InnovUS e-nuus 7de uitgawe
Vrydag, 3 September 2010
Nasionale triomf vir US-innovasie
Die uitvinders van uMove, 'n pasiëntspesifieke knievervangingsproduk, het 'n indrukwekkende derde plek behaal in die finale stadium van die Nasionale Innovasiekompetisie 2009 wat verlede maand in Durban gehou is. Dit is ’n merkwaardige eer vir uMove en InnovUS. Laasgenoemde het volgens die uMove mede-uitvinder, David van den Heever, steun van “onmeetbare waarde” aan die span gegee. “Ons sou dit nie sonder hulle kon doen nie en ons waardeer hul bydrae en professionele optrede dwarsdeur die hele proses opreg!”
“InnovUS is baie opgewonde oor hierdie projek en beoog om dit te kommersialiseer saam met mnr. Van den Heever,” sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS. “Ons sien groot potensiaal in die projek en ons oorweeg tans kommersiële vennote en beleggers wat die produk suksesvol na die mark kan neem.”
Die uMove-span bestaan uit mnr. Van den Heever, prof. Cornie Scheffer, dr. Pieter Erasmus en dr. Edwin Dillon. Hulle was een van drie groepe van Universiteit Stellenbosch wat die laaste ronde van die jaarlikse kompetisie bereik het. Die ander twee groepe was PowerMon, ’n laekostekragmeter, en Pacebot, ’n opleidingstoestel vir atlete. Die doel van die Nasionale Innovasiekompetisie is om die kommersialisering van innovasies van entrepreneurs van oor die land aan te moedig. InnovUS is tans besig om hierdie drie unieke uitvindsels van Universiteit Stellenbosch te patenteer.
Die sakeplanne van innoverende nuwe produkte is gedurende die kompetisie beoordeel en volgens mnr. Van den Heever het InnovUS ook in hierdie opsig baie ondersteuning gegee. Hy voeg by dat sy mentor, Yongama Skweyiya, Tektique Projekbestuurder: InnovUS, hom deur die hele kompetisieproses bygestaan het. “Hy het my presies vertel wat van ons sakeplan verwag sou word en het my gehelp om ons bemarkingstrategie op te stel. Hy was regtig ’n steunpilaar reg van die begin af!”
Volgens mnr. Van den Heever het hy vir die kompetisie ingeskryf op grond van InnovUS se aanmoediging. “Prof. Scheffer, my studieleier, het my aangemoedig om InnovUS te raadpleeg oor die pasgemaakte, pasiëntspesifieke knievervanging wat ek vir my PhD nagevors het. Volgens InnovUS was die produk baie innoverend van aard en kon dit gepatenteer word. Hulle het ook voorgestel dat ek vir die kompetisie inskryf.” Die uMove-span het toe uitgebreide marknavorsing gedoen ter voorbereiding vir die kompetisie. Mnr. Van den Heever skryf hul sukses toe aan ’n “produk wat die lewens van pasiënte aansienlik kan verbeter”, ’n goeie sakeplan en harde werk en toewyding van die hele span.
uMove het ’n geïndividualiseerde beeninplantings-koppelvlak wat, anders as by ’n konvensionele prostese, lei tot ’n beter pas, meer eenvormige stresverspreiding, minder beenverlies en minder wanbelyning. Die produk, pasgemaak volgens die resultate van die pasiënt se CT-skandering, skakel ook die konvensionele probleem uit om die optimale soort en grootte prostese te kies. uMove herstel ’n pasiënt se oorspronklike geartikuleerde gewrigsoppervlakte en lei daardeur tot beter kinematika en die moontlikheid van knievervangings vir ’n jonger geslag pasiënte.
“Dit is ’n wonderlike prestasie vir ons en het ons gemotiveer om ons produk nog verder bekend te stel en ons onderneming deur kommersialisering te ontwikkel,” sê mnr. Van den Heever. Hy voeg by dat hierdie prestasie uMove ook ’n finansiële hupstoot gegee het. “Daar lê nog baie werk voor, maar ons is reg daarvoor!”
Is jy ’n eiewyse individualis, ambisieus en vasbeslote om jou doelwitte te bereik? Wil jy meer te wete kom oor die kommersialisering van jou elektriese en elektroniese navorsing? InnovUS nooi alle voorgraadse en nagraadse studente in elektroniese en elektriese ingenieurswese; navorsers; Universiteit Stellenbosch-personeel; en entrepreneurs na hul eerste Entrepreneursaand op Dinsdag 14 September.
“By hierdie geleentheid sal entrepreneurs meer te wete kan kom oor hoe InnovUS, Universiteit Stellenbosch se departement van Elektriese Ingenieurswese asook die ingenieursbedryf, hulp kan verleen met die kommersialisering van tersaaklike idees en navorsing,” sê Philip Marais, deeltydse Sakeontwikkelaar: InnovUS.
Die geleentheid word van 17:00 tot 20:00 in die Reitz-saal by Universiteit Stellenbosch se Ingenieursfakulteit aangebied. Bydraes sal deur Philip, Gert-Jan van Rooyen (Departement van Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese), David Murray (Elprom) en Retief Gerber (NioCAD) gelewer word. Daar sal ook oorgenoeg tyd wees om vrae te vra en netwerke op te bou terwyl verversings bedien word.
InnovUS, Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy, ondersteun innovasie en die kommersialisering van idees. Dit help navorsers met blink idees om hul pad na die mark te vind. InnovUS konsentreer veral op patente, sakeplanne, maatskappy-oprigting, regs- en belastingkwessies en die oorbrugging van die gaping tussen navorsing en die mark deur die kundigheid van leiers in hul onderskeie velde te benut. By hierdie geleentheid sal entrepreneurs ’n beter begrip kry hoe om hul idees te kommersialiseer.
“As studente en personeel meer bewus gemaak word van geleenthede om hul idees te kommersialiseer, en van die dienste wat aan hulle gebied kan word, hoop ons dat meer openbaarmakings aan ons kantoor voorgelê sal word en daaropvolgend meer suksesvolle afwentelmaatskappye en lisensiëringsooreenkomste,” sê Philip.
Skakel InnovUS by (021) 808-3826 om te registreer.
Wet op Intellektuele Eiendom beskerm en bevorder innovasie
Die nuwe Suid-Afrikaanse Wet op Intellektuele Eiendom (IE) is onlangs gepromulgeer en ingevolge daarvan moet alle universiteitsdepartemente nou hul navorsing kragtens die Wet se regulasies uitvoer. Die Wet, hoofsaaklik aangevoer deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie, het ten doel om die uitvinders en skeppers van IE te beskerm en om navorsing en innovasie in Suid-Afrika aan te moedig.
Die nuwe Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Staatsgefinansierde Navorsing en Ontwikkeling No. 51 van 2008 reguleer die kommersialisering van Suid-Afrikaanse IE en verseker dat navorsers deel in die inkomste wat deur hul IE gegenereer word. Ingevolge die Wet, geskoei op die Amerikaanse Bayh-Dole Act, is die bepalings vir ’n minimum aandeel in voordele ooreenkomstig die internasionale norm. “Hierdie minimum voordeel is by baie instellings nou baie meer as wat dit voorheen was,” sê Yongama Skweyiya, Tektique Projekbestuurder: InnovUS. “Die Wet laat ook die skeppers van IE toe om oor ’n baie beter aandeel in voordele te onderhandel.”
Yongama voeg by dat Suid-Afrika in sy babaskoene staan ten opsigte van die kommersialisering van tegnologie (beter bekend as tegnologieoordrag). InnovUS, ten spyte daarvan dat dit slegs 11 jaar oud is, is een van die oudste en knapste tegnologie-oordragmaatskappye in die land. “In ’n land met tallose finansiële en menslike hulpbronne, vind ’n mens nog steeds dat sommige van ons vooraanstaande navorsers, saam met hul navorsing, ons land verlaat om hul idees in beter ontwikkelde lande en ekonomieë te kommersialiseer,” sê Yongama. “Hierdie Wet beklemtoon die verpligting van navorsers wat staatsfinansiering kry om te verseker dat alle IE wat uit hul navorsing voortspruit, aktief bestuur en gekommersialiseer word tot voordeel van die Suid-Afrikaanse publiek, tot kommersiële voordeel, maatskaplike opheffing en militêre voordeel.
“Die Wet met sy verskeie regulasies is ’n bloudruk vir die ontwikkeling van ’n IE-beleid vir elke tersiêre instelling, wat ook op nasionale vlak van toepassing is. Dit verskaf riglyne aan instellings vir die behoorlike bestuur van alle intellektuele eiendom wat uit daardie instelling voortspruit,” sê Yongama. “Dit moedig ook instellings aan om IE voortspruitend uit staatsgefinansierde navorsing en ontwikkeling te verklaar of openbaar te maak.”
Yongama voeg by dat die Wet voorsiening maak dat derde partye hul posisie beter verstaan ten opsigte van die hantering van Suid-Afrikaanse universiteite of navorsingsinstellings betreffende IE uit staatsgefinansierde navorsing en ontwikkeling. “Die beduidendste aspek van die Wet is waarskynlik die bepaling wat voorsiening maak vir verantwoordbaarheid aan die Suid-Afrikaanse publiek vir staatsbesteding aan navorsing en ontwikkeling, asook die opbrengs op sodanige besteding vir ekonomiese ontwikkeling en welvaartskepping in Suid-Afrika.”
Sluit oop die deur na kommersiële lewensvatbaarheid
Selfs die blinkste innovasies staan nie ’n kans om ten uitvoer gebring te word sonder kommersiële lewensvatbaarheid nie. InnovUS is geesdriftig daaroor om te verseker dat die wêreldgehalte bydraes van Universiteit Stellenbosch se navorsers en uitvinders suksesvol na die mark gebring word. Dit is waarom hulle aan uitvinders alle moontlike inligting oor innovasie beskikbaar stel. Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS, het om hierdie rede onlangs verskillende maatskappye in Japan besoek waar sy waardevolle insigte gekry het oor wat innovasies kommersieel lewensvatbaar maak.
“Ons begryp dat navorsers op hul spesialisgebiede wil fokus en dat dit nie altyd maklik is om hul verstommende en werklik merkwaardige deurbrake na die mark te bring nie,” sê Anita. “Dit is waarom InnovUS aan navorsers en uitvinders waardevolle inligting verskaf oor patente, sakeplanne, maatskappy-oprigting, oorbrugging van die gaping tussen navorsing en om die navorsing na die mark te bring, asook regs- en belastingkwessies, en die kundigheid van leiers op hul onderskeie gebiede bymekaarbring.”
David Weber is die voorsitter van Stone Three Venture Technology en die direkteur van Acorn, ’n private aandelebeleggingsmaatskappy. In ’n artikel getiteld “Die uitdagings om navorsingsuitsette in ʼn kommersiële produk te omskep: Hoe om die gaping tussen navorsing en kommersialisering te benader en te oorbrug”, bespreek hy die uitdagings vir navorsers om die mark te betree.
“Sukses in die handel verskil van sukses in die akademie,” sê mnr. Weber. “Akademici meet sukses aan publikasies in vaktydskrifte, navorsingstoekennings en om deur ander navorsers geprys te word. In die handel word dit gemeet aan die mate waartoe ’n produk se bates sy laste oorskry.”
Hy verduidelik dat as uitvinders die reis van die laboratorium na die mark aanpak, dit van die allergrootste belang is dat hulle die mark wat hulle wil betree, baie goed moet verstaan. “Hoe gouer jy oorweging skenk aan (klaarblyklike) alledaagse besonderhede, soos wie jou produk gaan koop en waarom, hoe beter vir jou. En voldoende kennis van die mark kan met relatief min inspanning verkry word,” sê mnr. Weber.
Hy stel voor die eerste stap om die voorgestelde mark te verstaan, is om eerlik op ’n paar kritieke vrae te antwoord en dan die resultate in ’n prospektus of sakeplan saam te voeg. Hierdie vrae moet handel oor die voorgestelde produk; die grootte van die voorgestelde mark; moontlike mededingers; die produk se vervaardigings- en instandhoudingskoste; die ontwikkelingsproses; ’n visie vir die produk; en die lewensduur van die produk.
Die tweede belangrike stap in die proses, volgens mnr. Weber, is om beleggers vir die kommersialisering van die produk te vind. Dit kan in die vorm van engelbeleggers, risikokapitaliste, staatskemas, private aandele of aandelebeurs, of selfbelegging wees. Hy toon egter aan dat daar risiko’s aan elk van hierdie opsies verbonde is en dat ’n onderneming van meer as net een soort belegging gedurende sy leeftyd gebruik sal maak.
Ten einde hierdie en ander risiko’s suksesvol te kan hanteer, is die ondersteuning van ’n intellektuele-eiendomskantoor noodsaaklik volgens mnr. Weber. “Jy is gelukkig genoeg om by Universiteit Stellenbosch ’n intellektuele-eiendomskantoor (InnovUS) te hê wat ooreenkomste kan sluit en leiding deur die hele proses kan bied. En glo dit of nie, hulle is aan jou kant!”
Hy moedig uitvinders en navorsers aan om die eerste stap te neem en ’n opgesomde sakeplan aan InnovUS voor te lê. “Hulle het die sleutel om deure oop te sluit en jou voor te stel aan verskillende organisasies wat in jou aanbod sal belangstel. Maar onthou, hulle kan die deur oopsluit, maar jy moet nog self daardeur gaan.”
InnovUS-webwerf het vars nuwe voorkoms
InnovUS is begeester oor innovasie en oor hul innoverende uitvinders en navorsers wat voortdurend nuwe standaarde stel en die grense verskuif van wat as moontlik beskou word. InnovUS floreer met hul groei en positiewe veranderinge en dus stel hulle ook nou ’n nuwe voorkoms vir hul webwerf bekend. Die webwerf bied nog steeds aan sy gebruikers die noodsaaklike inligting wat hulle van InnovUS verwag, maar die nuwe vaartbelynde ontwerp vergemaklik navigasie en bied selfs meer inligting oor patente, lisensiëring en die oprigting van afwentelmaatskappye.
Die ontwerp van die nuwe webwerf is ook in ooreenstemming met Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot volhoubaarheidsdoelwitte. Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS, sê “ons is eerstens kampvegters vir innovasie, maar een van ons sleutelwaardes is volhoubaarheid en ons webwerf weerspieël dit nou”.
InnovUS-webwerf se gebruikers het maklike toegang tot inligting oor navorsers, nuwe tegnologie, beleide en riglyne, en dit alles met net een kliek vanaf die tuisblad. Gebruikers kan ook meer insig kry in die verskillende lisensiëringsgeleenthede, uiteengesit per departement, en kan individuele PDF-dokumente genereer vir elke tegnologie wat gelys word.
Die InnovUS-webwerf spog nou met ’n hele nuwe afdeling oor nanovesel-tegnologie, onder meer borrel-elektrospin, bal-elektrospin, aaneenlopende nanovesel-garevervaardiging en permanente antimikrobiale nanovesels. Verder verskaf dit die nuutste inligting oor nuwe openbaarmakings, patente en lisensiëringsooreenkomste by InnovUS.
InnovUS is groen! Sedert Junie vanjaar spog InnovUS se kantore met energiebesparende sonselpanele met fotovoltaïese panele wat sonlig tot elektrisiteit omskakel. “Ons is trots om die voorbeeld te stel van hoe hierdie nuwe tegnologie werk en watter voordeel dit vir die omgewing inhou,” sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS. Hierdie implementering by InnovUS is in ooreenstemming met die oorkoepelende volhoubaarheidsdoelwitte van Universiteit Stellenbosch.
Die Universiteit se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies het die panele geïnstalleer om as voorbeeld te dien van hoe doeltreffend sonselpanele energie kan opwek en terselfdertyd ook ’n bydrae tot ’n volhoubare omgewing kan lewer. Hierdie nuwe stelsel help InnovUS ook om hul energieverbruik te monitor.
“Prof. Wikus van Niekerk, Direkteur: Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, het as deel van hierdie implementering nuttige riglyne verskaf vir die vermindering van die algehele energieverbruik in ons kantore deur eenvoudige dinge soos byvoorbeeld om verwarmers en ligte af te skakel.
“Om hierdie innovasie en ook ons kantoor se verbintenis tot volhoubaarheid te vier, bied ons in September ’n funksie aan waar ons sal demonstreer hoe die sonselpanele werk en ook bewyse toon van hoe dit ons energieverbruik tot dusver verminder het,” sê Anita.
Volgens prof. Van Niekerk sal van die energie wat deur die panele opgewek word in batterye gestoor word terwyl die res deur die InnovUS-span gebruik sal word. Saans sal die energie wat in die batterye gestoor word, vir gebruik beskikbaar gestel word deur middel van ’n wisselrigter. Daardeur word verseker dat die gebou altyd genoeg energie sal hê om te funksioneer selfs al skyn die son nie.
Universiteit Stellenbosch het as instelling ook afgeskop met ’n projek om alle bestaande volhoubaarheidsaksies te koördineer. Dr. Barbara Pool, Direkteur: Projekte, is verantwoordelik vir die koördinering van al die volhoubaarheidsaksies by die Universiteit en om alle kommunikasie daarvan te bestuur.
Doris Peters vier vandeesmaand ‘n dekade van diens by InnovUS! Doris, intellektuele eiendom- en finansiële assistant, administreer Universiteit Stellenbosch se portefeulje vir handelsmerke en intellektuele eiendom en is ook verantwoordelik daarvoor om InnovUS rekeningkundig te ondersteun. Die InnovUS-span sê baie dankie aan Doris vir die wonderlike werk wat sy gedurende die afgelope tien jaar gedoen het.
