skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 6de uitgawe - 9 Julie 2010

    SOEK 

InnovUS e-nuus 6de uitgawe
Vrydag, 9 Julie 2010

Verduideliking van Intellektuele Eiendom

Patentereghouers het uitsluitlike regte om hul uitvindings vir 'n tydperk van ongeveer 20 jaar te gebruik, vervaardig, versprei en verkoop. Dit is dus belangrik dat die skepping van intellektuele eiendom op alle patentaansoeke aan sy ware uitvinder of skepper toegeskryf word. "As die regmatige uitvinder van intellektuele eiendom uit 'n patentaansoek weggelaat word, of iemand as 'n uitvinder ingesluit word as hy of sy dit nie is, mag dit tot die herroeping van die patent lei," sê Saberi Marais, Besigheidsontwikkelaar: InnovUS.

Patentereghouers kan ook enige moontlike inkomste eis wat met die daaropvolgende kommersialisering van die gepatenteerde intellektuele eiendom verbandhou. Maar dit kan egter slegs gedoen word as die intellektuele eiendom regmatig toegeskryf is en mag ook aan ander wetlike beperkings soos indiensnemingskontrakte onderworpe wees. Werkgewers kan ook vanselfsprekend deur 'n indiensnemingskontrak intellektuele eiendomsreghouers wees. Uitvinders het egter die reg om te versoek dat die skepping van intellektuele eiendom aan hulle toegeskryf word.

Patenteerbare intellektuele eiendom moet 'n nuwe, bruikbare uitvinding wees wat nie voor sy uitvinding voor die hand liggend is vir ander vaardige persone in daardie betrokke veld nie. Uitvinders moet 'n beduidende intellektuele bydrae tot die skepping van intellektuele eiendom of tot die ontwikkeling daarvan maak en aantoon dat hulle hul toegespits het daarop om 'n oplossing vir 'n spesifieke stel probleme te vind.

Intellektuele eiendom se uitvinders (soms ook skeppers genoem) en bemagtigers is nie noodwendig almal dieselfde persone nie. Die skeppers van intellektuele eiendom kan soms medewerkers wees deur slegs benodigdhede te verskaf of instruksies vir die toets van die intellektuele eiendom uit te voer. In sodanige gevalle kom hulle nie noodwendig vir die doeleindes van patentering as uitvinders van intellektuele eiendom in aanmerking nie. Saberi sê die algemene fout word gemaak om hierdie bemagtigers van intellektuele eiendom as die uitvinders op patente aan te dui.

Insgelyks is die skeppers van intellektuele eiendom nie noodwendig die mede-outeurs of resensente van wetenskaplike artikels of die medestudieleiers van projekte nie, aangesien intellektuele eiendom net 'n onderafdeling van 'n hele artikel of van die tesis-uitset van sodanige projekte kan wees.

InnovUS kan die personeel van Universiteit Stellenbosch (werknemers en kontrakwerkers), studente en ander betrokke partye help om sin te maak van intellektuele eiendom. Daarom verskaf InnovUS 'n Intellektuele Eiendom Beleid met omvattende besonderhede oor die eienaarskap, verspreiding en kommersiële benutting van intellektuele eiendom. Kliek hier vir 'n afskrif van die Intellektuele Eiendom Beleid.

Navorsers prys InnovUS Gids

Die InnovUS Gids is met ope arms deur die Universiteit se navorsingsgemeenskap verwelkom. Die Visedekaan: Navorsing: Fakulteit Ingenieurswese, prof. Willie Perold, beskryf dit as die ontwikkeling van intellektuele eiendom vir beginners en is oortuig dat dit van groot waarde vir navorsers sal wees.

Hierdie gids is in Maart vanjaar gepubliseer en beoog om as 'n vertrekpunt te dien vir die baie navorsers en entrepreneurs wat InnovUS met hul vernuwende idees nader. Dit is in Engels en Afrikaans beskikbaar en dek 'n wyse spektrum onderwerpe wat strek van patente en sakeplanne tot maatskappy-inligting en regs- en belastingkwessies.

"Wat hierdie gids so aantreklik maak, is die kort, maar omvattende artikels oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe. Die inligting is maklik verstaanbaar en die terminologie nie te ingewikkeld nie," sê dr. Coenrad Fourie, wie se navorsing oor supergeleiers met behulp van InnovUS in die mark bekendgestel is.

Daar is ook lof vir die tersaaklikheid en omvattendheid van die gids se inhoud. "Die gids dek waarskynlik elke aspek waaroor navorsers vrae kan hê. Die uitleg is funksioneel en baie aantreklik," sê prof. Perold.

Dr. Fourie stem hiermee saam en voeg by dat die skrywers van die artikels spesialiste op hul onderskeie gebiede is. Hulle kon dus waardevolle insigte tot elke aspek van die innovasieproses op 'n konkrete en gebruikersvriendelike wyse bydra. Kontakbesonderhede vir die skrywers word ook verskaf.

"My enigste aanbeveling is dat die inligting in die gids op 'n gereelde grondslag bygewerk word ten einde dit op datum en korrek te hou. Inligting oor die vestiging van maatskappye en ook belastingkwessies is tydsgebonde en moet gereeld bygewerk word," sê dr. Fourie.

Die InnovUS Gids is aanlyn beskikbaar en in gedrukte kopie by InnovUS se kantoor by De Beerstraat 15, Stellenbosch. Skakel gerus 021 808 3826 vir verdere inligting.

SUSPI koester sportgees

Fifa se 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi het 'n sportgees in Suid-Afrika laat bruis. 'n InnovUS-afwentelmaatskappy, Universiteit Stellenbosch Sportprestasie Instituut (Stellenbosch University Sports Performance Institute (SUSPI)), het ook angstig gewag vir sy eie sokkersentrum by Lentelus. Konstruksie het in Maart begin en die eerste fase van die projek is die eerste week van Julie voltooi. Die sentrum dien as basis vir Universiteit Stellenbosch se Jeugsportinisiatief.

SUSPI is vier jaar gelede gestig en is 'n volfiliaal van Universiteit Stellenbosch. Dit werk nou saam met Maties Sport, die Departement Sportwetenskap en die Departement van Fisiologiese Wetenskappe om die sportbates van Universiteit Stellenbosch te kommersialiseer.

Volgens Gugu Ntuli, HUB: SUSPI, sal die Jeugsportinisiatief 'n blywende nalatenskap wees vir benadeelde jongmense in die groter Stellenbosch-gebied en die sentrum sal in die toekoms groot voordele vir die plaaslike gemeenskap inhou. Hierdie fasiliteit sal vyf multi-oppervlak speelvelde van onder meer gras, kunsmatige gras, sand (vir strandsokker) en Futsal (vyf-'n-kant-sokker)-bane insluit.

Gustav Venter, Bemarkingskoördineerder: SUSPI, sê die Instituut bied 'n wye verskeidenheid uitmuntende dienste aan die plaaslike en internasionale sport-, fiksheid- en welweesbedrywe. "Die SUSPI-span poog om wêreldgehalte opleiding en 'n ondersteunende omgewing te bied ter voorbereiding vir internasionale byeenkomste."

Een spesifieke lid van die SUSPI-span, Ernst van Dyk, Geleentheidsbestuurder: SUSPI, het uitgebreide kennis van sodanige geleenthede. Hierdie welbekende Suid-Afrikaanse rolstoelresiesjaer en handfietsryer het in April vanjaar die Boston-marathon vir 'n rekord negende keer gewen met 'n tyd van een uur, 26 minute en 53 sekondes. Hierdeur word hy die deelnemer wat die meeste kere nog gewen het in enige afdeling van die resies. Hy het ook onlangs die silwer Orde van Ikhamanga van die Suid-Afrikaanse regering vir sy sportprestasies ontvang. Dit is die hoogste eer wat aan Suid-Afrikaners toegeken word wat uitgeblink het en 'n bydrae tot die toekoms van die land gemaak het op die gebiede van sport, kuns, kultuur, literatuur, musiek en joernalistiek.

Benewens uitmuntende atlete, bestaan SUSPI se groeiende kliëntebasis ook uit hoërskole, sportspanne en gesondheidsbewuste individue. Volgens mnr. Venter maak SUSPI voorsiening vir enigeen wat daarna streef om sy of haar sportpotensiaal te verwesenlik of gesondheid en fiksheid te verbeter. Vir meer inligting besoek die SUSPI-webwerf, skakel mnr. Venter by (021) 808 9109 of stuur 'n e-pos aan gbventer@sun.ac.za.

Patentering is noodsaaklik

"Vandag, meer as ooit vantevore, is intellektuele eiendomsregte, waaronder patentering, 'n belangrike deel van die balansstaat van baie ondernemings," sê Ralph van Niekerk, Patente Afdeling: Von Seidels IP Attorneys. InnovUS wend dus 'n doelbewuste poging aan om inligting oor die Intellektuele Eiendom Beleid, geregistreerde ontwerpe, outeursreg, handelsmerke, regte van plantkwekers, lisensiëringsooreenkomste en spesifiek patentering, te verskaf. 'n Patent wat goed opgestel is gee aan die eienaar die reg om mededingers te verhoed om die tegnologie op enige praktiese manier aan te wend vir solank as wat die patent geldig is.

"Dit is 'n belangrike sakebesluit om te besluit of en hoe 'n patenteportefeulje ontwikkel moet word," sê mnr. Van Niekerk. "Alhoewel baie maatskappye patente op 'n lukrake wyse verkry, is 'n strategiese en gestruktureerde benadering nodig om die volle potensiaal van patenteregte te ontsluit."

Patente kan verkry word as deel van offensiewe of defensiewe sakestrategieë. Offensiewe patenteringstrategieë word gevolg om mededinging uit te skakel; om tegnologie te lisensieer sodat ander persone dit kan gebruik in ruil vir betaling vir patenthouersaandeel; en om aandeelhouerwaarde te vermeerder en beleggings in die onderneming te lok. Defensiewe patenteringstrategieë kan die risiko verminder om sake te doen sonder patentebeskerming; dien as voorlopige versekering voordat die uitvinding aan die publiek bekendgestel word; en gee aan jou onderneming die buigsaamheid om nuwe markte te betree en nuwe produkte te ontwikkel. Kliek hier vir meer inligting oor strategiese patentering.

Een van die nuutste InnovUS-tegnologieë wat gepatenteer is, is Communi-Kate, 'n speelding wat geskikte speelgoed vir kinders, soos sagte speelgoed, in staat stel om samebindingsgedrag teenoor hul primêre gebruikers te toon. Hierdie vermoë word op 'n mikroskyfie vasgelê en is veral op die ouers van dogters tussen die ouderdomme van drie en nege jaar gerig. Dit kan ook as 'n terapeutiese hulpmiddel gebruik word. Die hoofnavorsers, prof. JA du Preez en dr. LC Schwardt het met behulp van InnovUS 'n internasionale patent ingedien.

Besoek InnovUS se webwerf vir omvattende inligting oor patentering en intellektuele eiendom.


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University