skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 5de uitgawe - 19 Mei 2010

    SOEK 

InnovUS e-nuus 5de uitgawe
Woensdag, 19 Mei 2010

Uitvinders vind baat by nasionale databasis

Uitvinders by InnovUS en die Universiteit Stellenbosch gaan baie baat vind by die nuwe tegnologie-oordragmodule wat op die InfoEd-stelsel by die Universiteit in werking gestel gaan word. Hierdie module sal administratiewe ondersteuning bied vir die bestuur van onder meer intellektuele eiendom en patente. Die InfoEd-stelsel sal doeltreffende navorsingsbestuur vergemaklik, prosesse meer vaartbelyn maak en dit moontlik maak om navorsingsaktiwiteite op 'n nasionale vlak op te spoor. InnovUS sal egter steeds voortgaan om uitvinders te adviseer, die oordrag van tegnologie te vergemaklik en te verseker dat die skat van kennis van navorsers en uitvinders by die Universiteit steeds bydra tot die welsyn van die samelewing in sy geheel.

Volgens Doris Peters, Intellektuele Eiendom- en Finansiële Assistent: InnovUS, sal die InfoEd–databasis en die nuwe tegnologie-oordragmodule voorsiening daarvoor maak dat uitvindings op 'n doeltreffende wyse opgeteken en gemonitor word en sal dit 'n makliker patenteringsproses daarstel. InnovUS sal ook in staat wees om die stelsel te gebruik om die samestelling van verslae wat belangrike statistiek bevat meer vaartbelyn te maak. Hierdie verslae kan dan ook aan regulerende liggame en belanghebbendes voorgelê word.

InfoEd, ook bekend as die Navorsings-inligtingbestuurstelsel (Research Information Management System (RIMS)), sal by Suid-Afrikaanse universiteite, wetenskaprade en die staat in werking gestel word. Universiteit Stellenbosch is lid van 'n konsortium van Suid-Afrikaanse tersiêre instellings wat die stelsel konfigureer. Die stelsel sal die bestuur van besigheidsprosesse van die eerste bekendmaking tot die patentering van 'n uitvinding vergemaklik.

Die tegnologie-oordragmodule is 'n administratiewe hulpmiddel en nie 'n databasis van bestaande tegnologie en patente nie. Alle uitvinders sal dus nog steeds bestaande prosedures in samewerking met InnovUS navolg ten einde vas te stel watter patente soortgelyk aan hul beoogde navorsingsvelde reeds bestaan. Die module bied ook die moontlikheid van 'n elektroniese alternatief en versnel bestaande prosesse. Dit sal vroeg in die tweede semester by die Universiteit bekendgestel word en verdere InfoEd-modules sal dienooreenkomstig infaseer word. Die afdeling vir Navorsingsontwikkeling is verantwoordelik vir die inwerkingstelling van InfoEd op kampus en sal opleiding in die verskillende modules verskaf. 'n Hulplessenaar sal navorsers ook met hul aanlyntoepassings ondersteun.
Daar is submodules in die tegnologie-oordragmodule, naamlik die bekendstelling van nuwe tegnologie, die navolg van die ontwikkeling van gevalle en die indien van patente. Navorsers en personeel aan Universiteit Stellenbosch sal toegang tot InfoEd deur die personeelportaal verkry. Die stelsel sal moontlik dien as 'n sentrale bron van bygewerkte inligting oor toekennings, navorsingskontrakte, etiek, intellektuele eiendom, navorsingsresultate en inligting oor navorsers. Dit sal aan navorsers die geleentheid bied om hul kundigheid te bemark en netwerke met ander navorsers op hul gebied te ontwikkel.

Brosjure help navorsers op opwindende pad

Of jy 'n navorser is wat jou tegnologie wil lisensieer, of jy wil 'n nuwe onderneming gegrond op jou navorsing begin, is InnovUS daar om jou te help. Hierdie volfiliaal tegnologie-oordragmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch het nou 'n brosjure gepubliseer om navorsers op hierdie opwindende pad te help.

"Ons het begrip daarvoor dat navorsers op hul spesialisgebiede wil konsentreer en dit nie altyd maklik is om hierdie indrukwekkende en werklik merkwaardige deurbrake blootstelling in die mark te gee nie. Hierdie brosjure verskaf waardevolle inligting oor die kernaspekte van innovasie - van patente, sakeplanne en maatskappy-inligting tot die oorbrugging van die gaping tussen navorsing en die bekendstelling daarvan in die mark, asook regs- en belastingkwessies. Dit is 'n samevoeging van die ervaring van leiers op hul onderskeie gebiede," sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS.

Anita sê hulle glo hierdie gids sal 'n nuttige hulpbron wees vir enige navorser of entrepreneur wat die kommersialisering van 'n idee oorweeg. "Die onderwerpe is met die grootste sorg gekies ten einde 'n breë oorsig oor en 'n praktiese grondslag vir innovasie te verskaf, hoewel baie spesifieke raad egter nodig is vir elke kommersiële transaksie. Ek rig graag 'n spesiale uitnodiging aan die navorsers en personeel van die Universiteit Stellenbosch om jul uitvindings bekend te maak en 'n kultuur van entrepreneurskap op die kampus te vestig. Uitvinders kan gerus wees dat InnovUS se ervare personeel hul intellektuele eiendom sal beskerm en ooreenkomste sal beding wat uiteindelik tot die uitvinder se finansiële voordeel sal lei.

"As ons wetenskap in die mark aanwend tot voordeel van ons mense, word ons 'n tersaaklike Universiteit wat hoop bring en 'n bydrae lewer tot die Suid-Afrikaanse samelewing en op die vasteland van Afrika."

Volgens prof. Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Direkteur: Bedryf en Finansies, is daar eers die groot idee en dan volg innovasie. Maar om jou idee te ontwikkel en te patenteer kan 'n uiters uitdagende proses wees. "Daarom het InnovUS die kundigheid van 'n wye spektrum bedryfsleiers bymekaargebring en dit in hierdie publikasie saamgestel. Ons vertrou julle sal hierdie inligting benut en aansluit by die groeiende geledere van ons baanbreker-uitvinders en -navorsers.

"Graag rig ek dan ook 'n uitnodiging aan Matie-alumni wat leiers op hul gebiede is om by InnovUS betrokke te raak as sakeadviseurs, medebeleggers of direksielede in ons opwindende portefeulje afwentelmaatskappye. Ons het baie nuwe en opwindende inisiatiewe op die tafel en nooi julle uit om by ons aan te sluit en hierdie ondernemings te ondersteun."

Hierdie brosjure is ook aanlyn of in gedrukte formaat verkrygbaar by die InnovUS- kantoor by De Beerstraat 15, Stellenbosch. Skakel gerus 021 808 3826 vir verdere inligting.

NioCAD kry hoogste eerbewys vir innovasie

NioCAD (Edms.) Bpk. Edms., 'n jong InnovUS–afwentelmaatskappy, het onlangs teen swaargewigte in die bedryf meegeding vir die toonaangewende Technology Top 100 Awards (TT100). Hulle het uitstekend gevaar en met die louere in die innovasiekategorie weggeloop en ook 'n tweede trofee vir die bestuur van mense gewen.

NioCAD is in die departement van Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch opgerig en het in Februarie 2007 met produkontwikkeling begin. Dit het slegs tien maande gelede 'n InnovUS-afwentelmaatskappy geword nadat dit NioPulse, die wêreld se eerste geïntegreerde elektroniese kringontwerpsagteware ontwikkel het. NioPulse is veral op ultrahoëfrekwensie supergeleierkringe gerig.

Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS, sê: "InnovUS het gehelp met die bestuur van die intellektuele eiendom deur navorsing verkry en het tot die oprigting van die afwentelmaatskappy bygedra. Ons het befondsers bekendgestel en met hulle geskakel, advies gegee oor regsaspekte en tussentydse befondsing voorsien voordat die onderhandelinge met die befondsers afgehandel was. Ons is absoluut verheug oor NioCAD se toekenning en beskou dit as die toppunt van ons lang verbintenis met die maatskappy en sy mense. Dit is regtig 'n riem onder die hart dat een van ons afwentelmaatskappye op so 'n wyse uitgeblink het."

Die TT100 identifiseer Suid-Afrikaanse rolmodelle wat deur innovasie, volharding en 'n hartstogtelike geloof in mense hul innovasie en organisasies tot nuwe hoogtes van mededingendheid voer. Deelnemers moet tegnologiegebruikers of –ontwikkelaars wees en behels 'n breë spektrum maatskappye van bedryfs- tot kommersiële markte in die openbare en private sektor.

Retief Gerber, Hoof Uitvoerende Beampte, staan aan die stuur by NioCAD tesame met die direkteure prof. Willem Perold en dr.Conrad Fourie. Mnr. Gerber sê: "Ons was aanvanklik nie eens bewus van die kompetisie nie. Iemand het ons anoniem genomineer en toe het TT100 ons gevra om in te skryf. Ons inskrywing het bestaan uit 'n omvattende vraelys wat dae geneem het om te voltooi. Daar was 26 beoordelaars wat die antwoorde verwerk het. Uit hierdie inligting besluit hulle vir watter kategorie 'n spesifieke maatskappy in aanmerking kom en hoe dit beoordeel sal word."

Een wenner en 'n paar finaliste in die gevestigde en opkomende sektore is in elke kategorie gekies. Ten einde die eerste plek in die innovasiekategorie te kon behaal, is NioCAD vir sy prestasie ten opsigte van produk, proses en organisatoriese vermoë geëvalueer. NioCAD was ook een van die drie finaliste in die kategorie vir die bestuur van mense en in hierdie kategorie is dit geëvalueer vir die optimalisering van die doeltreffendheid van sy werknemers en die skep van 'n harmonieuse werksomgewing. Klem is geplaas op mentorprogramme, behoud van personeel, opleiding en ontwikkeling, en aansporings om die personeel aan te moedig om deel van die innovasieproses te word. NioCAD het nie net twee trofeë ontvang nie, maar ook die reg om die TT100-logo op al sy bemarkingsmateriaal te gebruik, en ook die hoë aansien aan sodanige eerbewyse verbonde.

Die TT100 Awards is vir die eerste keer in 1990 toegeken en is Suid-Afrika se toonaangewendste saketoekenningsprogram. Dit geniet die ondersteuning van die openbare en private sektor. Die departement van wetenskap en tegnologie het 'n mandaat aan TT100 ('n lid van die Da Vinci-groep) gegee om Suid-Afrika se rolmodelle in wetenskap en tegnologie te gedenk. Enige organisasie wat in Suid-Afrika geregistreer is, kan inskryf.

Kortkursusse word opgegradeer

Universiteit Stellenbosch het onlangs sy registrasiestelsel vir kortkursusse opgradeer om dit vinniger en meer gebruikersvriendelik te maak. Die opgradering sal ook sekere beheermaatreëls vir die akademiese gehalteversekering van kortkursusse daarstel. Terselfdertyd word die nuwe Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR)-vlakke ook infaseer ingevolge die Hoër Onderwys Kwalifikasieraamwerk (HEQF) soos op 5 Oktober 2007 gepubliseer.

Volgens Carol Kat, Outeursregbeampte en Kortkursusse-administrateur: InnovUS, het dit duidelik geword dat Universiteit Stellenbosch se elektroniese registrasieproses vir kortkursusse stadig en moeilik om te gebruik was. "Die stelsel word vir die registrasie van kortkursusse gebruik en moenie verwar word met die stelsel wat gebruik word vir studenteregistrasie nie. Ons het sekere veranderinge aan die stelsel aangebring om beter beheer oor die akademiese gehalte van en begroting vir kortkursusse te verseker," sê Carol.

Die stelsel het op 23 April lewendig geraak en verdere verbeteringe en veranderinge sal in die toekoms aangebring word. Die registrasieproses is wesenlik dieselfde, maar vinniger, meer vaartbelyn en meer gehaltespesifiek. Sekere inherente meganismes verseker dat 'n kortkursus net aangebied kan word nadat dit aan die volle akademiese goedkeuringsproses onderworpe is.

Nuwe NKR-vlakke vir kortkursusse word ook by die Universiteit infaseer. "Universiteit Stellenbosch het reeds begin om stelselmatig bestaande akademiese programme met die HEQF te belyn," sê Carol. "Met die inwerkingstelling van hierdie NKR-vlakke verander ons van 'n agt-vlak raamwerk na 'n tien-vlak raamwerk."

Carol verduidelik dat stappe tans gedoen word om die Suid-Afrikaanse hoër onderwysstelsel voor te berei vir die inwerkingstelling van die HEQF en vir die aanpassing na 'n tien-vlak raamwerk. "Universiteit Stellenbosch het verlede jaar in Junie met hierdie proses begin en beoog om dit teen 2012 ten volle in werking te gestel het."

Sy moedig alle koördineerders van kortkursusse aan om die Universiteit Stellenbosch se webwerf te besoek vir verdere inligting oor die registrasieproses en die nuwe NKR-vlakke. Of skakel andersins vir Carol Kat by (021) 808 2992 of stuur 'n e-pos aan carolk@sun.ac.za.

Eet slim met RenalSmart

RenalSmart is 'n InnovUS-projek wat 'n webgebaseerde dieetprogram vir pasiënte met chroniese nierkwale ontwikkel het. Die RenalSmart-voedinginligtingstelsel was oorspronklik vir niediabetiese pasiënte met nierkwale bedoel. As gevolg van die groot aanvraag van dieetkundiges gaan die program egter nou aangepas word om ook voorsiening te maak vir die dieetbestuur van pasiënte met diabetiese nierkwale.

Volgens professor Marietjie Herselman, Hoof van die Afdeling Menslike Voeding: Universiteit Stellenbosch, is 'n diabetiese nierkwaal 'n komplekse siekte wat die gelyktydige bestuur van veelvuldige voedingstowwe in 'n pasiënt se dieet noodsaak. "Daar bestaan 'n behoefte aan 'n eenvormige en vereenvoudige benadering tot die bestuur van die dieet van pasiënte met diabetiese nierkwale. Hierdie program is 'n webgebaseerde hulpmiddel wat deur Nazeema Esau, 'n meestersgraad-student aan die Universiteit van Stellenbosch, ontwikkel gaan word en deel van die RenalSmart-voedinginligtingstelsel sal uitmaak as dit voltooi is."

Professor Herselman voeg by dat die RenalSmart-program ontwikkel is vir die vinnige en akkurate beplanning van nierdiëte veral vir gebruik deur dieetkundiges. Dit bestaan uit twee komponente. Die eerste is 'n blog wat voorsiening maak vir interaksie tussen gebruikers en gratis toegang bied tot opvoedkundige materiaal, resepte en nieruitruillyste wat vir die berading van pasiënte aangewend kan word.

Die blog gee ook toegang tot die tweede komponent, die RenalSmart-toepassing, gegrond op die Suid-Afrikaanse nieruitruillyste. Hierdie toepassing maak voorsiening daarvoor dat 'n pasiënt se mediese en kliniese inligting aangeteken word en die program werk dan vanselfsprekend 'n dieetvoorskrif, eetplan en spyskaarte vir die pasiënt uit. Dieetkundiges kan egter self volgens hul kliniese oordeel veranderinge in individuele gevalle aanbring.

Die RenalSmart-program verminder dieetkundiges se konsultasietyd, maak voorsiening vir akkurater beplanning van nierdiëte, en pas die nuutste wetenskaplike riglyne op die kliniese praktyk toe. Dit bied ook 'n eenvormiger benadering tot pasiënte se voedingbestuur en verbeter die kommunikasie en interaksie tussen beroepslui in gesondheidsorg terwyl daar voortdurend navorsing gedoen word.

Besoek die RenalSmart-webwerf by www.renalsmart.co.za vir verdere inligting.

Skerp nuwe oog op besigheidsontwikkeling

InnovUS het onlangs nog 'n waardevolle bate bygekry in die ervaring en kennis van die besigheidsontwikkelaar Saberi Marais. Hy is 'n navorsingswetenskaplike met 'n MSc in Molekulêre en Selbiologie en het ook verskeie Handelsregkursusse by Unisa en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Intellektuele Eiendom voltooi. Saberi se rol by InnovUS is om nuwe uitvindings by die Universiteit Stellenbosch te identifiseer en as kontakpunt vir navorsers op te tree en hulle te help om besigheidsgevalle en –geleenthede vir hul werk te ontwikkel.

"Ek sien uit na hierdie uitdaging omdat ek gemotiveer word deur die moontlike geleenthede om waarde te put uit die Universiteit Stellenbosch se sleutelhulpbronne: sy navorsers, hul idees en hul uitvindings," sê Saberi wat op 10 Mei by InnovUS aangesluit het. Hy voeg by dat die kwalifikasie wat hy by die Wits Besigheidskool se Bestuursontwikkelingsprogram verwerf het hom 'n goeie grondslag gegee het van besigheidsteorie in alle dissiplines.

Saberi het sy loopbaan as 'n navorsingswetenskaplike by 'n Britse biotegnologiemaatskappy in Kaapstad begin. Daar was hy betrokke by navorsing oor die verbetering van die doeltreffendheid van tuberkulose diagnostiese toerusting. Daarna was hy 'n tegnologie-oordragbestuurder by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Innovasiesentrum. Sy projekte by die MNR was gerig op uitvindings gegrond op algemene gesondheidsinnovasie soos byvoorbeeld neutraseutika, nuwe diagnostika en mediese toestelle waarvoor hy die kwessies rakende die vryheid om te opereer evalueer het, intellektuele eiendom beskerm het, lisensiëringsgeleenthede geïdentifiseer het en besigheidsgevalle ontwikkel het.
Uit 'n persoonlike oogpunt sê Saberi sy blootstelling aan entrepreneurskap het reeds op 'n baie jong ouderdom in sy familie se onderneming begin. Gesinsbande is baie belangrik vir hom en hy bring graag tyd saam met sy vrou Nailah en babaseun Zaahid deur. "Ek geniet dit in die buitelug, stap graag en neem aan skopboks deel. Binnekort gaan ek ook probeer skilder."


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University