InnovUS e-nuus 4de uitgawe
Vrydag, 12 Maart 2010
InnovUS ondersteun 'n suksesvolle reis van laboratorium na mark
InnovUS het die kundigheid van 'n hele paar bedryfsleiers saamgevoeg in 'n publikasie wat spesifiek vir uitvinders en navorsers saamgestel is. Die nuwe InnovUS gids vir entrepreneurs wat graag hul idees wil kommersialiseer verskaf waardevolle inligting oor sleutelaspekte van innovasie wat strek van patente en sakeplanne tot maatskappy-inligting en regs- en belastingkwessies. Hiermee word gepoog om die gaping tussen navorsing en die mark te oorbrug.
Anita Nel, hoof-uitvoerende beampte sê: "Ons is baie dank verskuldig aan elkeen van hierdie persone wat 'n bydrae tot die publikasie gelewer het dat hulle hul insigte en sakevernuf met ons gedeel het om sodoende 'n unieke en beduidende waarde tot hierdie boek by te voeg."
InnovUS, as die Universiteit Stellenbosch se volfiliaal-tegnologie-oordragmaatskappy, bestuur die kommersialisering van intellektuele eiendom en innovasie van een van die toonaangewende universiteite op die vasteland van Afrika en doen wetenskaplike navorsing van wêreldgehalte. Maar volgens Anita bied dit 'n groot uitdaging om markblootstelling aan hierdie deurbrake te gee.
"Ons vertrou hierdie gids sal 'n nuttige inligtingsbron wees vir enige entrepreneur wat 'n idée wil kommersialiseer. Die onderwerpe is met groot sorg gekies om 'n breë oorsig oor en 'n praktiese grondslag vir innovasie te bied, maar spesifieke advies is nog steeds nodig vir elke kommersiële transaksie," sê Anita.
In sy inleiding tot hierdie publikasie sê prof. Leopoldt van Huyssteen, uitvoerende Direkteur van Bedryf en Finansies: "Ons hoop julle sal hierdie inligting gebruik om by die groeiende geledere van ons baanbrekeruitvinders en -navorsers aan te sluit."
Hy voeg by dat InnovUS 'n baanbreker is op die gebied van tegnologie-oordrag en dat die Universiteit Stellenbosch se uitvinders en navorsers steeds nuwe standaarde daarstel en die grense verskuif oor wat as moontlik op die gebied van innovasie beskou word.
"InnovUS het reeds 52 patente in Suid-Afrika en die buiteland - dit is 'n uitmuntende prestasie vir 'n inisiatief wat nog net 'n dekade bestaan," sê prof. Van Huyssteen.
Die inhoud van hierdie publikasie skenk veral aandag aan die verloop van die proses van idee tot patent, van patent tot die mark, en om dan winsgewend te wees. Dit verskaf ook waardevolle inligting oor hoe om patente te lisensieer en afwentelmaatskappye te stig.
Die gids sal eersdaags van InnovUS se webwerf afgelaai kan word. Dit sak ook in gedrukte vorm by InnovUS se kantoor of in elektroniese formaat op CD beskikbaar wees.
Opwindende nuwe innovasies kry nasionale blootstelling
Drie spanne van die Universiteit Stellenbosch neem aan die nasionale rondes van die jaarlikse Innovasie -kompetisie deel. Hulle is as institusionele wenners aangewys in die plaaslike stadium van die kompetisie. Die doel van hierdie toonaangewende gebeure is om die kommersialisering van die innovasies van jong entrepreneurs soos die ontwikkelaars van PowerMon, Training Buggy en uMove aan te moedig. InnovUS is tans besig om hierdie unieke uitvindings te patenteer.
Spanlede van al drie spanne stem saam dat die ondersteuning van InnovUS uitnemend is. "Hulle is nie net deeglik nie, maar ook entoesiasties oor die proses," sê Frank Janse van Vuuren, mede-uitvinder van Training Buggy.
David van den Heever, mede-uitvinder van uMove, voeg by dat InnovUS se ondersteuning tydens die kompetisie van onskatbare waarde is. "Ons sou dit nie sonder hulle kon doen nie. Ons waardeer hulle insette en professionalisme tydens die hele proses."
PowerMon
Dr. Coenrad Fourie en sy span het PowerMon, 'n laekostekragmeter, ontwikkel.
"Hierdie kompetisie bewys weer eens hoe innoverend die Universiteit Stellenbosch is en ons voorspel dat Stellenbosch baie goed sal vaar in die nasionale rondes," sê dr. Fourie. "Die hoogtepunt van die proses tot dusver is natuurlik om een van die top drie spanne te wees wat by die Universiteit Stellenbosch gekies is! Met inagneming van Stellenbosch se rekord in die nasionale ronde, hoop ons om saam met die ander twee spanne in die kompetisie uit te blink."
Hy voeg by dat die spanne baie geleer het by die kompetisieslypskool wat in Januarie in Kaapstad aangebied is.
"Die hoogtepunt van die slypskool was die aangesig-tot-aangesig kontak met mentors. Dit is nie altyd so maklik om mense met suksesvolle ondernemings te vind om hulp te verleen nie aangesien hulle tyd so beperk is."
Volgens dr. Fourie is die span se eerste prototipe reeds gebou en die volgende stap is om 'n ander prototipe vir massaproduksie te bou. As hy in die toekoms weer die geleentheid kry om vir die kompetisie in te skryf, sal hy dit sekerlik doen sê dr. Fourie.
Training Buggy
Frank Janse van Vuuren en sy span, Edward Ehlers, Ruan van der Merwe en Pieter Greeff, het 'n mededingende voordeel op die atletiekveld met hul unieke projek, Training Buggy.
"Indien ek die geleentheid kry, sal ek weer aan die kompetisie deelneem. Die prysgeld is aantreklik, maar die ondersteuning wat ons gekry het, is die belangrikste."
Mnr. Janse van Vuuren voeg by dat die span geleer het dat 'n beduidende hoeveelheid werk noodsaaklik is om 'n idee in 'n werkende konsep met 'n sakeplan te verander.
"Maar harde werk is nie iets nuuts vir vier ingenieurs nie," sê hy.
Die span konsentreer tans daarop om veranderinge aan te bring voortspruitend uit toetse wat in die veld gedoen is aangesien hulle alreeds om patentering aansoek gedoen het en met 'n bedryfsontwerpmaatskappy saamwerk om die produk te finaliseer.
uMove
David van den Heever en sy span het uMove, 'n pasiënt-spesifieke knievervangingsproduk, ontwikkel. Volgens hom ontwikkel die span 'n toetsprototipe en doen rekenaarsimulasies van die produk.
Mnr. Van den Heever sê die proses het hom geleer dat dit harde werk en 'n baie groot uitdaging is om 'n onderneming te begin. Die regte finansiering is ook onontbeerlik.
Projekte blom onder ervare nuwe oog
Die private sektor se verlies is InnovUS se aansienlike wins met Philip Marais wat op 'n deeltydse grondslag by die maatskappy aansluit as 'n sakeontwikkelaar. As 'n kleinsake-opleier met 'n magistergraad in Meganiese Ingenieurswese, bestuur hy die kommersialisering van 'n hele getal InnovUS-projekte. Hierdie reuse taak behels die suksesvolle identifikasie en beskerming van intellektuele eiendom, die vasstelling van markroetes en die identifisering van markte vir nuwe tegnologieë.
Philip is tans verantwoordelik, en in sommige gevalle gesamentlik verantwoordelik, vir ten minste 20 projekte wat strek van gesondheidsorg tot lughawesekuriteit.
Die Gloukoma-projek (Glaucoma Project) stel ondersoek in na nuwe behandeling van die optiese senuwee wat veroorsaak word deur swelling van die oogbal; MicMar is 'n tegnologie vir die bepaling van die dikte van biofilms in vloeistowwe; PowerMon meet elektriese kragverbruik vir die verbruiker; Scryer spoor metaal, plastiek en keramiek voorwerpe by lughawe-sekuriteitstelsels op en LifeQ is 'n toestel wat 'n persoon se metaboliese snelheid en spier- en vetmassa kan bepaal deur hul asem te ontleed.
Toe Philip gevra is watter opwindende nuwe projekte tans beplan word, het hy verduidelik dat goeie vordering met die Water Filter Bag gemaak word.
"'n Eksklusiewe vervaardigingsooreenkoms word binnekort onderteken en die produk het internasionale markmoontlikhede," sê Philip. Dit is hierdie soort bemarkingsmoontlikhede wat InnovUS poog om met hul projekte te bereik.
Philip sê: "Anita en die InnovUS span, asook die direksie, het absoluut uitmuntend gevaar om InnovUS te posisioneer as 'n tegnologie-oordragkantoor met 'n werklike impak. Ek sien daarna uit om hulle te help om hul visie te verwesenlik."
Philip geniet dit om weer terug te wees op kampus. "Dit is goed om deel te wees van die energie en al die geleenthede wat gekanaliseer kan word." Hy was vir jare betrokke in die sagteware-ontwikkelingsbedryf voordat hy een van die stigterslede van HBD Venture Capital geword het.
Suid-Afrikaanse tegnologie-oordrag op gelyke voet met internasionale eweknieë
InnovUS het onlangs hul projekbestuurder, Yongama Skweyiya, na Oxford Universiteit gestuur om soveel as moontlik uit te vind oor die beste praktyke vir tegnologie-oordrag en kommersialisering. Hy het besoek afgelê by Isis-Innovations wat oor 'n tydperk van 20 jaar van die beste tegnologie afkomstig van tersiêre instellings wêreldwyd, gekommersialiseer het.
Yongama se besoek het deel gevorm van die Departement van Wetenskap en Tegnologie se tegnologie-oordrag kapasiteitsbou-program. Spesiale dank gaan aan McLean Sibanda van die departement se Innovasie Fonds; hy het 'n instrumentele rol gespeel in die reël van die besoek as deel van 'n lys van aktiwiteite van die Nasionale Intellektuele Eiendom Bestuur Kantoor.
In Yongama se eie woorde:
"As 'n mens luister na die suksesverhale van Isis-Innovations (Isis), Oxford Universiteit se tegnologie-oordragmaatskappy, kan 'n mens nie anders as om opgewonde te voel oor die moontlikhede wat vir ons klein tegnologie-oordragkantore in Suid-Afrika bestaan nie.
Mettertyd sal ons ook kan spog met die notering van sommige van ons afwentelmaatskappye op die AltX (Alternatiewe Aandelebeurs) op die JSE (Johannesburg Aandelebeurs). My besoek het vir my baie beter insig in 'n makroskaal-tegnologie-oordragkantoor of -maatskappy gegee.
Gedurende hierdie ervaring het ek besef dat al is ons klein by InnovUS, is ons nietemin van wêreldgehalte en ons prosesse en werksetiek kan meeding met baie suksesvolle tegnologie-oordragmaatskappye soos Isis.
Ons instelling, Universiteit Stellenbosch, se navorsers staan nie 'n tree terug vir Oxford Universiteit se navorsers nie, en ons tegnologie vergelyk ook gunstig met dié van Oxford. As 'n nuweling in die tegnologie-oordragruimte was dit vir my 'n groot uitdaging om my voete in hierdie ontwikkelende bedryf in Suid-Afrika te vind.
Daar is verskeie boeke en ander publikasies oor die onderwerp van tegnologie-oordrag geskryf, maar nie een kan indringende ervaring op die gebied aanbied nie. Dit word verder bemoeilik deur die heeltemal verskillende landskap wat in Suid-Afrika bestaan.
Gedurende my kort besoek aan Isis het ek baie geleer oor die tegnologie-oordragbedryf en sy plek binne die raamwerk van 'n intellektuele-eiendomsbeleid van 'n instelling in Suid-Afrika ingevolge die Wet op Intellektuele Eiendomsreg.
Die ervaring het aan my die geleentheid gebied om meer te leer en 'n beter begrip te kry van die tegnologie-oordragproses by 'n instelling wat oor 'n hele paar jaar 'n unieke kultuur en stelsels ontwikkel en vervolmaak het.
Alhoewel ek nie alles sal kan toepas wat ek geleer het nie omdat tegnologie-oordrag nog in sy kinderskoene staan in Suid-Afrika, stel die goeie praktyke wat ek geleer het my in staat om 'n omvattende begrip te kry van hoe alles werk en die integrasie van al die stelsels.
Die sleutelrol van 'n tegnologie-oordragkantoor is om die intellektuele eiendom wat voortspruit uit die navorsing wat by daardie spesifieke instelling gedoen word, te kommersialiseer. Die internasionale uitgangspunt is dat 'n tegnologie-oordragkantoor hoegenaamd nie derdestroominkomste vir 'n instelling hoef te genereer nie. Ag moet daarop geslaan word dat hierdie afdeling of entiteit - ten minste tydens die aanvangsfase - eerder 'n kostesentrum as 'n winssentrum vir 'n instelling is.
Vaardigheidsoordrag het by Isis alle aspekte van die tegnologie-oordragkantoor of -maatskappy oortref: van kommersialisering tot kernelemente wat Isis 'n uitblinker gemaak het onder ander tegnologie-oordragmaatskappye wêreldwyd wat teen 'n verlies bedryf word.
Alles in ag genome was hierdie ervaring uiters insiggewend. Ek het as persoon gegroei en dit het aan my die geleentheid gebied om nuwe vaardighede te ontwikkel wat ek in my werk kan toepas. Ook het dit aan my die geleentheid gebied om anders na dinge te kyk as voordat ek Oxford toe gegaan het."
'n Nuwe manier om plaaslike leierskap te meet
Die Leierskapgedraginventaris (Leadership Behaviour Inventory) is 'n produk wat gebruik word om te meet hoe doeltreffend leiers die uitdaging die hoof bied om leiding aan mense te gee, verandering te dryf en prestasie te bestuur. Die LBI-2, die tweede weergawe van die produk, word tans afgerond voordat dit aan maatskappye beskikbaar gestel word deur 'n lisensie ooreenkoms met 'n industrie vennoot.
Volgens die ontwikkelaar van LBI-2, prof. Herman Spangenberg, is die ondersteuning wat hy en mede-ontwikkelaaar, prof. Callie Theron, by InnovUS gedurende die ontwikkelingsproses gekry het van onmeetbare waarde. Prof. Spangenberg voeg by dat InnovUS 'n beskermende rol gedurende die proses gespeel het en verseker het dat probleme waarop die ontwikkelaars nie bedag was nie, onmiddellik opgelos is. InnovUS het ook die lisensie-ooreenkoms gefasiliteer.
"Ek het absolute vertroue in die InnovUS-span en hulle het ons gehelp om enige moontlike slaggate op die pad te vermy," sê prof. Spangenberg.
Hy verduidelik dat LBI-2 'n vaartbelynde weergawe van die aanvanklike produk is.
"Na uitgebreide navorsing en met inagneming van ons eie ervaring, het ons die waardevolle terugvoering op die eerste weergawe in ag geneem ten einde 'n bestaande suksesvolle produk nog te verbeter," sê prof. Spangenberg.
Die doel van LBI-2 is om te bepaal oor watter vermoëns leier en bestuurder moet beskik ten einde belangrike veranderinge in werking te stel, maar terselfdertyd die prestasie van die eenheid in stand te hou. Dit gebruik 'n leierskapvraelys met 20 dimensies in vier fases om 'n Leierskapgedraginventaris te ontwikkel. Dit is ontwikkel spesifiek met die Suid-Afrikaanse konteks in gedagte.
LBI-2 identifiseer gebiede waarin 'n leier deur ontwikkeling bevoordeel kan word en is nie ontwikkel om leierskappotensiaal te identifiseer by diegene wat nie tans in leiersposisies is nie. Dit is veral geskik vir middel- tot seniorvlakbestuurders wat hul posisies al vir ses maande beklee en aan wie twee of meer persone rapporteer.
Die voordeel van LBI-2 word veral duidelik as die assesseringterugvoering geïntegreer word in 'n ontwikkelingsbespreking wat deur 'n ervare konsultant gefasiliteer word wat dan die leier kan help om 'n praktiese ontwikkelingsplan in die werkplek in werking te stel.
Volgens LBI-2 se tegniese handleiding is die belangrikste uitgangspunt van die produk steeds dat die resultaat van leierskap lei tot die prestasie, doeltreffendheid en gesondheid van 'n spesifieke werkseenheid. "Ek glo dat leierskap sonder die ondersteuning van gesonde bestuursvaardighede nooit 'van die grond af kan kom nie'".
Aromatiese veranderinge in die wynbedryf
InnovUS verskaf binnekort aan die wynbedryf 'n nuwe instrument om meer aromatiese wyne te produseer deur prof. Florian Franz Bauer en prof. Pierre van Rensburg te help met die ontwikkeling van PR7, 'n nuwe hibriede gis-stam. 'n Lisensiëringsooreenkoms is met Anchor Yeast onderteken en die prestige gis is reeds aan wynmakers beskikbaar in 'n treffende goue verpakking.
Volgens prof. Bauer, is stamme van twee verskillende spesies, Saccharomyces cerevisiae en Saccharomyces paradoxus, gehibridiseer. Die Saccharomyces cerevisiae-stam is gekies omdat dit vinnig en heeltemal kan fermenteer en 'n gemiddelde aromatiese produksiepotensiaal het. Die Saccharomyces paradoxus-stam is gekies omdat dit appelsuur kan degradeer en omdat dit 'n invloed het op aromatiese produksie gedurende fermentasie.
"Hibridisering van hierdie aard tussen spesies is eerstens moeilik om te bewerkstellig en verder word dit bemoeilik deur die genetiese onstabiliteit van die meeste hibriede," sê prof. Bauer.
Maar, verduidelik prof. Bauer, eksperimentele wyn is met hierdie twee hibriede gemaak en dit het getoon dat hierdie stamme 'n hoër aromatiese samestelling produksiekapasiteit het as die ouergis.
Die gehalte van wyn word deur 'n verskeidenheid faktore beïnvloed, naamlik veral die gehalte van die druiwe, die wynmaakpraktyke en die gisstam wat vir alkoholiese fermentasie gebruik word. Volgens prof. Bauer, is verskillende gisstamme aanwesig in die mos aan die begin van die fermentasieproses, maar stamme van die Saccharomyces cerevisiae domineer vinnig en oorleef alkoholiese fermentasie. Volgens hom het navorsing gelei tot die ontwikkeling van 'n verskeidenheid bedryfsgis-aanvangskulture en die meeste van hulle is van die spesie Saccharomyces cerevisiae.
"Aanvangskulture lei gewoonlik tot vinnige en algehele fermentasie met die minimale produksie van skadelike stowwe soos vlugtige suur, H2S, SO2 en etielkarbamaat. Gisstamme moet ook die moeilike omgewing wat tydens alkoholiese fermentasie geskep word, kan oorleef. Saccharomyces cerevisiae, alhoewel dit baie enologiese voordele bied, is beperk omdat dit nie die kenmerke het wat van enologiese belang is soos pektonilitiese aktiwiteit appelsuur-degraderingskapasiteit nie. Nuwe en verskillende aromaprofiele kan ook wenslik wees."
Hierin lê die unieke voordeel van hibridisering met Saccharomyces paradoxus om PR7-gis te vorm, volgens prof. Bauer. Hierdie nuwe hibride gisstam bied die wynbedryf uitmuntende nuwe gereedskap om die produksie van nuwe wynstyle te fasiliteer.
