skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 12de uitgawe - 21 Oktober 2011

    SOEK 

InnovUS e-nuus 12de uitgawe
Vrydag, 21 Oktober 2011

InnovUS se inkubator vir dinamiese beginner-maatskappye binnekort bekendgestel

InnovUS is baie opgewonde oor die verwagte bekendstelling van 'n Maties Inkubator, 'n lanseerblad vir beginner-maatskappye wat op die Universiteit Stellenbosch se kampus geleë is. As alles volgens plan verloop, sal afwentelmaatskappye van die Universiteit Stellenbosch (US) asook beginner-maatskappye van buitevanaf Oktober 2012 by 'n wye reeks gesofistikeerde fasiliteite baat wat deur die inkubator voorsien word. Hierdie voordele sluit in gedeelde infrastruktuur en netwerkdienste, bekostigbare huurgeld, 'n opelug-koffiekroeg vir netwerkgeleenthede, akademiese leiding deur universiteitspersoneel en mentorskap van toonaangewende maatskappye en individue in die waagkapitaal-omgewing.

“Ons wil navorsers en studente aan die Stellenbosch Universiteit 'n alternatiewe loopbaan as entrepreneur bied,” sê Anita Nel, InnovUS se Hoof- Uitvoerende Beampte. “Die inkubator bied hulle die geleentheid om hul eie ondernemings met 'n ‘sagte landing’ te begin en in die proses potensieel werk, rykdom en kennis te skep. Ek glo dit is die begin van 'n golf van entrepreneursaktiwiteite op die kampus. Ek wil ook graag die senior bestuur van die Stellenbosch Universiteit vir sy steun en vertroue in hierdie verband bedank wat ons tot op die punt gebring het waar so 'n moontlikheid dalk gou 'n werklikheid kan word.”

InnovUS hoop om tot 67 maatskappye oor die volgende agt jaar in die Maties Inkubator te ontwikkel. Dit sal beteken dat meer as 900 direkte werksgeleenthede en meer as 700 indirekte werksgeleenthede geskep sal word. Volgens Anita is dit noodsaaklik dat universiteite maatskappye begin, eerder as om net op normale lisensie-ooreenkomste staat te maak. “Die maatskaplike en ekonomiese impak van universiteite se beginner-maatskappy-aktiwiteite kan baie belangrik wees en moenie onderskat word nie,” volgens haar. “Gedurende die afgelope jaar het sewe maatskappye in die Stellenbosch Universiteit se groep afwentelmaatskappye 'n gekombineerde omset van R106 miljoen gelewer, en hulle verskaf tans werk aan 192 mense.”

Dit is InnovUSse missie om entrepreneurskap op die Stellenbosch Universiteit deur middel van 'n verskeidenheid inisiatiewe te bevorder. Die Mavericks-entrepreneursaande waarmee daar onlangs begin is, die Maties Inkubator en die potensiële stigting van 'n Matie-tegnologiefonds om in die Stellenbosch Universiteit se afwentelmaatskappye te belê, is alles voorbeelde hiervan.

Daarbenewens sal InnovUSvolgende jaar die Stellenbosch-ideekompetisie bekendstelwaar studente genooi sal word om hul sake-idees aan 'n paneel beoordelaars vanuit die korporatiewe, waagkapitaal- en akademiese sektore voor te lê. Talle wenners sal elk 'n aansienlike bedrag geld ontvang om hul sake-idees verder te voer asook 'n bepaalde hoeveelheid mentorure. Hou toekomstige uitgawes van hierdie nuusbrief dop vir verdere inligting oor hierdie kompetisie.

  • InnovUS het 'n geskikte perseel vir die inkubatorin die vorm van 'n gebou met 'n totale vloeroppervlakte van 1 100 m² gevind maar benodig dringend fondse en hulp met infrastruktuur om dit geskik vir gebruik as inkubator te maak. Befondsing sal die borgmaatskappy naamregte tot die inkubator, assosiasie met 'n projek wat die weg vir entrepreneurskap en werkskeppingbaan, asook talle ander geleenthede besorg. Skenkings in goedere of mentorskap van die korporatiewe sektor is ook welkom. Belangstellende partye kan Anita Nel by ajnel@sun.ac.za  of 021 808 3079 kontak. 
     

InnovUS se interns floreer in innoverende omgewing 

Vier student-interns het hulle by die InnovUS-span aangesluit en pluk reeds die vrugte van hulle betrokkenheid by so 'n dinamiese en innoverende omgewing. Die 100 uur-internskapprojek is uniek aan InnovUS en bied die studente praktiese ervaring op die terrein van innovering, projekte en kommersialisering. Sake- of tegnologie-georiënteerde studente met 'n belangstelling in innovasie word aangemoedig om om die internskap aansoek te doen. Die aanstelling van sakeinterns geskied in samewerking met Awie Vlok van die Universiteit se Departement Sakebestuur.

Die eerste groep van vier student-interns, Duaan Dekker, JD Labuschagne, Grethe Mattheus en Pieter Lotz, het aan die begin van Oktober met hul internskap begin en het reeds gebaat by 'n sakekursus wat aangebied is deur die skrywer van Engineering Entrepreneurship, prof. Wynand Coetzer. “Die doel van die kursus was om hulle te leer hoe om 'n sakeontleding van 'n sakeidee te doen. Dit behels 'n paar stappe, insluitend die identifisering van sakemodelle, gevolg deur marksegmentasie en 'n ontleding van die portefeulje,” verduidelik prof. Coetzer. Die interns is ook ingesluit by verskeie dinkskrums, die onlangse Mavericks-aand, en sal aan ad hoc-projekte vir InnovUS werk.

“Die interns wat by InnovUS werk, het die geleentheid om eerstehandse, praktiese ervaring op te doen van hoe sakeonderhandelinge gevoer word, hoe kontrakte gesluit word en hoe tegnologie in die sakewêreld toegepas word,” sê InnovUS se Hoof- Uitvoerende Beampte, Anita Nel. “InnovUS baat ook by die internskappe aangesien dit ons vermoë verhoog om waarlik innoverende tegnologie-oordragoplossings te bied, en ons ook help om die behoeftes van die studente op ons kampus beter te verstaan.” Buiten die vier nuwe interns, trek InnovUS ook voordeel uit die ondersteuning van  dr. Sameshnee Pelly, 'n voltydse intern wat tot einde Februarie 2012 by InnovUS bly as deel van 'n oorkeenkoms met Von Seidels Prokureurs.

Ons het 'n paar van die interns gevra om hul ervaring van die 100 uur-internskap tot dusver met ons te deel:

Duaan Dekker, wat 'n BComm Honneurs-graad in Strategie en Innovasie het, sê hy het om die internskap aansoek gedoen as gevolg van sy sterk belangstelling in innovasie. “Innovasie is ‘n ontluikende veld wat opgang maak in die sake- en akademiese sfeer en ek vind dit ongelooflik interessant. InnovUS fokus sterk daarop om nuwe idees aan die mark bekend te stel en ek wil so veel as moontlik aan hierdie opwindende proses blootgestel word.” Hy voeg by dat hy reeds baie oor die veranderlike aard van die innovasieproses geleer het en die “onbetwisbare mynveld waarop innoveerders moet trap om hul idees in innovasies te omskep”. Duaan hoop om sy internskap af te handel met 'n soliede kennis van die praktiese sy van innovasie en die vaardighede wat nodig is om innovasies in die toekoms te skep.

JD Labuschagne is tans besig om sy Bcomm-graad in Beleggingsbestuur af te handel. Sy eerste kennismaking met InnovUS was toe hy 'n Mavericks-aand bygewoon het en beïndruk was met die entrepreneurskapsgees wat daar geheers het. “Ek het om hierdie internskap aansoek gedoen in die hoop dat ek omring sou word met briljante idees en mense wat sal help om hierdie idees 'n werklikheid te maak,” sê hy. JD beskou sy internskap as 'n geleentheid om te ontdek, kennis op te doen en dit wat hy geleer het, te implementeer. “Wanneer ek aan hierdie internskap dink, dink ek aan die metafoor van 'n saadjie wat in die grond geplant word en toegelaat word om te groei. Ek is die saadjie, maar in hierdie geval word ek in kunsmis geplant en met water ryk aan voedingstowwe gevoed. Dit beteken ek kan baie vinniger groei – nie as gevolg van myself nie, maar weens die welwillendheid en goeie geluk wat my getref het deur in hierdie omgewing te kan werk.”

Grethe Mattheus het 'n BComm Honneurs-graad in Strategie en Innovasie. Sy het om 'n internskap by InnovUS aansoek gedoen om praktiese ervaring in die wye veld van innovasiebestuur op te doen. Dit is duidelik dat sy geesdriftig is oor dit wat sy reeds geleer het. “Ek baat reeds so baie. Die waardevolste ondervinding wat jy hier kan opdoen, is om met verskillende mense te werk en aan 'n wye verskeidenheid projekte op die gebied van innovasie blootgestel te word,” sê sy. Die internskap het haar insig gebied in die marknavorsings- en uitvoerbaarheidstudies wat nodig is wanneer jy met 'n besigheid begin. Dit het haar ook 'n nuwe perspektief gebied oor hoe sake-idees ontleed moet word.

“Ek hoop om met elke intern 'n werklike sake-idee te ontleed,” voeg prof. Coetzer by. “Hoewel die tegnieke nie moeilik is nie, is dit amper soos om te leer fietsry. Dit lyk maklik, maar jy moet op die fiets klim en ry, én 'n paar keer afval, voor jy dit bemeester.”

'n Nuwe groep interns sal ingeskryf word wanneer die huidige 100 uur-projek voltooi is. As jy vir 'n internskap by InnovUS oorweeg wil word, stuur jou CV en 'n aansoekbrief aan Awie Vlok by avlok@sun.ac.za of Anita Nel by ajnel@sun.ac.za. Let asseblief daarop dat jy oor minstens 'n BComm-graad moet beskik en met jou studie vir 'n nagraadse kwalifikasie besig moet wees.
 

Ontmoet die knap krag agter US se portefeulje vir kopiereg en kortkursusse

Om verskeie take gelyktydig te kan verrig, kom natuurlik vir Carol Kat, Senior Beampte: Kopiereg en Kortkursusse. Dit is dan ook een van die fasette van haar werk waarvan sy die meeste hou. “Ek floreer regtig op die verskeidenheid en onvoorspelbaarheid van wat ek doen – met my werk is daar nooit 'n saai oomblik nie,” sê sy.

Carol het in 2003 as 'n Kopieregbeampte by die Universiteit Stellenbosch begin werk en haar in Junie 2004 aangesluit by InnovUS, hoewel dit destyds in 'n ander kantoor was. In 2008 is sy gevra om die navrae oor die Universiteit se kortkursusse te behartig. “Teen die middel van 2009 het die werklading wat kortkursusse betref, verdriedubbel en ek het strategiese beplanning begin doen vir die Afdeling Kortkursusse asook die infrastruktuur- en administratiewe funksies wat met kortkursusse verband hou, verrig,” vertel sy.

Carol is onlangs tot Senior Beampte: Kopiereg en Kortkursusse bevorder, 'n pos wat behels dat sy haar tyd moet verdeel tussen die bestuur van die Universiteit se kopieregkwessies aan die een kant en die hantering van die portefeulje vir kortkursusse aan die ander kant. “Die spitstyd-seisoen vir kopieregaktiwiteit is van November tot Februarie en dan weer van Junie tot Augustus. Gelukkig val hierdie tydperke saam met dié wanneer die meeste kortkursusse klaar geregistreer en aan die gang is. Wanneer die kopieregaktiwiteit dan stiller raak, fokus ek weer op kortkursusse,” verduidelik sy.

Hoewel dit lyk asof haar huidige pos haar soos 'n handskoen pas, is dit ver verwyder van haar kwalifikasie as 'n radiografis. “Ek het radiografie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer en toe 'n paar jaar lank as radiografis gepraktiseer voordat ek 16 jaar gelede Wes-Kaap toe getrek het,” sê sy. Toe haar twee dogters nog klein was, het sy begin om datastelsel-bestuurswerk vir 'n akademiese uitgewersmaatskappy van die huis af te doen, met spesifieke fokus op data vir voorgeskrewe boeke vir tersiêre inrigtings. Van daar af was dit 'n logiese stap om in die kopieregveld binne 'n universiteitsomgewing te begin werk.

As Senior Beampte: Kopiereg en Kortkursusse sluit Carol se verantwoordelikhede in die strategiese bestuur van die Universiteit se kortkursusse, bestuur van alle kopieregaspekte by die Universiteit, die implementering van die Universiteit se allesomvattende lisensie-ooreenkoms met betrekking tot kopiereg in kursusmateriaal, die implementering van die beleid oor kortkursusse, fasilitering van alle prosesse ten opsigte van kortkursusse (byvoorbeeld registrasie) en die verspreiding van inligting oor kopiereg en kortkursusse onder die Universiteit se personeel.

Haar vernaamste uitdaging op beide die terrein van kopiereg en kortkursusse is om 'n oplossing te vind wat al die betrokke partye gelukkig hou en wat ook binne die parameters van die Universiteit se beleide val. “Daar is dikwels baie onderhandelinge, heen en weer. Met my werk moet ek maar soms baie diplomaties wees,” lag sy.

Wanneer sy nie by die werk is nie, is Carol 'n ywerige kok wat resepteboeke soos ontspanningslektuur verslind en dit ook geniet om tyd saam met haar man, Johan, en haar twee dogters deur te bring. Voetslaan en wandel op die wynplase saam met haar twee spanjoelhonde is ook bo-aan haar lysie van lekker doendinge. 
 

Innovasie vir Afrika by Mavericks-aand

InnovUS se Mavericks Entrepreneursaand vir Innovasie wat op Woensdag 5 Oktober 2011 gehou is, was ’n reusesukses. Meer as 50 mense het die geleentheid by die Neelsie-teater bygewoon wat aanbiedings deur sprekers van Google en Obsidian Systems, ’n toonaangewende krag in die oopbron-sagtewareomgewing, ingesluit het.

Die aand was gerig op entrepreneurs wat daarin belangstel om hul sagteware-verwante idees of navorsingsprojekte in produkte of dienste te omskep. Gert-Jan van Rooyen van die MIH Medialab by die Universiteit Stellenbosch het resultate verskaf wat die mite die nek ingeslaan het dat jy ’n universiteitsopskopper moet wees om ’n suksesvolle entrepreneur te kan wees, terwyl die deeltydse sakeontwikkelaar by InnovUS, Philip Marais, oor die kommersialiseringsmoontlikhede van intellektuele eiendom gepraat het. Na ’n kort pouse het Google se industriële bestuurder vir Suid-Afrika, Johanna Koller, die aanwesiges toegespreek oor die Google Umbono-inkubasieprogram en die ontwikkeling van ’n volhoubare internet-ekostelsel in Afrika, terwyl die stigter van Obsidian en Telementa, Anton de Wet, sy ervaringe van die uitdagings en belonings verbonde aan die stigting van sy eie sagteware-ondernemings asook sy insigte oor die huidige finansiële krisis gedeel het.  

“Ek was regtig beïndruk met die gehalte van die gehoor se vrae aan ons sprekers. Dit is duidelik dat ons baie studente op die kampus  het wat meer oor entrepreneurskap wil weet,” sê Philip Marais, deeltydse Sakeontwikkelaar by InnovUS. “Ons sal beslis meer sulke geleenthede in die toekoms hou. Ek het juis 'n e-pos van 'n student ontvang die dag na die geleentheid waarin ons gekomplimenteer word met 'n goed georganiseerde aand met uitstekende sprekers.”

Diegene wat die geleentheid bygewoon het, is op Coke en springmielies getrakteer voordat hulle hul sitplekke in die teater ingeneem het. Dit het bygedra tot die informele, tog dinamiese aard van die byeenkoms. Die aand is afgesluit met 'n geleentheid om na die aanbiedings oor kaas en wyn met die sprekers te netwerk.


US se Fakulteit Natuurwetenskappe onder die beste ter wêreld

Die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch het erkenning ontvang op die gerespekteerde QS Wêrelduniversiteitsranglys. Die Universiteit Stellenbosch beklee die 331ste posisie wêreldwyd op die QS Wêrelduniversiteitsranglys vir Natuurwetenskappe terwyl die Universiteit van Kaapstad (UK) se Wetenskapfakulteit die enigste ander Suid-Afrikaanse Wetenskapfakulteit is wat onder die top 400 verskyn.

Die QS Wêrelduniversiteitsranglys wat sedert 2004 jaarliks gepubliseer word, is die mees betroubare universiteitsranglys in die wêreld. Vir die QS-lys word aansoeke van 2 000 universiteite van reg rondom die wêreld oorweeg voor die top 400 universiteite gekies en beoordeel word. In die beoordeling van die universiteite vir die QS-lys word akademiese reputasie, werkgewerreputasie, sitasies per fakulteit, fakulteit-student-verhouding, die verhouding van internasionale studente en die verhouding van internasionale fakulteitslede in ag geneem.

“Ek wil al my kollegas by die Universiteit Stellenbosch bedank vir hul voortgesette ondersteuning wat 'n groot rol in die bereiking van hierdie prestasie gespeel het,” sê professor Eugene Cloete, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
 

Welkom by ons nuwe tuiste

'n Raadskamer wat met die jongste tegnologie toegerus is, ultramoderne werkstasies en 'n netjies versorgde tuin is maar net 'n paar van die fasiliteite wat InnovUS se personeellede nou kan geniet vandat die uitbreiding van hul bestaande kantore teen die einde van Augustus vanjaar voltooi is. “Ons is baie gelukkig met die finale resultaat – dit voel soos 'n huis weg van die huis af,” sê Doris Peters, Assistent: Intellektuele Eiendom en Finansies, wat die bouprojek saam met Carol Kat, Senior Beampte: Kopiereg en Kortkursusse, bestuur het.

“Ons wou graag hê ons kantore moet iets besonders wees – waar mense kan instap en onmiddellik tuis en spesiaal voel. Ek dink ons het dit reggekry met spesiale dingetjies soos ’n vuurherd in ons vergaderkamer, ’n pragtige kroonkandelaar wat bo ons trappe hang, en deur plaaslik vervaardigde materiaal vir ons meubels te gebruik,” sê Doris.

Daar is terselfdertyd ’n sterk fokus op tegnologie en innovasie in die InnovUS-kantore, met draadlose internettoegang regdeur, terwyl die lugtige raadskamer twee datapunte het wat aan ’n hoëtegnologie-projektor gekoppel is. Daarbenewens is spesiale aandag gegee aan die werkstasies in die oopplan-kantoor, wat deur interns gebruik word wat by InnovUS werk, deur die aanbring van magnetiese kennisgewingborde, elektriese punte en datapunte wat verseker dat daar geen elektriese koorde op die grond rondlê nie, asook die jongste tafelrekenaars met ekstra groot skerms.

Die bouprojek, wat die bestaande kantore met ’n bykomende 150m2 vergroot het, het ook die bou van uiters nodige parkeerplekke vir InnovUS-personeel en besoekers, ’n nuut ontwerpte tuin, nuwe badkamergeriewe, asook verskeie energiebesparingstoestelle soos fotovoltaïese panele op die dak en ’n sonkrag-geiser behels.

“Die bouproses was ’n lang agt tot tien maande van ’n geboordery en stof, maar ons almal stem saam dat die eindresultaat die moeite werd is,” sê Doris. “Dit was regtig ’n spanpoging – al ons personeellede het insette gelewer oor hoe ons nuwe ruimte moet lyk, en ek dink ons kan baie trots wees op die resultate. Ons word juis nou oorval met komplimente en versoeke van mense wat in ons kantore wil kom werk,” lag sy.
 

Sol Bezuidenhout sluit by die InnovUS-span aan

Die InnovUS-span groei steeds en kan nou baat vind by die kundigheid van Sol Bezuidenhout, Beleggingsbestuurder by Hasso Plattner Ventures Africa, en pas aangestelde deeltydse Sakeontwikkelaar by InnovUS. Hoewel hy al ’n paar jaar lank in ’n raadgewende hoedanigheid by InnovUS betrokke is, beteken sy nuwe aanstelling dat hy nou ’n permanente deeltydse pos by die maatskappy beklee.

Sol, wat Vrydae by die InnovUS-kantore op Stellenbosch sal werk, sal op die stigting van ’n fonds vir inkubators en tegnologie vir InnovUS fokus. Die afgelope paar jaar was ’n bloeityd vir inkubators by universiteite; daar word ook daarna verwys as “sakeversnellers” aangesien die doelwit daarvan is om steun op verskeie vlakke te verleen aan ondernemings wat pas begin het. “My rol is om ’n beter finansiële begrip van ’n inkubator se opset te verkry, te bepaal wat is nodig en om die nodige fondse te bekom,” sê Sol.

Sol is opgewonde oor die uitdagings wat by InnovUS voorlê. “InnovUS is ’n toonaangewende tegnologie-oordragmaatskappy en ek is opgewonde om by die baie vroeë stadiums van beleggingsgeleenthede betrokke te kan wees. Ek glo dit bied my ’n unieke geleentheid om my vaardighede op ’n heel verskillende manier aan te wend.”

Om by InnovUS in te pas, sal gewis kinderspeletjies wees vir Sol, want hy is ’n oud-Matie met ’n Meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese en ’n Diploma in Uitvoerende Bestuur wat hy aan die Universiteit Stellenbosch se Nagraadse Sakeskool verwerf het. Wanneer hy nie by een van sy twee werke is nie, geniet Sol dit om te lees, perd te ry, te stap en tyd met sy dogter deur te bring.


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University