skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 3de uitgawe - 11 Desember 2009

    SOEK 

InnovUS e-nuus 3de uitgawe
Vrydag, 11 Desember 2009

Ons sluit  op ’n hoë noot afOns sluit op ’n hoë noot af

Hier aan die einde van die vierde en laaste kwartaal van 2009 is dit duidelik dat InnovUS sy stoutste verwagtinge oortref het. Slegs gedurende die afgelope drie maande het InnovUS 14 nuwe openbaarmakings ontvang wat die totale getal vir 2009 op 62 te staan bring. Hiermee word die teiken van 39 vir die jaar oorskry en is 'n beduidende toename vergeleke met die vorige rekord van 43 in 2007.

Maar dis nie al goeie nuus nie. Anita Nel, Hoof- Uitvoerende Beampte, sê daar was ook 'n groot volume lisensiëringsooreenkomste en entrepreneursaktiwiteit wat tot die stigting van nóg 'n afwentelmaatskappy vanjaar aanleiding gegee het.

“Ten opsigte van die stigting van afwentelmaatskappye kondig ons graag aan dat die aandeelhouersooreenkoms vir NioCad (Edms.) Bpk. in November 2009 met InnovUS gesluit is. Die uitvinders en beleggers (IDC Venture Capital en die Innovasiefonds) het nou 'n ekwiteitsaandeel in die maatskappy,” sê Anita. “Ons portefeulje afwentelmaatskappye het nou 203 werknemers.”

Die Afdeling vir Kortkursusse het ook 'n rekordjaar gehad. Tot op datum het ongeveer 5 420 studente die 356 geregistreerde kortkursusse in 2009 bygewoon. “Omvangryke verbeteringe word vir 2010 in hierdie afdeling in die vooruitsig gestel,” sê Anita. “Ons gaan onder meer 'n bestuurder vir Kortkursusse in die eerste kwartaal van 2010 werf.” Kliek hier om meer te lees oor ons planne vir hierdie afdeling.

InnovUS, as 'n geheel, gaan ook in 2010 die vrugte pluk van 'n hele paar nuwe ontwikkelings en uitdagings. “Ons sien uit na die Universiteit se hersiene Beleid op Intellektuele Eiendomkommersialisering (Intellectual Property (IP) Commercialisation Policy); na die verkryging van fondse vir ons twee nuwe komende afwentelmaatskappye, en om ons prosesse meer vaartbelyn te maak om doeltreffendheid te verbeter,” sluit Anita af.

Dankie dat julle saam met ons gevier hetDankie dat julle saam met ons gevier het

InnovUS het onlangs sy tiende bestaansjaar as Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy met 'n verjaarsdagpartytjie gevier  – of liewer sommer met drie! Die heuglike geleentheid? InnovUS het nie net sy tiende bestaansjaar gevier nie, maar ook 'n opwindende jaar van innovasie, kommersialisering en jaar-op-jaar groei.

Volgens Anita Nel, Hoof- Uitvoerende Beampte, is die jaar gekenmerk deur toenemende aktiwiteit op die gebied van entrepreneurskap asook aansienlike finansiële en algehele maatskappygroei.

“Hierdie sukses het InnovUS in staat gestel om sy kantore na De Beerstraat 15, Stellenbosch te verskuif, en sy bemarkingsinisiatief met 'n splinternuwe webwerf en die bekendstelling van 'n  e-nuusbrief te verskerp. InnovUS is verder ook tot 'n volfiliaal van die Universiteit geherstruktureer – ongetwyfeld 'n hoogtepunt,” sê Anita.

InnovUS sê weer baie dankie aan alle navorsers, die bestuur, kliënte en verskaffers vir hul volgehoue ondersteuning deur die jaar en vir hul teenwoordigheid op onderskeidelik 28 Oktober, 4 Desember en 7 Desember om te help kersies doodblaas! Ons sien uit na 'n produktiewe jaar in 2010.

'n Spesiale woord van dank aan die mense wat die visie gehad het om InnovUS tien jaar gelede te stig en daardeur die Universiteit Stellenbosch weer eens te posisioneer as 'n leier onder Suid-Afrikaanse universiteite. Hul bydraes deur die jare het InnovUS op 'n vaste grondslag geplaas.

InnovUS ook groenInnovUS ook groen

InnovUS het 'n gepaste innoverende rigting ingeslaan en kondig graag aan dat ons amptelik ons omgewingsvriendelike kleure wys en groen word! Met behulp van die Universiteit se Sentrum vir Volhoubare en Hernubare Energiestudies en Setsolar gaan InnovUS binnekort energiebesparende sonpanele by sy kantoor aanbring.

Volgens prof. Wikus van Niekerk, Direkteur: Sentrum vir Volhoubare en Hernubare Energiestudies, hou die installering van sonpanele lang- en korttermynvoordele vir InnovUS en die hele Universiteit in.

Prof. van Niekerk sê dat die “gratis” elektrisiteit wat deur die panele opgewek word, die voor die hand liggende en onmiddellike voordeel is. Fotovoltaïese (PV) panele verwerk sonlig tot energie. Hy verduidelik dat 'n deel daarvan in batterye gestoor word en die ander deel in die gebou aangewend word. “In die aande is die energie wat in die batterye gestoor word, beskikbaar vir gebruik deur 'n wisselrigter,” sê hy.

Van nog groter belang egter is die langtermynuitwerking, naamlik minder afhanklikheid van konvensionele kragbronne en 'n “groener” beeld vir die Universiteit. 

InnovUS bedank Setsolar vir die skenking van die panele, en die Sentrum vir Volhoubare en Hernubare Energiestudies omdat hulle die skenking moontlik gemaak het.

InnovUS-navorser reik na die sterre InnovUS-navorser reik na die sterre

Een van InnovUS se navorsers, dr. Coenrad Fourie, het sy navorsing oor supergeleiers tot nuwe hoogtes gevoer. In Mei vanjaar het ons verslag gelewer oor die sukses van sy mede-eienaarskap onderneming, NioCAD, wat ook 'n InnovUS-afwentelmaatskappy is.  Ses maande later is hy die hoofnavorser by Scryer, ook 'n nuwe US-onderneming in die InnovUS-stal. Scryer het 'n nuwe afskermtegnologie ontwikkel waardeur lughawesekuriteit baie verbeter kan word. So wag daar 'n R10 miljard mark.

Volgens 'n onlangse artikel in Brainstorm Magazine sal die gevorderde afskermtegnologie lughawesekuriteit in staat stel om voorwerpe wat op mense weggesteek is, op te spoor as hulle deur die afskermpunte gaan.

Dr. Fourie sê die beeldomsetters werk net soos digitale kameras behalwe dat die sensorvlak – net soos by digitale film – bestaan uit supergeleiertoestelle wat tot kriogeniese temperature afgekoel is. In plaas daarvan om sigbare lig op te spoor, is Scryer-beeldomsetters ontwikkel om onsigbare lig verder as infrarooi op te spoor.

“Alle voorwerpe straal die een of ander vorm van lig uit en die menslike liggaam is geen uitsondering nie,” verduidelik dr. Fourie. “Die menslike liggaam is warmer as tipiese gevaarlike voorwerpe. Metale, keramiek en harde plastiek absorbeer die hitte wat ons uitstraal en as die beeldomsetter sodanige voorwerpe fotografeer, word dit as duidelike donker voorwerpe teen die menslike liggaam aangetoon.”

Dr. Fourie gee die versekering dat die beeldomsetters, anders as x-straalskandeerders, geen straling van hul eie het om die beelde te vorm nie en dus heeltemal veilig is.
Nadat dr. Fourie en sy span vir meer as 'n dekade by supergeleier-elektronika betrokke was, het hulle in 2007 die plan vir die beeldomsetter ontwikkel toe hulle gereageer het op 'n oproep van die Departement van Wetenskap en Tegnologie se  Nasionale Innovasiefonds se Nasionale Innovasiekompetisie.

Dr. Fourie praat met die grootse lof van InnovUS en noem dat die maatskappy 'n groot bydrae gelewer het tot Scryer se ontwikkeling. “InnovUS reël toegang tot ervare entrepreneurs as daar sakebeplanning gedoen moet word; toegang tot patentprokureurs as ons moet vasstel wie die mededingers is en ons idees wil beskerm, en toegang tot risiko- of aanvangskapitaal as die stadium bereik word waar almal glo die uitvinding het kommersiële waarde,” sê hy.

“Ons moet dit net laat gebeur,” beaam hy.

Alhoewel die uitdaging groot is, voel dr. Fourie dat Scryer die potensiaal het om die globale mark te betree, maar nie voordat dit plaaslik sukses behaal het met Airports Company South Africa (ACSA) nie.  

InnovUS wens dr. Fourie en sy span alles van die beste toe vir Scryer se sukses en sal van die begin van die nuwe jaar af die tegnologie aan moontlike beleggers bekendstel.

Vyf lisensies vir US genetika-dosentVyf lisensies vir US genetika-dosent

InnovUS het onlangs nie minder as vyf lisensie-ooreenkomste aan Genediagnostics (Edms.) Bpk. toegeken nie. Dit is as 'n SEB-aanvangsmaatskappy geregistreer in die naam van dr. Monique Zaahl, senior dosent in die Departement van Genetika (Fakulteit  Agriwetenskappe). Hierdie vyf ooreenkomste - en ook die ander - het 'n beduidende bydrae gelewer daartoe dat InnovUS sy oorhoofse doelwitte vir 2009 oorskry het.

Die lisensie-ooreenkomste wat aan Genediagnostics toegeken is, is vir toonaangewende uitvindings vir die diagnose van oorerflike hemochromatose asook vir esofageale kanker, naamlik:  

  • Uitvinding om oorerflike hemochromatose te diagnoseer
    • Patent 1: Die vasstelling van verswakte ysterhomeostase-siekte
    •  Patent 2: 'n Metode en inleiding vir die diagnose van oorerflike hemochromatose
  • Uitvinding om kanker te diagnoseer
    • Patent 3: Biomerker vir kankerdiagnose
    • Patent 4: Biomerker vir kankerdiagnose
  • Uitvinding om oorerflike hemochromatose te diagnoseer
    • Patent 5: Biomerker vir die diagnose van oorerflike hemochromatose

Oorerflike hemochromatose is 'n algemene toestand wat deur ysteroorlading veroorsaak word. Die algemene genetiese mutasies wat verantwoordelik is vir die toestand in Kaukasiërs, word egter nie met Asiatiese Indiërs geassosieer nie.  Dr. Zaahl se innovasie identifiseer 'n genetiese afwyking wat verantwoordelik is vir die ysteroorlading in 'n Suid-Afrikaanse Indiër-familie.

Die uitvinding vir die diagnose van esofageale kanker bied 'n genetiese aanwyser wat kan help met die risiko-assessering en diagnose van die siekte asook die ontwikkeling van geneesmiddels.

Net gedurende die afgelope jaar het InnovUS sewe lisensie-ooreenkomste moontlik gemaak en dus hul teiken vir 2009 behaal. Tans is die onderhandelings vir die laaste twee lisensies in hul finale stadium: dit is vir nuwe wyn-gis (ontwikkel met behulp van befondsing deur Winetech), en vir rooibostee-ekstrak as 'n voedselpreserveermiddel (ontwikkel in samewerking met die Landbounavorsingsraad).

 AFRICAN SUN MeDIA open 'n nuwe winkel op kampus

Kliek hier om meer te lees.

Kortkursusse in 2010 verder vaartbelyn Kortkursusse in 2010 verder vaartbelyn

Sokkergeesdriftiges is nie die enigste mense wat iets het om na uit te sien in 2010 nie. Die studente en personeel kan groot verbeteringe in die prosesse van Universiteit Stellenbosch se Kortkursusafdeling in die nuwe jaar te wagte wees. Hierdie afdeling, 'n filiaal van InnovUS, gaan sy prosesse verder vaartbelyn deur nog nader aan die Universiteit se aanlynomgewing te migreer.

Die nodige voorbereidings is reeds getref om te verseker dat daar aan die bepalings van die Beleid op die Aanbieding van Kortkursusse by Universiteit Stellenbosch (Policy in respect of the presentation of short courses at Stellenbosch University) voldoen word. Dit behels die volgende:

  • Klaar en gedaan: Streng riglyne vir die uitreiking en druk van kortkursussertifikate is reeds opgestel om die veiligheid van die sertifiseringsproses te verseker. Sertifikate mag reeds sedert Julie vanjaar nie deur 'n individu of departement gedruk word nie, maar mag tans slegs deur SUN MeDIA, die Universiteit se drukwerk- en publikasieafdeling vir die Stellenbosch-, Bellville Park- en Tygerberg-kampus gedruk word.
  • Verbetering van registrasie: Die Universiteit se Departement Informasietegnologie is tans besig om die kortkursusregistrasiestelsel meer vaartbelyn te maak sodat dit doeltreffender en meer gebruikersvriendelik is. Dit sal na verwagting op 1 Maart 2010 in werking tree.
  • Evaluering: Alle kortkursusse moet na elke aanbieding geëvalueer word. Evalueringsvorms is op die Afdeling vir Kortkursusse se webwerf beskikbaar en moet na elke aanbieding aan studente en kursusgangers beskikbaar gestel word. Die data wat ingesamel word, moet verwerk en aan die Afdeling vir Kortkursusse verskaf word ten einde die kortkursusse verder te ontwikkel. Kliek hier om die evalueringsvorm af te laai.
  • Verdere ontwikkeling: Beplanning is op dreef om die registrasieproses vir kortkursus-studente verder te verfyn en om 'n omvattende databasis van studente by te hou.

Enige verdere inligting nodig? Kliek hier om Kortkursusse se webwerf te besoek, of skakel me. Carol Kat by 021 808 2992 of e-pos carolk@sun.ac.za.


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University