InnovUS e-nuus 13de uitgawe
Woensdag, 14 Desember 2011
InnovUS het vanjaar alle teikens vir openbaarmakings en lisensietransaksies oorskry. Teen die einde van November is 59 openbaarmakings gefinaliseer wat die teiken van 49 oorskry het. Nege lisensie-ooreenkomste is aangegaan en een meer word gefinaliseer wat die teiken van sewe lisensie-ooreenkomste oorskry. InnovUS het ook 'n aandeelhouer in drie maatskappye geword en toegang tot befondsing vir R35 miljoen vir een van hierdie maatskappye bewillig.
"Ons is baie tevrede met wat ons span hierdie jaar bereik het, maar ook opgewonde oor al die innoverende idees en navorsing wat deur die personeellede van die Universiteit Stellenbosch gedoen word. En om dit alles te kroon is daar al hoe meer US-entrepreneurs wat met ons saamwerk wat die mite weerspreek dat jy slegs 'n entrepreneur kan word as jy jou studies opskop," sê Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte.
Sommige van die openbaarmakings vanjaar behels:
- 'n Nuwe tuberkulose spesimen-insamelingstoestel vir diagnostiese doeleindes wat vir jong kinders gebruik word;
- 'n Nuwe ontwerp vir 'n heliostat in 'n gekonsentreerde son-energieaanleg;
- 'n Natuurlike groeistimuleerder vir plante, en
- 'n Spoorlanseerder.
Die lisensies wat in 2011 afgehandel is:
- Die KODUS-vraelys (vry van tantième);
- Die sonskoorsteen-programmatuur;
- 'n Diagnostiese toets vir plantvirusse met Genetwister, 'n plaaslike maatskappy.
- Monoklonale teenliggaam teen kanker van die eierstokke (deur die MNR Innovasiesentrum gefasiliteer) saam met 'n Amerikaanse maatskappy;
- 'n Lisensie vir die vervaardiging en verkoop van ons dubbelrotor, lugkerngenerator by ons eie afwentelmaatskappy, die Stellenbosch Windenergie Tegnologie Maatskappy (SWET) (in ruil vir ekwiteit);
- Drie van ons nanovesel-tegnologieë;
- Genetiese manipulasie van suikerriet wat daartoe lei dat die UMPS gene stil gemaak word en wat lei tot 'n 75–115% toename in sukrose-opbrengs, gedoen in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Suikerriet Navorsingsinstituut (SASRI) met 'n baie groot multinasionale agrimaatskappy, en
- 'n Lisensie met Oenobrands vir twee Suid-Afrikaanse isolate, naamlik Oenococcusoeni S5 en Lactobacillus plantarum 56, wat saamgevoeg word as 'n mengsel wat gebruik word in die malolaktiese fermentasie beginnerkultuur in die wynbedryf.
- 'n Internasionale lisensie is met 'n plaaslike maatskappy aangegaan vir Stellenbosch University Digital Elevation Model (SUDEM).
In 2011 het InnovUS ook begin met, of beplan aan, 'n verskeidenheid nuwe dienste en idees wat onder meer die volgende behels:
- Die 100-uur internskapprogram waar studente praktiese ervaring opdoen in die veld van innovasie en projekte;
- Die beplande vestiging van die InnovUS Professionele Dienste wat 'n diens bied aan navorsers wat belangstel in konsultasie aan die bedryf deur die Universiteit;
- Die toekomstige Matie Tegnologiefonds (MTF) waar beleggings in US tegnologieë gemaak word;
- Die besigheidsinkubator, 'n afskopplek vir beginnermaatskappye, en
- 'n Besigheidsideekompetisie waar studente uitgenooi word om hul idees aan 'n paneel beoordelaars bekend te stel.
Benewens al hierdie lisensiëring-ooreenkomste, openbaarmakings en nuwe idees het InnovUS nog steeds daarin geslaag om hul daaglikse aktiwiteite te vervul soos die uitbreiding van die Outeursreg- en Kortkursusse afdeling waar 430 kortkursse gedurende die 2011 akademiese jaar geregistreer en goedgekeur is. 'n Paar navorsingsooreenkomste is ook gesluit in vennootskap met die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling (DRD).
InnovUS is ook een van die voorlopers in die implementering van die navorsings-inligtingbestuurstelsel (RIMS) se toepassing van die VSA-gebaseerde maatskappy InfoEd Global.
"Ek wil graag prof. Russel Botman en sy bestuurspan opreg bedank asook prof. Leopoldt van Huyssteen en die InnovUS-direksie vir hul voortgesette ondersteuning. En natuurlik die InnovUS-span vir hul besondere verbintenis en toewyding," sê Anita.
'n Hupstoot vir suikerrietbedryf danksy US navorsers
Die navorsing wat deur prof. Jens Kossmann, Direkteur van die Instituut vir Plant-biotegnologie in die Departement van Genetika en sy span gedoen word, beteken dat hulle binnekort miljoene VSA dollars vir die suikerrietbedryf sal verdien.
Die fokus van die Instituut se navorsing, wat gedeeltelik deur die Suid-Afrikaanse Suikerriet Navorsingsinstituut (SASRI) befonds is, is tweeledig: eerstens om die sukrose-akkumulasie in suikerriet deur genetiese manipulasie te verhoog en tweedens om die biomassa in suikerriet te optimaliseer. Dit lei tot 'n 75-115% toename in die sukrose-opbrengs.
Die toename van die sukrose-inhoud in suikerriet lei tot verhoogde opbrengs vir die suikerproduseers. Die sukrose-inhoud word verhoog deur die genetiese manipulasie van die suikerriet deur die op- of afregulering van die ensieme wat die koolhidrate-metabolisme beïnvloed. Die optimalisering van die biomassa fokus daarop om die maksimum gebruik van die suikerriet te verkry. Tradisioneel is die suikerriet gepers, die sukrose is daaruit geëkstraheer en twee-derdes van die suikerriet is meestal verbrand. Die Instituut vir Plant-biotegnologie fokus op die optimalisering van hierdie biomassa sodat dit vir die produksie van biobrandstof gebruik kan word.
Danksy InnovUS se bestuur van die kommersialiseringsproses van hierdie innovasie, is daar onderhandel met 'n reuse-multinasionale agribesigheid oor 'n lisensie vir die proses. As deel van hierdie proses werk prof. Kossman en sy span saam met die lisensiehouer om 'n geneties gemanupileerde (GM) suikerrietlyn te kommersialiseer.
En dit is nog nie die einde nie. "Ons sal, in opvolg van die lisensie-ooreenkoms, 'n navorsingsamewerking met dieselfde globale speler aangaan om sodoende 'n voortgesette stroom inkomste vir ons Instituut en die Universiteit te genereer. Bykomend daartoe begin ons met onderhandelings met dieselfde vennoot oor ander tegnologieë vanuit ons Instituut en wat verband hou met die manipulasie van oeste om 'n beter opbrengs te verseker," sệ prof. Kossmann.
Toekomstige navorsing van die Instituut van Plant-biotegnologie fokus daarop om plante meer produktief te maak met minder insette. Deur die genetiese manipulasie van plante, kan die vereiste insette (soos water, onkruiddoder en bemestingstowwe) verminder word en kan meer geharde en plante vry van instandhouding ontwikkel word.
InnovUS eerste met elektroniese tegnologie-oordragmodule
InnovUS was die eerste om die elektroniese tegnologie-oordragmodule van 'n belangrike navorsingsinligting bestuurstelsel suksesvol in te span.
Die Navorsingsinligting Bestuurstelsel (RIMS) bestaan uit 'n konsortium van Suid-Afrikaanse hoër- onderwysinstellings en navorsingsrade wat almal saamwerk om die vermoë van hul navorsingsbestuur te verbeter. 'n Lisensie vir die stelsel is verkry van die VSA-gebaseerde InfoEd Global. InfoEd Global is 'n inligtingsbestuurstelsel wat fokus op die deel, oordrag en in argiewe plaas van navorsingsinligting. Gespesialiseerde programmatuurmodules in die stelsel se kenmerkende intelligente vorms en ook geoutomatiseerde prosesse word aangewend om tyd en moeite te spaar.
Die Tegnologie-oordragmodule is die eerste om in Suid-Afrika getoets te word en is heeltemal op InnovUS se prossese gebaseer. Gedurende die afgelope twee jaar het InnovUS agt van die 11 submodelle in die Tegnologie-oordragmodule voltooi. Sewe van hierdie modules word tans geproduseer en die agste een is in Oktober 2011 deur die navorsingskonsortium goedgekeur. Na verwagting sal dit binnekort by InnovUS gebruik word. "Bykomend tot die ontwikkeling van hierdie modules het InnovUS ook ander instellings in die konsortium gehelp met advies oor sakeprosesse en die ontwikkeling van 'n tegnologie-oordragstelsel," sê Doris Peters, InnovUS se Intellektuele Eiendom- en Finansiële Assistent.
InnovUS gebruik die RIMS/InfoEd-stelsel om die tegnologie-oordragprosesse op elke stadium van die proses te bestuur: van die openbaarmakings van nuwe tegnologieë (Disclosures module) tot die evaluering daarvan (Cases module) en die opstel van die vereiste kontrakte en ooreenkomste (Agreements module), om maar net 'n paar te noem. 'n Opwindende vooruitsig vir 2012 is InnovUS se bekendstelling van 'n elektroniese openbaarmakingsvorm in die Tegnologie-oordragmodule. Hierdie e-vorm lei daartoe dat die hele openbaarmakingsproses, insluitende die goedkeuring van departementshoofde en dekane van die betrokke fakulteite, elektronies gedoen word. "Dit sal die openbaarmakingsfase aansienlik versnel en voorsiening maak vir 'n papierlose kantooromgewing in InnovUS," sê Doris.
Die RIMS/InfoEd-stelsel hou baie voordele vir InnovUS in, waarvan die belangrikste is dat dit webgebaseer is en van enige plek in die wêreld toeganklik is. Dít beteken InnovUS se personeel kan projekte en kontrakte lees ongeag van waar hulle is. Ook dra die stelsel by tot die vaslegging op 'n sentrale stelsel van alle tersaaklike data en dokumente wat met die projekte verbandhou. "Dit stel navorsers en uitvinders in staat om altyd tred te hou met die vordering van hul tegnologieë en dit maak dit vir InnovUS se personeellede moontlik om enige tyd projekverslae te genereer," verduidelik Doris.
Bykomend tot InnovUS se noue betrokkenheid by RIMS/InfoED se Tegnologie-oordragmodule, het die Universiteit Stellenbosch ook gehelp om 'n paar ander modules van stapel te stuur deur middel van die bydrae van die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO). Die ANO het onder meer advies gegee oor modules rakende veiligheid, kliniese proewe, befondsingsgeleenthede en kundigheidbestuur.
