skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 11de uitgawe - 12 Augustus 2011

    SOEK 

InnovUS e-nuus 11de uitgawe
Vrydag, 12 Augustus 2011

US sluit lisensiëringsooreenkoms met toonaangewende biotegnologie-maatskappy

Met die hulp van InnovUS het die Universiteit Stellenbosch se Departement Genetika 'n eksklusiewe ooreenkoms aangegaan met Genetwister Africa, 'n biotegnologie-maatskappy wat dienste aan die landbousektor lewer. Ingevolge hierdie ooreenkoms sal Genetwister verantwoordelik wees vir die kommersiële toetsing van spesifieke virusse wat algemeen in sagtevrugte voorkom. Die Universiteit het die baanbrekerswerk vir die diagnostiese protokol gedoen wat op groot skaal deur Genetwister getoets sal word. “Daar word gehoop dat hierdie ooreenkoms die grondslag vir soortgelyke lisensies in die diagnose van plantvirusse in die toekoms sal lê,” sê dr. Reinette Champanis, hoof- uitvoerende beampte van Genetwister Africa.

Die ooreenkoms is die resultaat van 'n toenemende vraag vanuit die landbousektor na diagnostiese toetse vir plantvirusse. Hoewel die US se Departement Genetika in staat is om nuwe diagnostiese toetse te ontwikkel, beskik hulle nie oor die nodige kapasiteit om geweldige hoeveelhede plantmonsters te toets nie. Na gesprekke tussen professor Johan Burger, hoof van die US se Departement Genetika, en dr. Champanis, 'n voormalige student aan die Universiteit, is 'n ooreenkoms bereik waarvolgens die diagnostiese protokol vir spesifieke virusse na Genetwister gestuur sal word vir kommersiële aanwending. Die US se Departement Genetika het InnovUS genader om hulp te verleen met die fasilitering van die gesprekke en die ooreenkoms oor die lisensie. “Ons het 'n paar keer met Genetwister vergader, 'n lisensie-ooreenkoms bereik en verseker dat die lisensie suksesvol verkry is,” verduidelik InnovUS se besigheidsontwikkelaar, Saberi Marais.

Die voordele vir die US se Departement Genetika en Genetwister is duidelik. “Dit is belangrik dat ons navorsingsresultate nuttig in die bedryf aangewend word, en hierdie ooreenkoms is 'n voorbeeld van 'n suksesverhaal. Dit het alles as 'n nederige honneursprojek begin en nou gaan dit in die bedryf bekend gestel word,” sê prof. Johan Burger. “Dit is 'n baie opwindende ontwikkeling,” voeg dr. Champanis by. “Die landboubedryf is nie altyd bewus van die tegnologie wat beskikbaar is nie, en ek hoop hierdie ooreenkoms sal die begin wees van 'n nuwe momentum om gevorderde tegnologie regstreeks na die boer te bring.”

Hoewel die betrokke toets algemeen gebruik word om patogene op te spoor, is dit juis sy spesifisiteit en toepassingsmoontlikhede wat dit baie opwindend maak. “Die diagnostiese toets is spesifiek ontwerp en verfyn om 'n paar virusse wat vrugtebome in die plaaslike industrie besmet, op te spoor. Dit maak dit 'n ‘eerste’ vir Suid-Afrika,” verduidelik prof. Burger. Die betrokke diagnostiese protokol maak van die polimerasekettingreaksie-tegniek (PCR) gebruik om vir die aanwesigheid van virusse te toets. Die vrugte word eers in klein stukkies gesny en in vloeibare stikstof gevries. Dit word dan tot 'n fyn poeier gemaal en aan 'n nukleïensuur-onttrekkingsproses onderwerp om die ongewenste plantmateriaal te verwyder, waarna daar met die PCR-proses begin kan word. Die genetiese kode van die teikenvirus word in DNS omskep, wat dien as 'n templaat vir selektiewe amplifikasie deur middel van afwisselende temperatuursiklusse en die gebruik van spesifieke ontstekers om 'n bespeurbare sein te gee. Die PCR-proses by Genetwister kan die aanwesigheid van die virus bepaal en die viruslading kwantifiseer.

Buiten sy molekulêre biologiese vermoë bied Genetwister ook weefselkultuurdienste, waaronder embrioreddingsprosedures en mikrokweking, wat die ontwikkeling van plantkultivars aansienlik kan versterk en versnel. Genetwister Africa is 'n Suid-Afrikaanse maatskappy met plaaslike en internasionale aandeelhouers en 'n gerekende maatskappy in die globale biotegnologiebedryf. Vir verdere inligting oor die dienste wat Genetwister bied, skakel dr. Reinette Champanis by 021 865 2531 of info@genetwister.co.za.

InnovUS en Kommunity Desk teiken werkskepping 

Werkskepping begin op skoolvlak waar leerders die geleentheid kry om lewensbelangrike vakkeuses te maak met die oog op hul loopbaanvooruitsigte. Die vaardighede wat hulle kan bied, sal hulle in staat stel om beter werkgeleenthede te bekom. So glo Kommunity Desk – 'n inisiatief wat tans parallel met Tutudesk, voorheen bekend as Lapdesk van stapel gestuur word – vas. En dit is waarom InnovUS 'n lisensiëringsooreenkoms aangegaan het tussen Kommunity Desk en die Universiteit van Stellenbosch as die intellektuele-eiendomsbesitter van KODUS, 'n psigologiese belangstellingsvraelys.

Professor Johann Meyer het die KODUS-vraelys in 1980 as 'n psigometriese instrument vir leerders en studente ontwikkel. Hy was op daardie tydstip 'n studenteberader aan die Universiteit van Stellenbosch, en dus is KODUS tans die Universiteit se intellektuele eiendom. In 2010 het een van professor Meyer se vorige studente hom geskakel oor die gebruik van die vraelys deur onderwysers en nie slegs deur opgeleide sielkundiges nie.

Gevolglik het InnovUS begin met die gratis fasilitering van Kommunity Desk se lisensiëringsproses. Volgens Anita Nel, InnovUS se hoof- uitvoerende beampte, is dit gedoen om die projek teen die laagste moontlike koste bekend te stel. “Dit is net nog 'n voorbeeld van hoe die Universiteit se tegnologie 'n verskil kan maak in die lewens van die gemeenskap as geheel en hoe InnovUS die gebruik van die Universiteit se intellektuele eiendom tot voordeel van die mense van Suid-Afrika kan aanwend,” sê Anita.

“Hierdie inisiatief sonder winsbejag is in pas met die Universiteit se Hoop-projek,” aldus professor Meyer, wat sedert sy aftrede in 2007 'n private praktyk as voorligtingsielkundige bedryf en in beroepsvoorligting en menslikehulpbron-ontwikkeling spesialiseer. Hy sal as konsultant optree vir die projek wat volgens hom 'n wonderlike inisiatief is.

En hy is nie die enigste een nie. Kommunity Desk staan ook onder beskerming van aartsbiskop Desmond Tutu wat glo die projek “verskaf 'n unieke, praktiese en innoverende oplossing vir leerders en onderwysers, asook onderwysministeries in 'n bewese werksprogram wat beide tersaaklik en waardig is, en 'n beter geleentheid bied om sukses te behaal in die opvoedkundige opheffing van al die begunstigdes”.

Volgens Gavin Launder van Kommunity Desk word daar geraam dat ongeveer 70% hoërskoolleerders kritieke keuses ten opsigte van loopbaanvooruitsigte maak sonder enige gekwalifiseerde en regstreekse intervensie van hul onderwysers of ouers. “As ons billike indiensneming en die uitdagings van werksmag-vaardighede in Suid-Afrika suksesvol wil aanpak, moet ons onmiddellik op beroepsvoorligting in ons skole fokus,” sê Gavin. “Ingeligte keuses móét eenvoudig op skoolvlak begin as 'n strategiese en proaktiewe intervensie vir Suid-Afrika se vaardigheidsuitdagings as ons hoop om 'n inklusiewe ekonomie te bou en die speelveld gelyk te maak, ook op 'n globale vlak.”

Hy verduidelik dat Kommunity Desk met dit inagneming nou die Kommunity Career Handbook, wat KODUS insluit, saamgestel het as 'n aanlegtoets en noodsaaklike gids vir studente en skole. Die handboek geniet die ondersteuning en onderskrywing van die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys en verskaf omvattende bykomende inligting oor loopbane, beurse, tersiêre en tegniese studiemoontlikhede, asook belangrike inligting oor lewensvaardighede. Die Kommunity Career Handbook word gratis aan alle hoërskoolleerders beskikbaar gestel.

Gavin verduidelik dat dit moontlik gemaak word deur Kommunity Desk se korporatiewe vennote wat die talentvolste studente in Suid-Afrika werf. “Ons fasiliteer hierdie proses deur ons korporatiewe vennote eksklusiewe toegang tot ons nasionale databasis van leerders te bied, en help hulle so met hul menslikehulpbron-ontwikkeling deur mededinging vir hierdie leerders te verminder,” sê Gavin. “Hierdie interaksie sluit onder andere in toekenning van beurse, leerderondersteuning en vroeë loopbaanidentifisering.”

Die MNR en die Universiteit Stellenbosch sluit ooreenkoms met VSA-maatskappy vir antiliggaam teen  kanker van die eierstokke

'n Monoklonale antiliggaam teen kanker van die eierstokke wat deur dr. Hanne Veenstra by die Mediese Navorsingsraad (MNR)/Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Molekulêre en Sellulêre Biologie ontwikkel is, is gelisensieer aan 'n navorsingsmaatskappy in Colorado, VSA. Die antiliggaam, bekend as SM047, verbind met 'n epitoop op 'n multivalente antigeen wat met die glikoproteïene (glikokaliks) van karsinoomselle in die eierstokke en 'n beperkte verskeidenheid ander kwaadaardige en normale weefsel geassosieer word. “Hierdie nie-eksklusiewe lisensieooreenkoms is geïnisieer deur die MNR se Innovasiesentrum wat met die maatskappy oor die lisensie onderhandel het. Ten opsigte van laasgenoemde het InnovUS waardevolle insette tot die lisensiëringsooreenkoms gelewer,” sê dr. Michelle Mulder, Bestuurder: Intellektuele Eiendom en Sakeontwikkeling by die MNR se Innovasiesentrum. 

Kanker van die eierstokke (OvC) is een van die mees behandelbare soliede gewasse bekend; ongeveer 75% van alle gevalle word egter eers in die later stadia gediagnoseer, wanneer dit baie moeiliker is om te behandel. Huidige diagnostiese metodes vir OvC is oor die algemeen duur, ingrypend of niespesifiek. Die beperkinge van die OvC-toets wat die algemeenste vir die bespeuring van hierdie siekte gebruik word, die CA 125-toets, word wyd aanvaar. Hierdie beperkinge geld veral in die vroeë stadiums, en behels ook sy lae sensitiwiteit en spesifisiteit. 

'n Klein eksperiment by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad waar die SM047-gebaseerde diagnostiese toets met die welbekende CA125-tumormerker vergelyk word, toon positiewe resultate. Hoewel verdere toetsing op 'n groter getal monsters vereis word, is die vroeë aanduiding daar dat SM047 'n potensiële geleentheid vir die ontwikkeling van 'n meer sensitiewe en spesifieke diagnostiese toets vir OvC verteenwoordig. 

Hoewel die huidige lisensieooreenkoms nie die diagnostiese potensiaal van die antiliggaam behels nie, word daar gehoop dat die beskikbaarheid daarvan as 'n navorsingsmeganisme sal lei tot die bevordering van kennis oor kanker van die eierstokke asook ander soorte kanker, en uiteindelik verbeterde behandeling en diagnose van die siekte tot gevolg sal hê. Die VSA-gebaseerde maatskappy lisensieer, vervaardig en bemark antiliggame om nis- en opkomende navorsingsgebiede te ondersteun. “Die antiliggaam sal nou gevoeg word op sy lys produkte wat aan navorsers regoor die wêreld beskikbaar gestel word,” aldus dr. Mulder.

Studente mag nie IE “verkoop” nie

Studente is nie die eienaars van enige intellektuele eiendom (IE) wat gedurende die loop van hul studie aan die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel is nie. Dit beteken dat hulle nie in ruil vir 'n beurs hul IE aan 'n maatskappy kan oordra nie.

Daar was onlangs 'n paar gevalle waar maatskappye beurse aan studente verskaf het en as deel van die ooreenkoms met die studente, die IE geëis wat as deel van die studente se studie ontwikkel is. Hierdie soort ooreenkoms is om verskeie redes onwettig:

  • Wanneer 'n student 'n beurs vir studie aan 'n erkende akademiese inrigting ontvang, is die bedrag wat ontvang word belastingvry in die hande van die student, volgens Charles de Wet, belastingvennoot by PricewaterhouseCoopers.  “Die doel van 'n beurs is om akademiese studie te finansier, wat daarop gemik is om die intellektuele vermoë van 'n individu te verhoog, en nie om 'n diens aan 'n maatskappy te lewer nie,” verduidelik hy. “Praktyknota 17, uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in Maart 1993 [daarna gevolg deur 'n konsepvertolkingsnota], meld dat wanneer 'n persoon navorsing namens 'n ander party onderneem, die betaling belasbaar is. Dit sal egter net geld in die geval van iemand wat deur 'n maatskappy betaal word om spesifieke navorsing aan 'n universiteit te onderneem, met ander woorde, hy of sy sal 'n salaris van die maatskappy ontvang, en nie 'n studiebeurs nie.”
  • Ingevolge die Intellectual Property Rights from Publicly Financed Research and Development Act (Wet op Intellektuele Eiendomsregte van Openbaar Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling), Wet 51 van 2008, of die IPR-wet, behoort navorsing wat deur die staat gefinansier word, aan die Universiteit. Dit geld as die borgskap nie die volle koste van die navorsing beloop nie. 'n Beurs beteken nie volkoste-navorsingsfinansiering nie aangesien universiteitstudie deur die staat gesubsidieer word.
  • Mede-eienaarskap van die IE kan 'n moontlikheid wees, maar ingevolge artikel 15.2 van die Wet bestaan daar voorwaardes hiervoor. Al hierdie voorwaardes moet nagekom word, met inbegrip van artikel 15.2(b) waarvolgens uitvinderskap op die universiteitsvlak en in die maatskappy wat die navorsing finansier, moet geskied.  

“Die IPR-wet onderskryf InnovUS se IE-beleid waarvolgens die student se IE aan die Universiteit behoort, in pas met standaardbeleide oor IE aan universiteite regdeur die wêreld. Aangesien maatskappye gewoonlik beursooreenkomste met die studente aangaan en nie met die Universiteit nie, kan die student nie die IE deur so 'n ooreenkoms oordra nie omdat hy of sy nie die eienaar daarvan is nie,” aldus Anita Nel, InnovUS se hoof- uitvoerende beampte.

Volgens Anita is InnovUS egter oop vir onderhandelinge met maatskappye oor die kwessie van IE en volg die organisasie 'n baie buigsame benadering tot die strukturering van transaksies met maatskappye. “In hierdie verband werk ons werk nou – en baie suksesvol – saam met die Afdeling Navorsingsontwikkeling en het tot dusver nog nie 'n geval gehad waar ons nie 'n geskikte ooreenkoms met 'n belanghebbende maatskappy kon bereik nie,” sê sy.

Innoverende sonskoorsteen-programmatuur nou beskikbaar

Sonskoorsteen-produksie-aanlegte is van besondere belang op die gebied van skoonenergie-opwekking, veral met inagneming van die huidige tendens om die wêreld se afhanklikheid van energie verkry uit die verbruik van fossielbrandstof, te verminder. Dit is dus te verstane dat 'n programmatuur-instrument wat grootskaalse sonskoorsteen-kragaanlegte kan optimaliseer en beheer, uiters waardevol op hierdie gebied blyk te wees. InnovUS bied aan belanghebbende partye die geleentheid om 'n lisensie vir hierdie programmatuur te verkry asook die moontlikheid om met die uitvinder saam te werk.

“Dit is 'n geweldig opwindende innovasie vir ons, veral omdat die invloed van sonenergie al hoe belangriker raak,” aldus Saberi Marais, Besigheidsontwikkelaar: InnovUS. Hy verduidelik dat 'n student aan die Universiteit Stellenbosch die programmatuur onlangs tydens sy studie vir 'n PhD in meganiese ingenieurswese ontwikkel het. “Aangesien hierdie student hierdie innovasie ontwikkel het terwyl hy aan die US gestudeer het, is dit die Universiteit se intellektuele eiendom,” sê Saberi. “En as die Universiteit se volfiliaal-tegnologie-oordragmaatskappy, wil InnovUS die gebruik van lisensies – beskerm deur outeursreg – deur alternatiewe energie aanlegproduksie- en konstruksiemaatskappye op die gebied van sonskoorsteen-aanlegte vergemaklik.”

Saberi verduidelik dat sonskoorsteen-aanlegte van geotermiese fluktuasies gebruik maak om stygende warm lug deur 'n skoorsteen te kanaliseer ten einde turbines aan te dryf wat dan op hul beurt elektrisiteit opwek. Die ontwerp van sonskoorsteen-aanlegte kan problematies wees en die kern van hierdie tegnologiese innovasie is om die doeltreffendste energieproduksie met hierdie spesifieke ontwerp te bereik. “In leketaal beteken dit dat hierdie programmatuur die ontwikkelaars van sonskoorsteen-aanlegte kan help om die ontwerp en bedryf van die aanleg doeltreffender te maak deur die uitset te meet en te beheer,” aldus Saberi.

Kliek hier om met InnovUS in verbinding te tree vir verdere inligting oor hierdie innovasie.

Biosafety Suid-Afrika steun Universiteit Stellenbosch se navorsers

Die werk van twee navorsers aan die Universiteit van Stellenbosch (US), dr. Helet Lambrechts en professor Jens Kossmann, is beloon met die finansiële steun van Biosafety Suid-Afrika, ’n inisiatief van die Departement Wetenskap en Tegnologie en ’n platform vir die Tegnologie Innovasie Agentskap wat gerig is op die bevordering van die ontwikkeling van veilige en volhoubare biotegnologieprodukte. Die navorsingsprojekte is van die eerstes in hulle soort in die internasionale biotegnologie-arena en fokus op risikoverminderingstrategieë (RMS’e), een van die belangrikste aspekte in die beoordeling en bestuur van geneties gemodifiseerde organismes (GMO’s). InnovUS en die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling het ’n integrale rol in die sluit van die navorsingskontrakte gespeel.

Die eerste projek, onder leiding van dr. Lambrechts, 'n senior dosent aan die US se Departement Dierkunde, sal op die ontwikkeling en evaluering van verskillende insluitingstrategieë vir perlemoen fokus. Die beskikbaarheid van doeltreffende insluitingsmaatreëls is 'n belangrike voorvereiste vir ’n moontlike toekomstige navorsings- en ontwikkelingsprogram oor genetiese modifisering op hierdie gebied. Daarbenewens kan metodes wat tydens hierdie projek ontwikkel is, moontlik op ’n verskeidenheid ander akwakultuur-organismes toegepas word.

Die tweede projek, onder leiding van prof. Kossmann, direkteur van die Instituut vir Plantbiotegnologie in die US se Departement Genetika, sal fokus op die ontwikkeling van tegnologieë om cis-genetika (cis is die Latynse term vir “aan dieselfde kant as”) in suikerriet moontlik te maak. Cis-genetika word ook as ’n RMS beskou aangesien dit die produksie van geneties gemodifiseerde plante wat nie enige vreemde DNS bevat nie, moontlik maak. Die projek bied verder ’n geleentheid om die bestaande kennis en begrip van die bioveiligheids- en regulatoriese kwessies wat vir cis-genetika ter saaklik is, te bevorder. Albei projekte sal twee jaar duur en vir altesaam vier nagraadse beurse voorsiening maak.

Suid-Afrika is een van die wêreld se 17 biotegnologie-megalande, die grootste in Afrika, en het ’n spesiale verantwoordelikheid om by wetenskaplikgegronde bioveiligheidsnavorsing betrokke te wees en dit te bevorder. Die toelaes wat aan die US toegeken is, komplementeer ander strategiese navorsingsprojekte oor bioveiligheid wat deur Biosafety SA gefinansier word, naamlik twee by die Noordwes Universiteit in Potchefstroom, een by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in Pretoria en nog een by die Voedsel- en Allergiekonsultasie en Toetsingsdienste in Kaapstad. Vir meer inligting, gaan na www.biosafety.org.za.

Interns sluit by InnovUS aan

InnovUS en die Departement Besigheidsbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het kragte saamgesnoer om die eerste internskapprogram ooit by InnovUS bekend te stel. Die program sal InnovUS nie net help om vermoë te ontwikkel vir die moontlike aanstelling van sommige van die interns op 'n permanente grondslag in die toekoms nie, maar sal aan diegene wat aan die program deelneem ook uitstekende blootstelling aan en ondervinding in die bedrywighede van 'n tegnologie-oordragmaatskappy bied.

Anita Nel, InnovUS se hoof- uitvoerende beampte sê: “Deur aan ons projekte te werk, sal hierdie interns persoonlike, praktiese ondervinding opdoen van hoe sake-onderhandelinge gevoer word, hoe kontrakte gesluit word en hoe tegnologie in besigheid aangewend word.” Sy voeg by dat die interns òf sake- òf tegnologiegerig sal wees maar dat hulle saam aan alle aspekte van die projekte sal werk, onder meer die tegnologie wat die grondslag van die projek vorm; die ontwikkeling van sakemodelle en -planne; finansiële ontleding; en patentaansoeke.

Dr. Sameshnee Pelly is die eerste persoon wat vanjaar haar tegnologie-internskap by InnovUS begin het en het haar aan die einde van Julie by die span aangesluit. Buiten dat sy 'n PhD in sintetiese organiese chemie het en tans met 'n regsgraad besig is, is sy ook 'n kandidaat-prokureur in die patentdepartement van Von Seidels Intellektuele-eiendomsprokureurs met wie InnovUS nou saamwerk. “Ek geniet hierdie ervaring regtig, en ondersoek tans watter van die verskillende nuwe tegnologieë by InnovUS patenteerbaar is, en help ook met hul patentaansoeke,” sê dr. Pelly wat besig is met 'n internskap van ses maande by InnovUS. Anita sê: "Ons is baie dank verskuldig aan Von Seidels dat hulle Sameshnee by ons geplaas het."

Die aanstelling van sake-interns geskied in samewerking met Awie Vlok van die Departement Besigheidsbestuur. Gedurende die afgelope 20 jaar het hy wye ervaring opgedoen in die kanalisering van nuwe innovasie na die markplek, veral gedurende sy tydperk as hoof van die Innoveringsleierskap-en-leerakademie by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) van die nasionale Departement van Wetenskap en Tegnologie.

Mnr. Vlok sê toe hy hom aan die begin van vanjaar by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, het hy besef dat daar 'n groot behoefte bestaan om studente bloot te stel aan die werklikheid van die wêreld van tegnologie-oordrag. “Ek en Anita het koppe bymekaar gesit en die aankondiging van die internskapprogram het tot groot opwinding en geweldige belangstelling gelei. Hierdie internskapprogram is 'n uiters rare, multidissiplinêre veld en ons hoop dat hierdie eerste program 'n prototipe sal wees vir nog wat sal volg.”

InnovUS beplan dat tussen drie en vyf interns hulle van vandeesmaand by hulle sal aansluit en daar sal van elke intern verwag word om hom of haar vir tot tussen 30 en 100 uur per semester te verbind. Dit behels onder andere navorsing doen en data vir bestaande projekte insamel; verslae op grond van data- en inligtingsontledings opstel; en gevallestudies saamstel. By voltooiing sal elke intern 'n sertifikaat van voltooiing ontvang wat volgens mnr. Vlok in die toekoms uiters waardevol in hierdie veld sal wees.

Stel jy in InnovUS se internskapprogram belang?

Dan moet jy aan die volgende maatstawwe voldoen:

  • Jy moet vir die ooreengekome tydperk aan die InnovUS-projekte wat aan jou toegeken word, kan werk;
  • Jy moet oor ten minste 'n BComm beskik en met 'n nagraadse kwalifikasie besig wees;
  • Jou studie moet kritieke komponente van die innovasieketting dek;
  • Jy moet entoesiasties en oop wees om praktiese leerervaring op te doen om jou studie aan te vul;
  • Jy moet jou verbind om jou leerervaring aan te teken en/of 'n gevallestudie te skryf as 'n oorsigmeganisme wat in toekomstige leerprosesse gebruik kan word.

As jy seker is dat jy aan al hierdie maatstawwe voldoen en oorweeg wil word vir enige toekomstige internskapposisies by InnovUS, stuur jou CV en 'n aansoekbrief aan Awie Vlok by avlok@sun.ac.zaen Anita Nel by ajnel@sun.ac.za


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University