InnovUS e-nuus 2de uitgawe
Donderdag, 1 Oktober 2009
'n Suksesvolle jaar vir InnovUS
Dit was 'n besige, maar baie vrugbare InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch. Ten spyte van die negatiewe uitwerking wat die wêreldwye ekonomiese krisis op kommersialisering gehad het, sê Anita Nel, hoof uitvoerende beampte, was 2009 'n baie suksesvolle jaar vir innovasie, entrepreneurskap asook finansiële en maatskappysukses.
"Vir die jaar onder oënskou was die hoogtepunt ongetwyfeld die herstrukturering van die maatskappy tot 'n volfiliaal van die Universiteit," sê Anita. "Ons het ook ons kantoor na De Beerstraat 15, Stellenbosch verskuif in 'n strategiese poging om naby ons akademiese kliënte te wees."
Entrepreneurskap by die Universiteit het aanleiding gegee tot die stigting van Niocad (Edms.) Bpk., 'n maatskappy wat sagteware vir kringontwerp ontwikkel en baie goed vaar. InnovUS is ook in die pylvak met onderhandelings met Catchword, 'n maatskappy wat in spraaktegnologie spesialiseer. Die getal afwentelmaatskappye kom nou op agt te staan.
Volgens Anita het die Universiteit reeds in Augustus sy 2007-rekord van 43 openbaarmakings van uitvindings oorskry. En dit is nie die enigste rekord wat gebreek is nie, want:
- InnovUS gaan finansieel sy lisensie-inkomsteteiken vir 2009 oorskry;
- Nog 'n rekordjaar word verwag vir die registrasie van kortkursusse, en
- 'n Rekordgetal aansoeke is ontvang vir die nasionale innovasiekompetisie vir studente se tegnologieverwante sakeplanne.
Daar was vanjaar ook 'n groot toename in bemarkingsaktiwiteite. "Tegnologie-oordrag vereis 'n intensiewe bemarkingspoging en ons volg dus 'n gestruktureerde bemarkingsplan," sê Anita. "Dit behels die bekendstelling van ons e-nuusbrief, 'n tweebladartikel in Matieland en die bal is aan die rol vir die vernuwing van ons webwerf wat volgens beplanning teen die einde van September 2009 sal klaar wees. Volgende maand vier ons ook ons tiende herdenking met 'n lenteslypskool-reeks."
Ander ontwikkelinge vanjaar behels InnovUS se rol in die ontwikkeling en vestiging van Tektique, 'n inisiatief vir 'n interuniversitêre tegnologieoordragkantoor (TTO), en die afhandeling van nuwe intellektuele eiendom ingevolge die Wet op Staatsgefinansierde Navorsing (Publicly Financed Research Act). Laasgenoemde Wet het 'n groot invloed op intellektuele eiendom wat by staatsgefinansierde instellings ontwikkel word.
"'n Hele aantal nuwe en opwindende uitdagings staar ons in die gesig op pad na 2010," sê Anita. "Ons sien veral uit na die goedkeuring van die hersiene beleid op die kommersialisering van intellektuele eiendom; die verbetering van die omgewing vir kortkursusse; die vind van finansiering vir voornemende afwentelmaatskappye en projekte; en die vermeerdering van ons getal lisensies."
Gelukkige 10de verjaarsdag, InnovUS
Sedert InnovUS sy deure tien jaar gelede vir die eerste keer geopen het, het dit van krag tot krag gegaan. Ons kan dit dus vier deur 'n lekker bederf met 'n byderwetse verbetering - ons eie soort kosmetiese ontrimpeling. Daarom is ons baie trots om ons splinternuwe webwerf aan julle bekend te stel! Kliek hier vir 'n kykie na ons nuwe voorkoms.
Ons stel ons nuwe direksie bekend 
In ons vorige nuusbrief het ons verwys na ons herstrukturering tot 'n volfiliaal van die Universiteit tien jaar nadat die kantoor vir intellektuele eiendom sy deure geopen het. InnovUS Tegnologie Oordrag (Edms) Bpk. vervang Unistel Group Holdings (Pty) Ltd en as sodanig het ons nou ons 'n splinternuwe bemagtigde direksie. Ons wil graag van hierdie geleentheid gebruikmaak om ons nuwe direksielede voor te stel.
- Voorsitter: Mnr. Desmond Smith
- Direkteure:
Mnr. Nandu Bhula
Prof. Wynand Coetzer
Mnr. Jannie Durand
Mnr. Joe Kieser
Mnr. Michiel le Roux
Me. Anita Nel
Prof. Leopoldt van Huyssteen
Prof. Arnold van Zyl - Maatskappysekretaris: Me. Faiza Majiet
Resident- intellektuele eiendomsprokureurs sluit by ons aan 
Von Seidels intellektuele eiendomsprokureurs het op 19 Augustus by ons aangesluit as InnovUS se resident- intellektuele eiendomsprokureurs. Von Seidels het baie jare se ervaring, kennis en tegniese kundigheid op die gebied van intellektuele eiendom en word as een van die toonaangewendste gespesialiseerde prokureursfirmas vir intellektuele eiendom beskou. Ons is werklik baie opgewonde om hulle aan boord te hê!
As navorsers en uitvinders wat InnovUS se intellektuele eindomsdienste gebruik, kan julle nou afsprake maak met Von Seidel vir konsultasies oor 'n hele reeks intellektuele eiendomsaangeleethede, onder meer:
- Algemene patentering, outeursreg en handelsmerke;
- Intellektuele eiendomsbeskermingsdienste, onder meer die indiening van patente, handelsmerke, geregistreerde ontwerpe, outeursreg en plantkwekersregte;
- Afdwinging van intellektuele eiendomsregte;
- Oordrag van lisensies en tegnologie;
- Portefeuljebestuur van intellektuele eiendom, en
- Advies oor gespesialiseerde gebiede soos chemiese ingenieurswese/benodigdhede, elektroniese ingenieurswese, biotegnologie en mikrobiologie.
Jy kan jou afspraak aanlyn maak via die InnovUS-webwerf, deur 'n e-pos te stuur aan patent@sun.ac.za of deur Venessa Williams by 021 808 3826 te skakel.
Nuwe regulasies vir die reproduksie van derdepartyinhoud
'n Nuwe stel regulasies ten opsigte van die reproduksie van kursusmateriaal wat derdepartyinhoud bevat, het op 1 Julie 2009 in werking getree. Daar word aanbeveel om op hierdie wysigings van die omvattendelisensie-ooreenkoms (Blanket Licence Agreement) (BLA) met die organisasie vir dramatiese, artistieke en literêre regte (Dramatic, Artistic and Literary Rights Organisation (DALRO) te let. Die volgende is tersaaklik:
- Die gebruik van derdepartyinhoud in kursusmateriaal moet aangemeld word. Dit is van toepassing op kursuspakkette, materiaal op webstudies, enkeltiteluitdeelstukke in die klas, en materiaal wat in die biblioteek se kortleningafdeling geplaas word.
- Kopiëring van buitekurrikulêre kursusmateriaal word deur die US se omvattende lisensie gedek.
- Indien die omvang van kopiëring die toelaatbare persentasie oorskry (10%), moet om 'n transaksionele lisensie aansoek gedoen word op die gewone wyse. Transaksionele lisensiegelde word nie in die gelde vir die omvattende lisensie ingesluit nie en die departement wat om sodanige lisensie aansoek doen, moet daarvoor begroot.
- Die reproduksie van kursuspakkette wat onder beheer van die US vir die doeleindes van onderwys, navorsing en gemeenskapsinteraksie saamgestel word, word ingevolge die omvattende lisensie gemagtig vir regstreekse reprografiese reproduksie (fotokopiëring) op of buite die US se kampusse deur voorafgekeurde verskaffers.
- Digitale aanvulling van kursusmateriaal deur enige entiteit val nie onder die omvattende lisensie nie hierdie aktiwiteit moet op 'n geval-tot-geval grondslag uitgeklaar word.
- Onderrigpersoneel en/of ander departemente wat nie hul kursusmateriaal op US-kampusse reproduseer nie, moet voorafgekeurde US-verskaffers gebruik. Die dosente en/of departemente is dus vir die aanmelding van hul eie outeursreg deur middel van die CHEC-stelsel verantwoordelik.
- Die volgende kennisgewing moet verskyn op alle materiaal wat ingevolge BLA gereproduseer word:
Hierdie materiaal is onder lisensie gereproduseer en mag nie verkoop word nie.
Gereproduseer deur *………………………………………………………………………………………..
*Byvoorbeeld: Departement Ekonomie/Regsfakulteit/SUN Media.
Me. Carol Kat, US se outeursregbeampte, is verantwoordelik vir eie outeursreg wat aangemeld word en sal hulp verleen met die proses van outeursregaansoeke en 'n uiteensetting van die riglyne vir die omvattende lisensie. Skakel haar by 021 808 2992 of carolk@sun.ac.za.
InnovUS bied slypskole aan as deel van ons tiende verjaarsdagvierings 
Navorsers, uitvinders en studente van die Universiteit Stellenbosch word uitgenooi na 'n lenteslypskoolreeks as deel van ons tiende verjaarsdagvierings. Die slypskole word van 26 tot 28 Oktober aangebied en sal konsentreer op verskeie onderwerpe betreffende intellektuele eiendom en die kommersialisering daarvan. Soos met enige ordentlike verjaarsdagpartytjie gaan daar ook verjaarsdagkoek wees. Kom vier gerus saam met ons!.
Die sentrale tema van die slypskoolreeks is "Mik vir goud" ("Going for Gold"). Aandag sal geskenk word aan onderwerpe insake intellektuele eiendom en die kommersialisering daarvan, die uitwerking van die IPR Wet wat onlangs gepromulgeer is op hoëronderwys- en navorsingsinstellings wat deur die staat gefinansier word; verskillende keuses beskikbaar om jou intellektuele eiendom te beskerm, en die rol van InnovUS by die Universiteit Stellenbosch.
Die program wat oor drie dae strek, is opwindend en sal jou nie teleurstel nie. Dit behels die volgende aanbiedings:
- Me. Anita Nel, Hoof uitvoerende beampte: InnovUS – Mik vir goud/Going for Gold;
- Mnr. Rowan Joseph, vennoot: Von Seidels intellektuele eiendomsprokureurs - Neem die mistiek weg van intellektuele eiendom (Demystifying intellectual property);
- Mnr. Roux de Villiers, Prokureur: Werksmans Jan S. de Villiers Geïntegreer– Kry die Wet onder die knie (beginsels van IPR wetgewing) (Getting your Act together);
- Dr. David Weber van Stone Three Venture Technology – Uitdagings om navorsingsresultate in kommersiële produkte te omskep;
- Me. Alexandra Fraser, navorsingsontleder: InVenFin – Ek het geld nodig! Finansiering om 'n nuwe onderneming op intellektuele eiendom geskoei, te vestig; en
- Mnr.Thys Cronje, besturende direkteur: Diacoustic Medical Devices, en dr. Pieter Fourie, adviseur: Diacoustic Medical Devices – Gevallestudie van 'n nuwe intellektuele eiendomsonderneming: Diacoustic Medical Devices (DMD).
Moenie hierdie gulde geleentheid misloop om meer te leer by kundiges op hierdie gebied nie! Bywoning is gratis. Registrasie is elke dag (26 tot 28 Oktober) van 14:00 – 14:30. Skakel Venessa Williams by 021 808 3826 of stuur 'n e-pos aan venessa@sun.ac.za vir verdere inligting en om die volledige program te kry.
Kortkursusse – Gewysigde sertifiseringsproses 
As jy by die sertifiseringsproses vir kortkursusse betrokke is, wil ons dit graag onder jou aandag bring dat daar streng nuwe riglyne vir die uitreiking en druk van kortkursussertifikate is. Hierdie riglyne vorm deel van die Universiteit se gehalteversekeringsproses ten einde die sekerheid van die sertifiseringsproses te verseker.
Die volgende riglyne tree onmiddellik in werking:
- Sertifikate mag nie deur 'n individu of departement gedruk word nie. Dit mag slegs deur SunPrint, die Universiteit se drukkery (vir Stellenbosch-, Bellville Park- en Tygerberg-kampusse) gedruk word.
- Die Universiteit sertifiseer kortkursusse deur vaardigheids- of bewoningsertifikate. Die Universiteit se wapen mag slegs op amptelike of diplomasertifikate verskyn, nie op kortkursussertifikate.
- Sertifikate vir kortkursusse mag slegs uitgereik word as dit deur die Universiteit se sentrale registrasiestelsel geregistreer en goedgekeur is. Hierdie stelsel word op die Universiteit se personeelportaal aangebied.
Besoek gerus die kortkursuswebwerf vir 'n volledige lys van die verpligte inligting wat op die kortkursussertifikate moet verskyn asook watter prosedures gevolg moet word.
Skakel gerus me. Carol Kat by 021 808 2992 of e-pos carolk@sun.ac.za vir verdere inligting.
Drie hoera's vir US-span by die SA Bio Plan-kompetisie
Die LifeQ-span van die Universiteit Stellenbosch het 'n indrukwekkende tweede plek in die 2009-SA Bio Plan-kompetisie behaal. Die span, onder leiding van die doktorale studente Riaan Conradie en Franco du Preez van die departement van biochemie, het die beoordelaars beïndruk met die voorlegging van 'n sakeplan vir 'n mediese asemhalingstoestel wat die persentasie liggaamsvet, die rustende metaboliese spoed en die respiratoriese kwosiënt meet.
Die kompetisie is 'n BPC– kompetisie (Biotechnology Executive Education Programme and Business Plan Competition) vir ontluikende bio-entrepreneurs met die doel om biotegnologie-ondernemings in Suid-Afrika aan te moedig. Dit is deur die Innovation Fund (IF) in samewerking met die Biotechnology Regional Innovation Centres (BRICs) aangebied in vennootskap met Emory University of Atlanta, Georgia VSA.
In Maart vanjaar het verskeie spanne van oor Suid-Afrika, waaronder ook die LifeQ-span, 'n een-bladsy sakeplan aan Innovation Fund voorgelê. LifeQ is toe gekies as een van agt spanne om vir 'n week lank 'n Biotechnology Executive Education Programme aangebied deur akademici van die Goizueta-sakeskool van Emory Universiteit, by te woon.
Daar het hulle geakkrediteerde sakeopleiding van wêreldgehalte ontvang en die geleentheid gehad om hul sakeplanne aan 'n paneel internasionale beoordelaars voor te lê. Gedurende die opleiding het al die spanne ten nouste saamgewerk met die mentors wat aan hulle toegewys is, om 'n omvattende sakeplan op te stel.
Hierdie plan is in September tydens die Bio2Biz-konferensie by die Internasionale Konferensiesentrum in Durban voorgelê. By die gala-dinee op 22 September is LifeQ as die naaswenner in die 2009-SA Bio Plan-kompetisie aangewys. Hulle het 'n kontantprys van R50 000 ontvang asook die geleentheid van 'n internskap in die VSA.
Die LifeQ-span is tans besig om 'n kommersiële prototipe van hul toestel te bou. Hulle beoog om dit dan in onder meer die VSA vry te stel waar 70 miljoen uit 300 miljoen mense elke jaar op dieet gaan sonder enige sukses.
InnovUS, as die tegnologie-oordragmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch, ondersteun die span deurgaans met trots en wens hulle geluk met hul prestasie!
