorlog. Sy berei graag ryk bredies en pastageregte vir familie en vriende voor.  

Saberi Marais vertel grappenderwys dat hy onlangs eers geleer het hoe om 'n gholfbal raak te slaan, maar eintlik hou hierdie InnovUS-besigheidsontwikkelaar baie van sport en die buitelewe. Hy het tot onlangs aan 'n Wes-Kaapse stapklub behoort en sê hy kan nie wag dat die Springbokke die Webb Ellis-trofee by vanjaar se rugbywêreldbekertoernooi wen nie. Sy gesin is kosbaar vir hom; hy ondersteun sy vrou om haar PhD te voltooi en moedig sy seun aan om die beste Lego-bouer in die buurt te wees. As daar 'n kansie kom, lees hy graag en hy beveel Zoo City deur Lauren Beukes – tans op sy bedkassie – ten sterkste aan.

Philip Marais, deeltydse besigheidsontwikkelaar by InnovUS voel baie sterk oor twee dinge in sy lewe: sy geloof en sy gesin. "Jesus is die oorheersende passie in my lewe. Ek begeer om Hom beter te leer ken en om meer soos Hy te word," sê Philip. Hy voeg by dat hierdie verhouding alle aspekte van sy lewe beἳnvloed en dit moedig hom aan om sy gesin nog meer te waardeer. In sy vrye tyd is hy 'n geesdriftige bergfietsryer en naweke kry jy hom gewis op sy bergfiets. Hy hou van die buitelewe en woon op Somerset-Wes.

En hierin lê die waarheid en krag van die InnovUS-span: hul interessante diversiteit en passie vir alles wat hulle doen, of dit tuis, in die kantoor of in die wêreldarena is.

InnovUS brei uit na nuwe kantoorspasie

Die bou van splinternuwe kantoorruimte vir InnovUS is goed op dreef en sal volgens beplanning teen die middel van Junie vanjaar klaar wees volgens die projekbestuurder, Hennie Kleynhans. Die nuwe geriewe wat 150 m2 kantooroppervlakte by die bestaande InnovUS-kantore voeg, behels 'n konferensielokaal, oopplan-kantoorruimte vir 12 mense, 'n patio met braaigeriewe asook nuwe badkamers en 'n stort.
Die oopplan-kantoorruimte sal vir nuwe personeellede en interne assistente aangewend word. Baie van hulle begin op 1 Julie vanjaar by InnovUS werk.

Die nuwe deel sal by die bestaande InnovUS-kantore aansluit via 'n gang wat deur die huidige badkamer loop. Ten einde kontinuïteit tussen die ou en nuwe dele te behou, is baie van die afwerkings soos die groen mure en die klipinlegwerk op die vloere, ook in die nuwe deel geïnkorporeer.

"Dit was wonderlik om saam met die InnovUS-span aan hierdie projek te werk, want hulle het soveel goeie idees en hulle is regtig opgewonde oor die projek. Ons het ook ten nouste met Chandré van Heerden van US Fasiliteitsbestuur saamgewerk; dit was regtig 'n goeie werksverhouding," sê Hennie.

In pas met InnovUS se groen etos, het die nuwe kantoorruimte fotovoltaïese panele op die dak, waardeur elektrisiteit aan die gebou verskaf word, asook 'n sonkrag-warmwatersilinder. "Daar is ook isolasiepanele in die dak om die hitte binne te hou in die winter en die gebou koel te hou in die somer," sê Hennie.

Werk aan die nuwe kantoorruimte het verlede jaar in November begin en die konstruksiemaatskappy Newman en Seun het op 'n bekwame wyse die projek ook deur sy finale fases bestuur. Daar was tog 'n paar struikelblokke op die pad. 'n Suurlemoenboom op die grond waar die uitbreidings gebou moes word, is verskuif na 'n nuwe plek langs die patio aan die onderpunt van die gebou. "Ons het raad gekry by tuinspesialiste oor hoe om die boom te verplant en het dit met afskortings beskerm gedurende die konstruksieproses. Dit is fyn dopgehou, en ek moet sê, die boom groei fluks," lag Hennie.

Verbeteringe aan die kantoorruimte behels ook die installering van 'n veiligheidshek en 'n getal parkeerruimtes vir InnovUS se personeel. Die InnovUS-span gaan binnekort besoekers by hul nuwe kantore in De Beerstraat 15 verwelkom. Hou hierdie ruimte dop!

Steun vir US-navorsers

By die Sentrum vir Proteomiese en Genomiese Navorsing (CPGR) aan die Universiteit Kaapstad geniet US-navorsers nou toegang tot gratis steun met die ontwerp en voorbereiding  van hul projekte. Op 11 Mei 2011 het dr. Reinhard Hiller, direkteur: CPGR, gaste toegespreek tydens die jongste InnovUS Entrepreneuriese Maverick-sessie en by hierdie geleentheid alle US-navorsers uitgenooi om van die Sentrum se dienste gebruik te maak.

Dr. Hiller verduidelik dat die CPGR se kernfunksies is om biologiese monsters met  behulp van 'n genomiese en proteomiese toepassings te verwerk; om die data wat gegenereer word, te ontleed, en om kliënte op te lei in een of meer van die tegnologieë of werkvloei wat die CPGR aanbied. "Die opleiding is spesifiek daarop gerig om navorsers in Genomika, Proteomika en Bioinformatika te bemagtig in wat vereis word om komplekse genomiese en proteomiese data te genereer, te ontleed en te interpreteer," sê dr Hiller. "En dit alles word gedoen teen die agtergrond van 'n portefeulje van gesofistikeerfde werkvloei wat saamgevoeg kan word om in 'n navorser se individuele behoefte te voorsien."

Volgens dr. Hiller baat navorsers by die oplossings wat die CPGR bied omdat dit gerieflik gelokaliseer en in een plek beskikbaar is; dit is toeganklik ten opsigte van ondersteuning, aanwending en opleiding. Die CPGR handhaaf 'n baie hoë standaard van gehalte en is baie aanpasbaar omdat die CPGR kan kies uit, of verskillende maniere van werkvloei kan kombineer om oplossings te genereer om in projekvereistes te voorsien.  

"Hierdie oplossings is ook bekostigbaar," sê dr. Hiller. "Aan die begin van hierdie boekjaar het ons 'n nul-betalingsmodel vir akademiese wetenskaplikes in Suid-Afrika in werking gestel om innovasie te stimuleer. Ons vra nie diensgeld vir die werk wat ons doen nie; die enigste koste vir die navorser is die koste van reageermiddels en verbruiksgoedere wat navorsers in elk geval sou moes betaal as die werk in hul eie laboratoriums gedoen word." Die CPGR plaas ook sterk klem op groot, geïntegreerde en multidissiplinêre projekte wat op 'n samewerkingsgrondslag gedoen word. Die doel hiervan is om ontwikkeling in komplekse biologiese en biomediese gebiede soos ontwikkeling van geneesmiddels en biomerkerontdekkings, te stimuleer.

Nadat navorsers 'n versoek aan die CPGR gerig het, word leiding aan hulle verskaf met 'n gestruktureerde projekvoorbereiding en studieontwerpproses. Hierdie proses het ten doel om wetenskaplike vrae te formuleer wat die beskikbare hulpbronne soos biologiese monsters, wetenskaplike kundigheid, tegnologieë en werkvloei op 'n doeltreffende en oplossingsgerigte wyse te benut. Daarna skenk die CPGR oorweging aan 'n samewerkende benadering en volg 'n reeks gehaltegedrewe eksperimentele prosedures totdat 'n stel onverwerkte data gegenereer word en 'n analitiese verslag voorberei kan word.

"In reaksie op kliënte se vereistes kan onverwerkte data verder ontleed word met behulp van CPGR se interne bioberekeningspyplyne," sê dr. Hiller. "Data word gewoonlik in 'n ingefaseerde en iteratiewe terugvoering-lus gedoen om 'n behoorlike vloei van inligting tussen wetenskaplikes en bioinformatici te verseker ten einde betekenisvolle resultate te lewer. Die hele proses is baie interaktief en is so ontwerp om die maksimum waarde uit biologiese monsters en navorsingsvrae te put."

"Ons volg ook 'n entrepreneursbenadering by die ontwerp en beplanning van projekte. Ons skenk nie net aandag aan wetenskaplike aspekte nie. Ons poog om bio-entrepreneurs en nie net wetenskaplikes te help nie." Hy voeg by dat veral ten opsigte van groot projekte, die CPGR verskillende maatstawwe gebruik waaronder die markpotensiaal van die verwagte uitkoms van 'n projek; die ontwikkelingskoste van die verwerkte navorsing, en die moontlike kanale en vennote vir die bekendstelling van nuwe dienste of produkte in die mark as die projekte geassesseer word.

Ten einde entrepreneurskap, 'n sleutelaandrywer vir die ontwikkeling van 'n bio-ekonomie in Suid-Afrika, te bevorder, wil die CPGR 'n bemagtigende omgewing skep waar navorsers kan floreer deur gelyktydig hoë gehalte wetenskap te genereer en hul idees, konsepte en data deur prototipering, marktoetse en kommersialisering te verfyn.

Vir verdere inligting oor wat die CPGR bied en hoe om hulle te skakel vir steun, besoek hul webwerf by www.cpgr.org.za of tree met dr. Hiller by reinhard.hiller@cpgr.org.zain verbinding.


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University