skip to content

Nuus en gebeure > Ons nuusbrief > InnovUS e-nuus eerste uitgawe - 15 Mei 2009

    SOEK 
InnovUS e-nuus eerste uitgawe

15 Mei 2009

InnovUS herdenk tien jaar

InnovUS is die Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy. "InnovUS bestaan al die afgelope tien jaar in verskillende formate en daarom is dit een van die oudste van sy soort in die land. Alhoewel Universiteit Stellenbosch op die voorpunt van tegnologie-ontwikkeling in Suid-Afrika was, het die US se kommersialiseringsomgewing uiteindelik in 'n lomp struktuur ontwikkel. Die inwerkingstelling van die nuwe Wet op Intellektuele Eiendomsregte (lees meer hieronder) was 'n gulde geleentheid om die omgewing te herstruktureer. Ons is nou in die pylvak om 'n volwaardige maatskappy met 'n bemagtigde direksie te word. Die nuwe maatskappy, InnovUS Tegnologie Oordrag (Edms.) Bpk.,vervang Unistel Group Holdings (Pty) Ltd en sluit in die innovasie- en kommersialiseringsinfrastuktuur van die verlede asook die afdeling vir kortkursusse. Ons beleid ten opsigte van intellektuele eiendom word ook hersien om aan die bepalings van die nuwe wetgewing te voldoen," sê prof. Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Direkteur: Bedryf en Finansies van die US, en ook vir InnovUS verantwoordelik. 

InnovUS bied aan navorsers en innoveerders net die beste ondersteuning om hul innovasies in kommersiële en lewensvatbare produkte te omskep. 

Volgens Anita Nel, Direkteur: Innovus en Besigheidsontwikkeling, "behels ons tegnologie-oordragdiens die identifisering, beskerming (patentering) en kommersialisering van die intellektuele eiendom wat deur US se navorsers ontwikkel is. Kommersialisering kan wesenlik in twee breë kategorieë verdeel word, naamlik lisensiëring en die stigting van afwentelmaatskappye. Lisensiëring beteken ons patenteer 'n uitvinding of idee, registreer dit waar van toepassing, en onderhandel met geskikte internasionale maatskappye om daardie produk te vervaardig en te verkoop onder lisensie van die US. Dit is vanselfsprekend dat die belange van alle betrokke partye gedurende hierdie proses in ag geneem word. Wanneer ons 'n produk lisensieer, probeer ons altyd om 'n volhoubare navorsingsverhouding met die betrokke maatskappy te handhaaf. Ons konsentreer dus nie net op kommersialisering nie, maar ook op die uitbreiding van die Universiteit se verhouding as 'n kennisvennoot."

InnovUS help ook navorsers om tersaaklike sake-idees te genereer om hul eie ekonomies lewensvatbare maatskappye te stig. "Dit word deur die inkubatorprogram gedoen waar ons aanvanklik 'n virtuele maatskappy stig om hul idees in 'n lewensvatbare onderneming te omskep. Ons poog altyd om afwentelmaatskappye met 'n akademiese voetspoor in die Universiteit te stig. Dit kan gedoen word as die navorser op 'n konsultasiegrondslag by die nuutgeskepte maatskappy betrokke bly en die maatskappy op die hoogte hou van nuwe ontwikkelings wat deur navorsing by die Universiteit ondersteun word," sê Anita. 

"Dit is belangrik vir ons by InnovUS om steun aan navorsers te bied deur tersaaklike en ekonomies lewensvatbare tegnologieë uit hul navorsing te skep en dit na die markte te neem waar dit tot voordeel van die samelewing aangewend kan word." 

Beduidende veranderinge is op spanvlak aangebring as deel van die proses om InnovUS na 'n maatskappy om te skakel. Benewens Anita, is die ander spanlede verantwoordelik vir tegnologieoordrag Phindile Tshabangu wat in 2009 as sakeontwikkelaar by die span aangesluit het; Doris Peters wat al ons prosesse, finansies en administrasie hanteer, en Venessa Williams, InnovUS se vriendelike gesig en stem, wat ook vir administrasie verantwoordelik is. Yongama Skweyiya het in Mei 2009 by die span aangesluit en is Tektique se projekbestuurder. Tektique is 'n gesamentlike projek van die tegnologieoordragkantore by die belangrikste SA universiteite en die MNR met die doel om die kommersialisering van tegnologie by hierdie instellings te bevorder.

NioCAD open sy deure

Een van InnovUS se afwentelmaatskappye, NioCAD, het pas 'n finansiële inspuiting van R12,5 miljoen van die Nywerheidsontwikkelings-korporasie (IDC) ontvang en sal binnekort hul eie kantore in Tegnopark oopmaak. NioCAD, die geesteskind van prof. Willem Perold, dr. Coenrad Fourie en Retief Gerber, almal dosente en navorsers verbonde aan die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, behels die ontwikkeling van ontwerpsagteware vir supergeleier-geïntegreerde stroombane. Na baie jare se navorsing is daar in Februarie 2007 danksy 'n R8,1 miljoen Innovasiefondstoekenning met voltydse ontwikkeling begin. Onder leiding van die projekbestuurder, Jan Pool, self 'n oud-ingenieurstudent van die Departement, en met die hulp van die stelselargitek, Dirk Bull, is 'n bekwame span ontwikkelaars bymekaargebring om NioCAD in net meer as twee jaar van die tekenbord tot by kommersialisering te neem. 

 

 

Invloed van nuwe wetgewing op navorsers

"Die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling (The Intellectual Property Rights from Publicly Financed Research and Development Act) wat in Desember 2008 uitgevaardig is, het 'n regstreekse uitwerking op die US se navorsers en InnovUS staan gereed om hulle hiermee te help," sê Anita Nel, Direkteur: Innovus en Besigheidsontwikkeling. "Ons hersien tans die Universiteit se beleid rakende intellektuele eiendom en InnovUS se personeel gaan sessies op kampus aanbied om navorsers in te lig oor die nuwe Wet en hoe dit hul werk beïnvloed."

Aangesien InnovUS betrokke is by die steun van navorsers om hul navorsing en idees in lewensvatbare sakegeleenthede te omskep, is hierdie Wet van groot belang vir navorsers omdat dit die eienaarskap van intellektuele eiendomsregte in Suid-Afrika bepaal.

Die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Openbare Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling (The Intellectual Property Rights from Publicly Financed Research and Development Act (IPR) is op 22 Desember 2008 in die Staatskoerant gepubliseer. Dit is opgestel om te verseker dat die intellektuele eiendom wat voortspruit uit navorsing wat met openbare fondse befonds en ontwikkel is, doeltreffend aangewend word. Dit was te lank reeds 'n grys gebied.

Die spesifieke doelstelling van die Wet is dat intellektuele eiendom wat voortspruit uit navorsing en ontwikkeling wat deur openbare fondse befonds is, gekommersialiseer word en tot voordeel van alle Suid-Afrikaners aangewend word en teen toe-eiening beskerm word. Om hierdie rede bepaal die Wet 'n bemagtigende omgewing vir die skepping, beskerming, bestuur en kommersialisering van intellektuele eiendom.

Die land se instellings wat kennis genereer, kry hierdeur bekwame leiding oor hoe om intellektuele eiendom te bestuur en hoe om te verseker dat intellektuele eiendom wat deur openbare fondse befonds word, die mark bereik en aangewend word.

Hierdie Wet het ten doel om die skepping van nuwe kennis met behulp van openbare fondse te vergemaklik en om hierdie kennis te beveilig in die vorm van intellektuele eiendomsregte, insluitende, maar nie beperk tot, patente met voortspruitende ekonomiese en maatskaplike voordele.

Bron:
Departement Wetenskap en Tegnologie
Nhlanhla Nyide, Hoofdirekteur: Kommunikasie
(Volledige titel van die Wet: The Intellectual Property Rights from Publicly Financed Research and Development Act 51 of 2008)

InnovUS trots om deel te wees van nuwe, opgeknapte wynkelder

Die Welgevallen- opleidings- en navorsingskelder van die Departement Wingerd en Wynkunde (DWW) van die US staan gereed om uit te brei met die hulp van die DWW, InnovUS en werknemers van die Universiteit. InnovUS is veral baie trots om deel te wees van die kommersialiseringspan van die kelder sedert hulle hul dranklisensie gekry het.

Die kelder word tans aangewend as 'n opleidingsgerief vir voorgraadse studente, 'n navorsingsgerief vir nagraadse studente en personeel, en wyn word ook in grootmaat kommersieel gemaak vir eksterne kliënte. Die DWW hou ongeveer agt hektaar wingerd in stand. Dit gaan nou uitgebrei word om die DWW en die US in staat te stel om 'n reeks wyne met albei handelsmerke op, te maak. Hierdie wyne sal 'n hoë gehalte pinotage,"Die Laan Pinotage", asook 'n tweede reeks goedkoper rooi en wit wyne insluit.

Die wyne sal as korporatiewe geskenke gebruik word asook by universiteitsfunksies en aan die universiteit se alumni en die algemene publiek bemark word. Die opbrengs uit die verkoop van hierdie wyn sal gebruik word om die Welgevallen-kelder se navorsings- en opleidingsgeriewe te moderniseer. 'n Gerief word dus vir die Universiteit daargestel waardeur gaste en die algemene publiek aan die infrastruktuur en wyne bekendgestel kan word. As deel van die uitbreiding word ondersoek ingestel na 'n geskikte lokaal nader aan die kelder vir wynproe en -verkope. Hierdie lokaal kan ook vir algemene funksies gebruik word.

Spesiale aanbieding aan personeellede
Die DWW het onlangs twee rooi wyne bekendgestel wat by die Welgevallen-kelder gemaak is - 'n droë rooi en 'n rooi versnit onder die Matie-naam. Hierdie wyne word nou teen 'n afslagprys aan die Universiteit se personeellede aangebied. Plaas jul bestellings deur 'n e-pos te stuur aan winesales@sun.ac.za.


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University