skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus 9de uitgawe - 8 April 2011

    SOEK 

InnovUS e-nuus 9de uitgawe
Vrydag, 8 April 2011

US beskerm sy naam en reputasie

InnovusDie Universiteit Stellenbosch geniet baie hoë aansien. Dus word enige wanvoorstelling en ongemagtigde gebruik van sy naam en handelsmerke (skildwapen, logo en Maties-logo) verbied en die Universiteit doen alles in sy vermoë om sy reputasie in hierdie verband te beskerm. Slegs in baie beperkte en uitsonderlike gevalle word buitestaanders toegelaat om na hul verbintenis met die Universiteit te verwys en dan moet hulle aan streng voorwaardes voldoen.

"Alle geskrewe kontrakte tussen die Universiteit Stellenbosch en ander partye verbied uitdruklik die gebruik van die naam van die Universiteit (in enige vorm) vir die duur van die kontrak of daarna," sê André van der Merwe, Patente en Handelsmerkdirekteur: DM Kisch Geïnkorporeer. Mnr. Van der Merwe beklemtoon dat enige ongemagtigde gebruik impliseer dat die ander party hom/haar skuldig maak aan verskeie oortredings ingevolge handelsmerkregistrasie, outeursreg, en die sogenaamde vals voordoening ingevolge die gemenereg. Dit skep die wanindruk dat so 'n individu en sy onderneming die een of ander verbintenis met die Universiteit het.

"Die ongemagtigde gebruik van die Universiteit se naam en/of handelsmerke deur 'n ander party is 'n oortreding van die Universiteit se handelsmerkregistrasies ingevolge die Wet op Handelsmerke, No. 194 van 1993 (soos gewysig). Die ongemagtigde kopiëring van die Universiteit se handelsmerke is 'n oortreding van outeursreg ingevolge die Wet op Outeursreg, No. 98 van 1978 (soos gewysig) omdat die Universiteit die outeursreghouer is van die artistieke werk vervat in die embleme," sê mnr. Van der Merwe. "Indien 'n ander party 'n kontraktuele verpligting teenoor die Universiteit het, kom die ongemagtigde gebruik neer op kontrakbreuk."

Mnr. Van der Merwe waarsku dat indien sulke oortredings voorkom, die Universiteit regstappe teen die ander party mag instel. "Hierdie regstappe behels die verkryging van 'n dringende interdik van die Hoër Hof om voortgesette gebruik te verhoed; 'n eis vir skadevergoeding of 'n redelike outeursaandeel, en 'n eis vir die Universiteit se regskoste," sê mnr. Van der Merwe. "Dit sal nie net groot ongerief en 'n verleentheid vir die buitestaander veroorsaak nie, maar ook tot groot uitgawes vir daardie party lei."

Daar bestaan wel 'n moontlike oplossing vir buitestaanders wat erkenning wil verleen aan die Universiteit in hul bemarking- en ander materiaal. "Hulle kan oorweeg om die frase 'ontwikkel deur 'n vooraanstaande Suid-Afrikaanse Universiteit' te gebruik. Dit is aanvaarbaar as die Universiteit navorsing vir die ander party doen, en hierdie toepassing voorsien in sy/haar behoeftes en vereistes sonder dat die beleid of regte van die Universiteit geskend word," sê mnr. Van der Merwe.

Sensi 'n suksesverhaal in Venezuela

Kinders van so ver as Venezuela in Suid-Amerika kan nou lewensveranderende mediese sorg ontvang danksy 'n nuwe tegnologie ontwikkel deur Diacoustic Medical Devices (Edms.) Bpk., 'n afwentelmaatskappy van InnovUS. Hulle het die Sensi-besluitnemingsteunpakket ontwikkel waardeur dokters in staat gestel word om te bepaal of kinders met gesplete verhemeltes aan patologiese hartgeruis ly en of hulle geskik is om korrektiewe operasies te ondergaan.

Volgens Thys Cronje, Besturende Direkteur: Diacoustic Medical Devices, het Sensi die kanse om 'n verkeerde diagnose te maak, beduidend verminder en dus kan hartafwykings makliker gediagnoseer en dienooreenkomstig behandel word. "Nie baie mense het die vaardigheid om tussen 'n normale hartklop en die hartklop van iemand met 'n patologiese hartgeruis te onderskei nie," sê mnr. Cronje. "Die Sensi-program registreer die hartgeluide met 'n elektroniese stetoskoop en ontleed dan hierdie geluide met behulp van 'n rekenaarprogram."

Mnr. Cronje verduidelik dat die verkeerde diagnose van hartafwykings 'n beduidende invloed op gesondheid kan hê en dat Sensi ontwikkel is om aan mediese beamptes ondersteuning met hartbeluistering te bied.

Sensi se pad na Venezuela was gebaan nadat mnr. Cronje vir Darko Moskovitz by 'n tentoonstelling van mediese produkte in Düsseldorf ontmoet het. Moskovitz is die pa van 'n seun met 'n gesplete verhemelte en die stigter van die La Sonrie Conmigo-gespleteverhemeltestigting in Venezuela. "Voordat korrektiewe chirurgie gedoen word, is dit baie belangrik dat daar eers vasgestel word of die kinders nie oorerflike hartafwykings het nie", sê mnr. Cronje. "Dit blyk dat Sensi met groot sukses by La Sonrie Conmigo aangewend is om te bepaal of die kinders in aanmerking kan kom vir chirurgie al dan nie."

Kliek hier vir meer inligting oor Diacoustic Medical Devices.

'n Klinkende nuwe onderneming vir US en Salty Dog Studios

InnovUS ontsluit tans opwindende nuwe moontlikhede vir navorsing en kreatiewe werk vir die personeel en studente van Universiteit Stellenbosch se Departement van Musiek. InnovUS het namens die Departement 'n opwindende gesamentlike onderneming met Salty Dog Studios, 'n klankateljee in Soutrivier, Kaapstad aangegaan. Voortspruitende daaruit is 'n nuwe maatskappy, Sounds of Salty Dogs (Edms.) Bpk. gebore. Hierdie onderneming sal konsentreer op die groeiende behoefte aan musiek- en klankredigering vir kort en lang speelprente in die groeiende postvervaardiging-rolprentbedryf.

"Die personeel en studente by die Universiteit Stellenbosch se Departement van Musiek gaan 'n uiters belangrike rol speel as tegniese diensverskaffers, komponiste en 'n poel van talentvolle musikante," sê professor Winfried Lüdemann, Departementshoof. Die nuwe onderneming word Sounds of Salty Dogs genoem en dit gaan doelbewus plaaslike en internasionale geleenthede soek vir rolprentredigering en klankkomposisie in die postvervaardiging-rolprentbedryf.

"Hierdie onderneming kom net op die regte tyd omdat al hoe meer plaaslike en internasionale rolprentateljees diensverskaffers soek wat gehalte en kundigheid kan lewer," sê Saberi Marais, Besigheidsontwikkelaar: InnovUS. "In 'n breër konteks sal die onderneming 'n belangrike rol speel in die verdere ontwikkeling van die kreatiewe bedryf in die Wes-Kaap en spesifiek die vaardigheidsontwikkeling van US se personeel en studente wat entoesiasties oor loopbane in postvervaardiging-rolprentredigering is."

Peter Theunissen, Besturende Direkteur: Sounds of Salty Dogs stem saam: "Dit sal Universiteit Stellenbosch se wêreldgehalte geriewe ten toon stel en, van nog groter belang, die Universiteit op die voorpunt van innovasie in die musiekbedryf plaas." 'n Loodsprojek is verlede jaar saam met die wêreldbekende komponis by die Universiteit opgeneem en gemeng. Dit was 'n eerste vir die Wes-Kaap en bestaan uit 'n Suid-Afrikaanse dokumentêre program van 90 minute getiteld "My Hunter's Heart".

"Ons glo die geleentheid bestaan dat unieke produksies van wêreldgehalte met plaaslike handelsmerke en toerisme geassosieer word," sê mnr. Theunissen. "Ons gaan differensieer deur bestuurskundigheid en uitstekende inhoud vir produksies te verskaf."

Aan alle blinkbrein entrepreneurs

Is jy eiewys-onafhanklik, ambisieus en vasbeslote om jou doelwitte te bereik? Wil jy meer uitvind oor die kommersialisering van jou navorsing? InnovUS nooi alle voorgraadse en nagraadse studente in Natuurwetenskappe en Agriwetenskappe, navorsers, personeel en entrepreneurs van Universiteit Stellenbosch uit na hul tweede Entrepreneursaand aan die begin van Mei.

"Die doel van die Entrepreneursaand is om 'n bewustheid te skep van hoe InnovUS, die fakulteite Natuurwetenskappe en Agriwetenskappe aan Universiteit Stellenbosch en bedryfsvennote steun kan verleen met die kommersialisering van tersaaklike idees en navorsing," sê Philip Marais, deeltydse besigheidsontwikkelaar by InnovUS.

InnovUS, Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy, ondersteun innovasie en die kommersialisering van idees. Dit help uitvinders met blink idees om hul idees na die markplek te neem en konsentreer veral op patente, sakeplanne, maatskappyoprigting, regs- en belastingkwessies en die oorbrugging van die gaping tussen navorsing en die mark deur die samevoeging van die ervaring van leiers op hul onderskeie gebiede. Hierdie geleentheid gee aan deelnemers 'n beter begrip van hoe om hul idees te kommersialiseer.

"Deur studente en personeel meer bewus te maak van die geleentheid om hul idees te kommersialiseer en van die dienste wat aan hulle beskikbaar gestel word, hoop ons dat meer openbaarmakings aan ons kantoor voorgelê sal word en daaruitspruitend suksesvolle afwentelmaatskappye en lisensiëringsooreenkomste," sê Philip.

Plekke vir hierdie geleentheid is beperk, so bespreek dus vroeg deur (021) 808-3826 te skakel.

Wet op Intellektuele Eiendom open nuwe deure

Suid-Afrika se nuwe wetgewing oor intellektuele eiendomsregte vir universiteite het onlangs tot 'n groot mate van omstredenheid in die private sektor gelei. Die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling beperk die oordrag van intellektuele eiendom na private entiteite. Dit het aanleiding gegee tot kommer dat private maatskappye as 'n bysaak beskou sal word en die staat universiteite se uitvindsels sal monopoliseer. Roux de Villiers, Direkteur: Werksmans Prokureurs, is egter van mening dat die nuwe Wet en die gepaardgaande regulasies tot voordeel van alle belanghebbendes toegepas kan word.

Mnr. de Villiers, 'n spesialis in tegnologielisensiëring, is ook 'n kundige in transaksies betreffende sagteware, kommunikasie-infrastruktuur en gepatenteerde tegnologieë. "Indien ons almal ons aangewese rolle vervul, is die vrese oor die nasionalisering van intellektuele eiendom myns insiens ongegrond en die nuwe wetgewing is eintlik 'n verbetering op die tradisionele benadering," sê mnr. de Villiers.

Tot nou toe het befondsers uit die private sektor tot die ontwikkelingskoste van nuwe tegnologieë bygedra sodat die daaruitspruitende intellektuele eiendomsregte aan hulle oorgedra kan word. "Hierdie benadering is problematies aangesien die intellektuele eiendom wat op hierdie wyse verkry word gewoonlik intern aangewend word en ook net vir solank as dit nuttig is. Dit beteken dat baie ander moontlike geleenthede vir kommersiële benutting verlore gaan."

Mnr. de Villiers verduidelik dat nog 'n nadeel verbonde aan die oordrag van eienaarskap is dat die navorsingsinstellings ontneem word van enige aansporing om die tegnologieë verder te ontwikkel. En daarbenewens kan die intellektuele eiendom heeltemal verlore gaan as die private sektor sy bedrywighede staak.

"Ten einde aandag aan hierdie kwessies te kan skenk, bepaal die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling dat enige intellektuele eiendom wat nie ten volle deur 'n private entiteit befonds word nie, die eiendom van die navorsingsinstelling moet bly," sê mnr. de Villiers. "Dit is nietemin steeds moontlik vir 'n private befondser om die reg te verkry om die navorsing te gebruik, en voldoende eksklusiewe regte mag verleen word ten einde die private befondsers in staat te stel om 'n mededingingsvoordeel gegrond op die nuwe tegnologieë, te behou."

'n Verdere winsgewende voordeel van die nuwe benadering is dat die private befondsers kan deel in enige inkomste wat deur die kommersiële aanwending van die nuwe tegnologie deur navorsingsinstellings buite die private befondsers se sakesfeer gegeneer word. "Dit beteken die private befondsers kan deel in bykomende inkomste wat nie andersins geskep sou kon word nie," sê mnr. de Villiers.

Mnr. de Villiers vertrou dat die Wet aanleiding sal gee tot beduidende ekonomiese voordele vir Suid-Afrika. "Indien die voorgestelde benadering suksesvol toegepas kan word, behoort die eindresultaat tot 'n merkbare toename in inkomste vir alle belanghebbendes te lei. Op sy beurt kan dit tot voordeel van die ekonomie strek. Sodoende kan ons nuwe Wet wel sy beoogde doel bereik."

US waterfilter pronk in toppublikasie

Universiteit Stellenbosch se nuwe waterfiltertegnologie is gekies om in die toonaangewende Better World Project se 2011-jaarverslag opgeneem te word. Tesame met die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth, is US een van die eerste twee Suid-Afrikaanse universiteite wat op hierdie wyse vereer word. InnovUS het op versoek van die Association of University Technology Managers (AUTM) 'n verslag oor die waterfilter ingedien en 'n omvattende artikel sal later vanjaar in die jaarverslag verskyn.

"Die Better World Project, 'n inisiatief van AUTM, kies slegs 'n paar voorleggings om elke jaar in hul jaarverslag opgeneem te word en dit is werklik 'n groot eer vir Universiteit Stellenbosch, die waterfilternavorsingspan, en InnovUS," sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS.

AUTM, 'n internasionale organisasie sonder winsbejag het die Better World Project in 2005 van stapel gestuur en dit is verbind daartoe om akademiese tegnologie-oordrag wêreldwyd te bevorder. Die projek het ten doel om dit onder die publiek se aandag te bring hoe akademiese navorsing en tegnologie-oordrag tot voordeel van individue en gemeenskappe aangewend kan word en sy jaarverslag is 'n samestelling van artikels oor innoverende nuwe produkte en dit fokus op die navorsing, ontwerp en kommersialiseringsproses.

"Die titel van die 2011 Better World Report is Respond, Recover, Restructure: Technologies Helping the World in the Face of Adversity en dit is presies wat die teesakkiewaterfilter wat deur professor Eugene Cloete van Universiteit Stellenbosch en sy navorsingspan ontwerp is, ten doel het," sê Philip Marais, Besigheidsontwikkelaar: InnovUS. Die filter pas in 'n waterbottel en dit filtreer chemikalieë en vernietig skadelike bakterieë. Een filter kos ongeveer 40 sent en lewer ongeveer 10 liter drinkwater. "Dit is ontwerp om te voorsien in 'n wêreldwye behoefte aan veilige en bekostigbare drinkwater en sal ook bydra tot die vermindering van Suid-Afrika se koolstofvoetspoor."

Universiteit Stellenbosch se teesakkiewaterfilter is gepatenteer en getoets en InnovUS ondersteun tans die navorsingspan om die produk te kommersialiseer. Kliek hier vir meer inligting oor die waterfilter en hier vir meer inligting oor die Better World Project.


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University