InnovUS e-nuus 8ste uitgawe
Donderdag, 9 Desember 2010
2010 ’n rekordjaar vir patente
Die aansienlike groei in patenteringaktiwiteite was ongetwyfeld ’n groot hoogtepunt vir InnovUS in 2010. Teen 30 November 2010 is 32 nuwe prioriteit-patentaansoeke geregistreer vergeleke met net 23 vir die hele 2009. Benewens dit is twee nuwe tegnologielisensies toegestaan en vier afwentelmaatskappye word tans gestig.
“InnovUS het gedurende 2010 ’n selektiewer benadering ten opsigte van die aanvaarding van nuwe openbaarmakings gevolg,” verduidelik Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS. Gevolglik was daar minder openbaarmakings (45) as in 2009 (62), maar die gehalte van hierdie openbaarmakings is ongetwyfeld van hoogstaande aard. Daarbenewens het InnovUS drie lisensieooreenkomste onderteken, finaliseer tans onderhandelinge oor vyf verdere lisensietransaksies, en skenk ook oorweging aan ’n billikheidstransaksie.
“Ons het ook ’n rekordjaar ten opsigte van inkomste gehad waartydens ons ’n bedrag wat amper vier keer meer as ons vorige rekordinkomstejaar was, gefaktureer het,” sệ Anita. Die inkomste wat deur InnovUS gegenereer word, word teruggeploeg na uitvinders, en in hul omgewings en innovasieaktiwiteite.
Daar was die afgelope jaar ook baie hoogtepunte aan die projekfront. “’n Projek wat spesiale vermelding verdien is die kommersialisering van ons portefeulje van nanoveselpatente,” sệ Anita. Hierdie portefeulje behels twee patente vir die hoë deurvoer van nanovesel-elektrospin, ’n nanoveselgare-patent, twee patente betreffende die toepassing van nanovesel, en ’n patent vir ’n laboratoriumskaal-borrelspintoestel. InnovUS het verskeie groot maatskappye in Japan in Augustus vanjaar besoek en baie van die maatskappye het aangedui dat hulle in hierdie tegnologie belangstel.
Die waterfiltersakkie, ontwikkel deur prof. Eugene Cloete, wat skoon drinkwater vir mense in plattelandse gebiede toeganklik maak, is eksklusief gelisensieer aan ’n plaaslike maatskappy wat tans met ’n Europese vennoot onderhandel vir die vervaardiging van die sakkies in Suid-Afrika. ’n Persverklaring sal in Januarie aanstaande jaar in hierdie verband uitgereik word.
Die afgelope jaar is die Universiteit se beleid insake intellektuele eiendom hersien nadat die Regulasies ingevolge die Wet op die Intellektuele Eiendomsreg van Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling, No. 51 van 2008 (IP Rights from Publicly Financed R&D Act, No. 51 of 2008) in Augustus 2010 van krag geword het. Daar is indringend dwarsoor die kampus oorleg gepleeg en daar was geleentheid vir kommentaar oor tien rondes. Die terugvoer was positief en die nuwe IE-beleid is aan die einde van November vanjaar goedgekeur.
Die kortkursusafdeling het nog ’n suksesvolle jaar gehad en teen 30 November 2010 is 340 kort kursusse geregistreer en goedgekeur. Uitgebreide vernuwings aan die Universiteit se aanlynregistrasiestelsel vir kort kursusse is afgehandel. Die Universiteit se elektroniese studenteregistrasiestelsel word ook tans vernuwe om studenteregistrasie vir kort kursusse te kan hanteer. Kort kursusse wat by Universiteit Stellenbosch aangebied word, is in ooreenstemming met die nuwe regulasies van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk.
Twee nuwe personeellede het vanjaar by die InnovUS-span aangesluit. Saberi Marais (Sakeontwikkelaar) en Philip Marais (deeltydse Sakeontwikkelaar) het vinnig ingeskakel en word hartlik by die maatskappy verwelkom. Venessa Williams (Administratiewe Beampte) keer aanstaande jaar terug na De Beerstraat 15 nadat sy aan die Somerskool studeer het, en Doris Peters (Intellektuele Eiendom- en Finansiële Assistent) wat vanjaar tien jaar lank by InnovUS werk, het vir aanstaande jaar vir die Entrepreneurs-sakebestuursprogram by Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool ingeskryf.
Sedert InnovUS in 1999 gestig is, het dit net van krag tot krag gegaan. Ten einde hierdie geweldige groei te kan hanteer, het bouwerk aan ’n bykomende vleuel aan die agterkant van die gebou begin en 15 meer mense sal daar geakkommodeer word. InnovUS se raadsaal en parkeergebied word ook gemoderniseer. Die bouwerk sal na verwagting vroeg in aanstaande jaar voltooi wees.
Dit staan soos ’n paal bo water: 2011 gaan ’n baie besige jaar wees, maar die InnovUS-span is ongetwyfeld gereed vir die uitdaging.
Nuwe beleid insake intellektuele eiendom is goedgekeur!
InnovUS is baie opgewonde om aan te kondig dat Universiteit Stellenbosch se nuwe Beleid insake die Kommersialisering van Intellektuele Eiendom (IE) nou ten volle in gebruik geneem is. Na langer as ’n jaar se baie harde werk, verskeie vergaderings en baie rondes van konsultasies dwarsoor die kampus, het die Universiteitsraad die nuwe IE-beleid op 29 November 2010 goedgekeur. Die nuwe beleid is van toepassing op alle openbaarmakings wat van daardie datum af ontvang is. “Alle rolspelers het die beleid hartlik verwelkom en sien uit na die uitdaging om dit op kampus toe te pas,” sệ Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS.
Die nuwe beleid is nou op die InnovUS-webwerf beskikbaar. ’n Verkorte gids tot die beleid sal in Januarie 2011 op die InnovUS-webwerf beskikbaar wees. Die gids sal maklik toeganklike riglyne verskaf om die IE-beleid beter te verstaan en te gebruik. Indien navorsers navrae oor die IE-beleid het, is hulle hartlik welkom om hul vrae – vir insluiting in die gids – aan Anita by ajnel@sun.ac.za te stuur.
Die beduidenis van die aanvaarding van die nuwe beleid is deels toe te skryf aan die lang geskiedenis en ure se werk wat dit voorafgegaan het. Die Wet op Intellektuele Eiendom van Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling, No. 51 van 2008 (IP Rights from Publicly Financed Research and Development Act, No 51 of 2008) is in Desember 2008 gepromulgeer, maar die verbandhoudende Regulasies van die Wet is eers in Augustus 2010 in die Parlement aanvaar. InnovUS was namens die Universiteit van die staanspoor af by die opstel van hierdie Wet en die gepaardgaande Regulasies betrokke en het gereeld kommentaar gelewer oor die Konsepwetsontwerp en die Regulasies. “Alhoewel hierdie wetgewing aanvanklik as drakonies beskou is, glo ons dat die finale Wet billik en aanvaarbaar is. Ons is positief oor die nuwe wetgewing en ondersteun dit ten volle,” sệ Anita.
Die werk aan die Universiteit se IE-beleid het egter reeds lank voor die finale aanvaarding van die Wet en sy Regulasies begin. ’n InnovUS-taakspan bestaande uit Roux de Villiers van Werksmans, professore Piet Steyn en Izak van der Merwe, albei voorheen van die afdeling navorsingsontwikkeling, en Anita Nel is saamgestel. Oorlegpleging is met navorsers in die wetenskappe, ingenieurs- en tegnologie-omgewing gevoer en daarna was daar verdere besprekings met navorsers in die geesteswetenskappe spesifiek ten opsigte van die omskrywings in die Wetsontwerp.
Werk aan die nuwe US IE-beleid het toe in alle erns begin en die eerste weergawe is teen die einde van daardie jaar aan die afdeling navorsingsontwikkeling voorgelệ. ’n Indringende aanvaardingsproses het gevolg met onder meer terugvoering van die Rektor se bestuurspan, die navorsingskomitee en die verskillende fakulteitsrade. Nadat die bydraes van alle partye bygewerk is, is ’n finale weergawe eers aan die Institusionele Forum, toe aan die uitvoerende komitee van die Senaat, en laastens aan die Universiteitsraad voorgelệ. Laasgenoemde het dit finaal op 29 November 2010 aanvaar.
“Gegewe dat die tersaaklike wetgewing eers in Augustus vanjaar van krag geword het, is dit ’n besondere prestasie dat hierdie beleid voor die einde van die jaar aanvaar is. Ek wil graag al die betrokke navorsers bedank vir hul positiewe houding en hul waardevolle bydraes tot die ontwikkeling van die beleid; en ook die bestuurspanne van die Universiteit vir hul bydrae om die beleid so gou aanvaar te kry na ’n omvattende en deeglike oorlegplegingsproses op kampus wat nie minder as tien rondes van kommentaar en bydraes van dwarsoor die kampus ingesluit het nie,” sluit Anita af.
InnovUS en Universiteit Stellenbosch se afdeling vir navorsingsontwikkeling (ANO) werk nou saam om navorsingskontrakte wat tans deur die Universiteit en sy navorsers gebruik word, te hersien en op te stel. Hierdie kontrakte is gegrond op hul beleid oor kosteverrekening en prysvasstelling vir navorsings- en navorsingsverwante kontrakte (ook bekend as die volkostebeleid).
Maatskappye wat by die ontwikkeling van intellektuele eiendom (IE) aan Universiteit Stellenbosch betrokke is en wat eienaarskap van IE wil behou, betaal dus ten minste die volkoste ingevolge dié beleid (en daaruitspruitende kontrakte). Cornelia Malherbe, Navorsingskontrakbestuurder: ANO, verduidelik dat die term “vol koste” verwys na die totale koste van alle hulpbronne wat gebruik word om ’n navorsingsprojek te voltooi en wat in ooreenstemming is met internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde. Dit behels alle toepaslike direkte (al die koste wat direk verband hou met ’n projek, bv. produkte wat in ’n laboratorium verbruik word) en indirekte koste (soos die uitgawes wat die Universiteit moet aangaan vir die verskaffing van die nodige steun om ’n projek suksesvol te bestuur en te lewer, bv. elektrisiteit, ens.) soos voorgeskryf.
Net omdat ’n maatskappy die vol koste betaal, beteken dit egter nie dit het gratis eienaarskap van die daaruitspruitende IE nie. “Enige maatskappy wat by die ontwikkeling van IE aan Universiteit Stellenbosch betrokke is, sal altyd ten minste nie-eksklusiewe regte kry om die IE te gebruik,” sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS. “Vol koste beteken egter net dat die Universiteit gelykbreek betreffende die navorsing wat gedoen is. Wat betref die volkostebeleid, sal InnovUS met die maatskappy oor die IE-eienaarskap en die kommersialisering daarvan onderhandel. In die meeste gevalle sal ’n billike bykomende bedrag by die IE-transaksie gevoeg word.”
Die volkostebeleid het op 1 Julie 2010 in werking getree, en InnovUS het ook ’n integrale rol in die formulering daarvan gespeel. Die doel van die beleid is om ’n platform te skep vir ’n standaardberekening van vol koste ter oorweging van alle koste verbonde aan navorsing en navorsingsverwante kontrakte aan Universiteit Stellenbosch. Die dryfveer agter die oorweging van volkostenavorsing is die nuwe Wet op Intellektuele Eiendomsreg van Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling. Die beleid is van toepassing op alle projekte waar die personeel van Universiteit Stellenbosch kontraktueel onderneem om navorsing en navorsingsverwante dienste en konsultasie aan eksterne partye te lewer.
“Indien ’n eksterne party of die Nasionale Kantoor vir die Bestuur van Intellektuele Eiendom ’n sertifikaat verlang as bewys dat die prys vir ’n spesifieke projek op ’n volkoste-grondslag vasgestel is en/of die projek voltooi is, sal die Universiteit ’n eksterne ouditverslag versoek,” sê Cornelia. “Dit staan die betrokke navorsingsomgewing vry om die ouditkoste van die eksterne party te verhaal as deel van die volkoste-berekening.”
Sy voeg by dat die ANO ook nou met die Universiteit se department van Finansies saamwerk en dat dit beskikbaar is om hulp aan al die Universiteit se departemente en fakulteite te verleen. “Die Universiteit streef daarna om volkoste ten vol te implementeer en dit is waarom die ANO die betrokke meganismes en dokumente vir die praktiese implementering daarvan aan almal beskikbaar wil stel,” sê Cornelia.
Vir verdere inligting oor vol koste en Universiteit Stellenbosch se beleid in hierdie verband, skakel Cornelia Malherbe by (021) 808-3546 of Gretha Cronje by (021) 808-9019.
Doris Peters, Intellektuele Eiendom- en Finansiële Assistent: InnovUS, het InnovUS onlangs by die Association of University Technology Managers (AUTM) se Technology Operations Organisation Licensing Skills (TOOLS)-kursus in Jersey City in Amerika bygewoon.
Sy is verantwoordelik vir die administrasie van Universiteit Stellenbosch se handelsmerk- en intellektuele-eiendomportefeulje asook vir die verskaffing van rekeningkundige ondersteuning aan InnovUS. Sy was een van ongeveer 30 mense wat die driedaagse AUTM TOOLS-kursus van 4 tot 6 Oktober 2010 bygewoon het.
“Ek het die ervaring regtig geniet en dit het my net weer laat besef dat InnovUS nie ’n tree terugstaan vir die tegnologieoordrag-maatskappye wệreldwyd nie,” sệ Doris. “Ons sakeprosesse en dag-tot-dag funksionering is gelykstaande aan dié van ons Amerikaanse eweknieë.”
AUTM TOOLS is beplan en georganiseer spesifiek vir administratiewe en steunpersoneel van tegnoplogieoordrag-maatskappye. Die kursus het verskeie werkkursusse behels. Dit is aangebied deur tegnologieoordrag-personeellede met ervaring van die hantering van die daaglikse uitdagings wat administratiewe en steunpersoneel in die gesig staar.
Kursusgangers het inligting ontvang oor die basiese aspekte van tegnologieoordrag en die patentering- en lisensiëringprosesse asook die kantoor-bedryfsprosesse soos begrotings, tred hou met uitgawes en die bestuur van die verspreiding van lisensie-inkomste. Werkkursusse het ook aandag geskenk aan kritieke aspekte soos nakoming en inligtingsbestuur.
“Ek het goeie raad gekry en so baie gedurende die kursus geleer,” sệ Doris. “En nou kan ek al hierdie kennis en die nuwe vaardighede wat ek geleer het by InnovUS toepas sodat die maatskappy voordeel kan trek uit my bywoning. Ek beoog om al die inligting te deel wat ek ingewin het en my nuwe vaardighede toe te pas.”
AUTM is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat toegewy is daaraan om die wệreldwye akademiese tegnologie-oordragberoep te bevorder, te ondersteun en te versterk deur middel van interne en eksterne opvoeding asook opleiding en kommunikasie. Sy lede verteenwoordig bestuurders van intellektuele eiendom by meer as 300 universiteite, navorsingsinstellings, opleidingshospitale, sakeondernemings en staatsorganisasies.
Groot opwinding het op Donderdag 21 Oktober 2010 in die InnovUS-kantoor geheers! Dit is per slot van rekening die eerste administratiewe gebou op die kampus van Universiteit Stellenbosch wat fotovoltaïese (FV) sonkragpanele geïnstalleer het. Hierdie groen inisiatief is gevier met ’n bekendstelling by die kantoor in De Beerstraat, Stellenbosch.
Die FV-panele by InnovUS sal die kantoor in staat stel om sy eie elektrisiteit op te wek, en so die hoeveelheid elektrisiteit wat by die munisipaliteit gekoop word, aansienlik verminder. Dit is in pas met die Universiteit se algemene volhoubaarheidsdoelwitte en die projek sal die weg baan vir die res van die Universiteit om die voorbeeld te volg. “Ons is trots daarop dat ons ’n voorbeeld kan stel van hoe hierdie goed gevestigde tegnologie werk en hoe die omgewing daarby baat,” sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS.
Die projek is ’n gesamentlike poging van InnovUS, Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Hernieubare en Volhoubare Energiestudies (SHVES) en Setsolar, ’n hernieubare-energiemaatskappy wat in FV-sonkragmodulevervaardiging asook sonwaterverwarmingstelsels spesialiseer. Die FV-panele is deur Setsolar geskenk terwyl die stelsel deur SHVES geïnstalleer is. Emergent Energy (Edms) Bpk het wisselrigters en ander toerusting verskaf.
Duncan Palmer, Navorsingsingenieur: SHVES, was verantwoordelik vir die installering en ingebruikneming van die FV-stelsel. Hy sê: “Die FV-panele se topproduksie is oor die middaguur, wat saamval met InnovUS se spitselektrisiteitsaanvraag. Hierdie nuwe stelsel monitor ook die hoeveelheid elektrisiteit wat InnovUS as gevolg van die FV-panele spaar.”
Palmer voeg by dat die bekendstelling ook ’n geleentheid gebied het om die presiese werking van die stelsel ten toon te stel en hoe dit gebruik kan word om elektrisiteitsverbruik te verlaag en so die gebruik van fossielbrandstof en CO2-vrylatings te verminder. “Die installering van ’n alternatiewe energiebron moet gepaardgaan met ’n verandering van ons gewoontes,” sê Palmer. “Dit behels eenvoudige dinge soos om ligte af te skakel as dit nie gebruik word nie, eerder warmer klere te dra in plaas daarvan om verwarmers in die winter aan te skakel, lugreëlaars warmer in die somer en koeler in die winter te stel, en in plaas van om met die motor werk toe te ry, eerder ’n fiets te gebruik.”
Volgens professor Wikus van Niekerk, Direkteur: SHVES, sal die projek in die toekoms verbeter word om dit selfs nog doeltreffender te maak. “Energie van die panele word tans gebruik soos dit gegenereer word, maar met die beplande bergingskapasiteit en die gebruik van ’n tweerigting-wisselrigter sal energie ook gebruik kan word wanneer dit benodig word, byvoorbeeld gedurende kragonderbrekings, saans of op bewolkte dae.”
Entrepreneursaand die eerste van vele
Dertig van die mees onafhanklike en ambisieuse denkers van Universiteit Stellenbosch se Departement van Elektroniese en Elektriese Ingenieurswese het op Dinsdag 14 September by InnovUS vergader vir die heel eerste Entrepreneursaand. Hierdie geleentheid het die weg gebaan vir baie meer van sy soort wat elk op ’n ander departement sal konsentreer.
Volgens Philip Marais, deeltydse Besigheidsontwikkelaar: InnovUS, was die Entrepreneursaand die ideale geleentheid vir voor- en nagraadse studente, navorsers, personeel en entrepreneurs om meer te wete te kom oor die kommersialisering van elektriese of elektroniese idees.
“Hierdie geleentheid het ’n bewustheid geskep van hoe InnovUS, Universiteit Stellenbosch se Departement van Elektroniese en Elektriese Ingenieurswese, en die ingenieursbedryf hulp kan verleen met die kommersialisering van tersaaklike idees en navorsing,” sệ Philip.
Die Entrepreneursaand is in die Reitz-saal by die Universiteit se Fakulteit van Ingenieurswese aangebied. Phillip, Gert-Jan van Rooyen (Departement van Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese), David Murray (Elprom) en Retief Gerber (NioCAD) het die gaste toegespreek. “Elke spreker se aanbieding het daartoe bygedra om studente en personeel meer bewus te maak van die geleenthede om hul idees te kommersialiseer en van die dienste wat in hierdie verband vir hulle op kampus beskikbaar is.”
InnovUS, Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy, ondersteun innovasie en die kommersialisering van idees. Dit help uitvinders met blink idees om hul idees na die mark te neem en konsentreer veral op patente, sakeplanne, maatskappyoprigting, regs- en belastingkwessies en die oorbrugging van die gaping tussen navorsing en die mark deur die samevoeging van die ervaring van leiers op hul onderskeie gebiede. Hierdie geleentheid het aan deelnemers ’n beter begrip gegee van hoe om hul idees te kommersialiseer en daarom sien InnovUS uit daarna om meer soortgelyke geleenthede aanstaande jaar aan te bied.
Skakel InnovUS by (021) 808-3826 vir meer inligting oor toekomstige entrepreneursgeleenthede.
Faal jy om te beplan, beplan jy om te faal
Begin jy ’n nuwe maatskappy? As jy na die sterre reik, wil jy beslis nie net ná lansering al uitbrand nie. Die enigste manier is sorgvuldige finansiële beplanning! So sê Sol Bezuidenhout, Beleggingsbestuurder: Hasso Plattner Venture Africa (HPVA). In ’n artikel met die titel "Maak jou sake-idee lanseergereed", wat in Die InnovUS Gids gepubliseer is, beklemtoon hy dat jy na die hemel kan reik met jou nuwe onderneming, maar net as jy behoorlik beplan.
En hy behoort te weet. Mnr. Bezuidenhout se ervaring van die waagkapitaalbedryf spruit uit sy pos as beleggingsontleder by Mark Shuttleworth se maatskappy, HBD Venture Capital. Hy het ’n Ming. in chemiese ingenieurswese aan Universiteit Stellenbosch behaal asook ’n diploma in uitvoerende bestuur aan die US Bestuurskool.
Kyk met ’n arendsoog na jou finansies
Volgens mnr. Bezuidenhout is die eerste stap om jou finansiële situasie te beoordeel. “Voordat jy daaraan dink om jou idee op papier neer te skryf, moet jy eers enige moontlike geraamtes in jou finansiële kas uitpluk.” Skuld wat aangegaan word om bates te koop wat groei realiseer, soos eiendom, word redelik algemeen as “gesonde skuld” beskou. Mnr. Bezuidenhout meen egter dat baie mense ongelukkig voor die versoeking swig om hul kredietkaarte te gebruik om onnodige goedere te koop.
“As jy enige ‘ongesonde skuld’ het, kan dit ’n goeie idee wees om dit nou uit te sorteer,” sê mnr. Bezuidenhout. “Anders loop jy gevaar dat jy in groter finansiële moeilikheid kan beland as jou onderneming begin swaarkry.” Hy stel voor dat ’n mens ’n skedule vir die afbetaling van skuld opstel en dan streng by hierdie skedule hou.
Laat jou kontant vir jou werk
“Wanneer jy van jou ongesonde verbruikersgewoontes bevry is, oorweeg dit om ’n bietjie van jou swaarverdiende kontant te spaar,” sê mnr. Bezuidenhout. “Hierdie eenvoudige maar wyse stap sal jou in staat stel om die ekstra kapitaal bymekaar te maak wat nodig is om jou gedurende die eerste paar jaar te onderhou wanneer jou onderneming nog besig is om op die been op te kom.” Hy stel voor dat ’n mens in effektetrusts, geldmark-depositorekenings of vastespaarrekenings belê aangesien dit eenvoudige, betroubare opsies is.
Kry jou kontantvloei onder beheer
“So nou het jy die basiese dinge gedoen. Jy het ontslae geraak van die meeste van jou ongesonde skuld en ’n bietjie spaarkontant iewers in ’n vyfjaarbelegging weggebêre waar jy ’n hoë rente kry,” sê mnr. Bezuidenhout. “Natuurlik brand jy om jou juweel van ’n idee aan die gang te kry, maar haal diep asem en werk ’n paar slim strategieë uit om seker te maak dat jy jou kontantvloei goed onder beheer het.”
Volgens mnr Bezuidenhout word daar geraam dat ’n verbysterende 90% van beginnersondernemings nooit eens aan die gang kom nie. “En dis gewoonlik kontantvloei se skuld. Om jou kontantvloei te sinchroniseer is nie maklik nie, maar die ekstra harde werk voor die tyd sal later dividende lewer.”
Dit is van uiterste belang om bestedingsgewoontes in bedwang te hou en oorhoofse uitgawes te beperk wanneer jy ’n nuwe onderneming begin. Beding vroeëafbetalingsterme met kliënte en gunstige afbetalingsterme met krediteure wat tot ’n gesonde kontantvloeisiklus sal lei wat baie voordelig vir enige onderneming is.
Kies ’n finansieringsopsie
“Wanneer jy die harde werk agter die rug het, jou onderneming aan die gang is en dit nie meer die gevaar loop om in die nabye toekoms onder te gaan nie, is dit tyd om na die volgende stap te kyk: finansies,” sê mnr. Bezuidenhout. Hy voeg by dat banke nie as die enigste finansieringsopsie beskou moet word nie. Ander opsies behels regeringsteun, waagkapitaalfinansiering en engelbeleggers.
Waarheen nou?
Mnr. Bezuidenhout sê dit is laastens belangrik om te bepaal in watter stadium jou onderneming pas: beginner, vroeë stadium, of later stadium. Nadat jy dit vasgestel het en die bostaande beplanningstappe in aanmerking geneem het: “Maak jou sitplekgordel vas. Dit is tyd vir lansering! Voorspoed, geniet die reis.”
Magnetiese ratte binnekort kommersiële werklikheid
Een van die nuutste nuwe tegnologieë wat deur InnovUS-navorsers uitgevind is, is ’n magnetieserat-transmissiestelsel met verbeterde produseerbaarheid. Die navorsers is dr. Rong-Jie Wang en prof. Maarten Kamper van die Departement Elektriese Ingenieurswese aan Universiteit Stellenbosch. Magnetieserat-transmissiestelsels hou aansienlik meer voordele in as hul tradisionele meganiese teenvoeters. Dr. Wang en prof. Kamper se uitvindsel kan die vervaardiging en koste van hierdie stelsels beduidend verbeter.
Anders as in die geval van meganiesetransmissiestelsels is magnetieserat-transmissiestelsels uiters doeltreffend en betroubaar; geen of min instandhouding is nodig nie; daar is min geraas; wringkragoordrag is kontakloos en die beskerming oor wringkrag strek tot voordeel van kritieke veiligheidstoepassings. Maar hoë koste en problematiese produseerbaarheid belemmer dikwels die kommersiële aanwending van magnetieserat-tegnologie.
Dr. Wang en prof. Kamper se uitvindsel bied ’n verbeterde kontaklose ontwerp vir magnetieserat-transmissiestelsels wat vervaardigingskoste en –kompleksiteit verminder en terselfdertyd betroubaarheid verbeter sonder om werkverrigting te benadeel. Dr. Wang beklemtoon dat hierdie verbeterde ontwerp bydra tot die versterking van modulatormontering, die oplossing van bestaande vervaardigingsprobleme en die vermindering van vervaardigingskoste, alles sonder om werkverrigting te benadeel.
“Twee konsentriese rotors word geskei deur ’n modulator wat koaksiaal gespoor is en wat tipies is van die konstruksie van magnetieserat-topologieë,” sệ dr. Wang. “Bestaande tegnologie behels duur en komplekse ontwerp vir die modelleer van modulators wat vervaardigingskoste en –kompleksiteit verhoog. Voorts kan ’n inherente swakheid in die gietvorms bestaan.
“Hierdie uitvindsel gebruik ’n gelamineerde staalmodulatormontering wat die struktuur baie versterk. Die uitvindsel maak dit ook moontlik dat die binneste rotor kostedoeltreffender gemaak kan word.”
Die konsepontwerp en eerste prototipe van dr. Wang and prof. Kamper se uitvindsel is reeds suksesvol afgehandel en met behulp van InnovUS geëvalueer. Volgens dr. Wang kan die uitvindsel van groot belang wees vir die mynbou-, motoringenieurswese-, megatroniese, chemiese en hernubare-energiesektore asook vir die vervaardiging van motors, kragopwekkers, aandrywerstelsels en pompe.
