skip to content

Tegnologie > Afwentelmaatskappye

    SOEK 
 

Nutroscience (Edms) Bpk

Die Universiteit Stellenbosch het in Augustus 2002 in Nutroscience Edms Bpk belê omdat die universiteit in die toekoms van waterkultuur glo. Hierdie siening word ook deur die regering ondersteun, wat tans besig is om ’n beleidsdokument oor die nuwe industrie voor te berei. Hierdie beleidsdokument bring klein visboerentrepreneurs met ’n gebrek aan kapitaal en werklike sakevernuf onder die aandag van finansiële instansies. Nutroscience fokus saam met kundiges van die Universiteit Stellenbosch op die ontwikkeling van voerformules vir varswater-visspesies, insluitend forel, kurper, katvis, koi en krokodil. Nutroscience hanteer ook vervaardiging op kontrakbasis namens derde partye in die dierekos-industrie, insluitend Woolworths, Lionel’s Veterinary Supplies en K9 Petfoods. Nutroscience en die universiteit ontwikkel ook voerprodukte vir die groter waterkultuurindustrie, en spesifiek voer vir perlemoen, kabeljou en garnaal. Omdat die waterkultuurindustrie toenemend wetenskaplik word, bied die strategiese vennootskap met die Universiteit Stellenbosch ’n mededingende voordeel in hierdie industrie. Nutroscience is tans die enigste toegewyde, gespesialiseerde visvoervervaardiger in Suid-Afrika. 

Kontak persoon: Dirk van der Linde


 

Sunspace and Information Systems Edms Bpk

SunSat1, ’n klein satelliet van 60 kg, gebou deur destydse nagraadse studente wat deel was van die Universiteit Stellenbosch se satellietprogram, is in 1999 deur die Amerikaanse ruimte-agentskap, NASA, gelanseer. Dieselfde ingenieurs en wetenskaplikes wat SunSat1 ontwerp en gebou het, het onlangs hulle tweede satelliet vanaf die Barentsz-see in Rusland en ’n derde in die Verenigde State gelanseer – ’n noemenswaardige prestasie. SunSpace Edms Bpk is kort ná die lansering van SunSat1 in 1999 gestig. Die Universiteit Stellenbosch het die SunSat-tegnologie vir die afwentelmaatskappy gelisensieer in ruil vir aandele. SunSpace fokus op die ontwerp en ontwikkeling van hoëverrigting-satellietstelsels van klein en medium grootte. Die twee satelliete wat deur SunSpace Edms Bpk gelanseer is, ’n satelliet van 81 kg wat laag om die aarde wentel en vir die Suid-Afrikaanse regering gebou is, en ’n tweede, groter satelliet van ongeveer 160 kg wat vir ’n internasionale kliënt gebou is, het aan SunSpace die internasionale geloofwaardigheid gegee wat nodig was om hierdie mark te betree. SunSpace is tans besig om die multisensor-mikrosatellietkamera (Multi Sensor Micro Satellite Imager (MSMI)) as deel van ’n innoveringsprojek in samewerking met die Vlaamse regering, die Katolieke Universiteit van Leuven en ander Belgiese tegnologie-ontwikkelaars te ontwikkel. Hierdie tegnologie maak dit moontlik om beelde op die grond met buitengewone helderheid vas te lê, en SunSpace wil die eerste wees om ’n MSMI in die ruimte te lanseer.

Kontak persoon: Bart Cilliers


 

Unistel Medical Laboratories Edms Bpk

Op 1 November 2000 het die Unistel Medical Laboratories (UML) Edms Bpk wettiglik tot stand gekom. Vandag voer UML, wat gesamentlik deur die Universiteit Stellenbosch, Pathcare en ’n privaat belegger besit word, tussen 15 000 en 20 000 genetiese diagnostiese toetse per jaar uit. Hierdie toetse behels DNS-profilering vir forensiese en vaderskaptoetsing onder mense en stoetdiere asook chromosoom- en DNS-analise vir die diagnose van enkelgeendefekte en chromosoom-abnormaliteit. UML fokus nou op mikroreekstegnologie waarmee tot 9 600 genetiese abnormaliteite op een skyfie voorgestel kan word. Dit sal dokters in staat stel om groot hoeveelhede inligting te prosesseer ten einde ’n akkurater diagnose te verkry.

Kontak persoon: Munro Marx 


 

SUSPI

Die Universiteit Stellenbosch Sportprestasie Instituut (SUSPI) is in Maart 2006 gestig ter erkenning van die strategiese rol wat sport op die hoogste vlak by die Universiteit Stellenbosch speel. Die Universiteit is die alleeneienaar van die Instituut. Die Instituut is aan verskeie ander nouverwante entiteite, soos die Sportburo, die Departement Sportwetenskap en die Departement Fisiologiese Wetenskappe, verbind.

SUSPI streef daarna om deur middel van 'n groot verskeidenheid uitstekende dienste aan plaaslike en internasionale sport-, fiksheids- en gesondheidsindustrieë die voorkeurkeuse van atlete, administrateurs en beamptes te wees. SUSPI het drie hoofoogmerke:

Buiten 'n eenstop-afrigtings- en -ondersteuningsomgewing van wêreldgehalte wat aan die vereistes van topatlete en -spanne voldoen en hulle die geleentheid bied om vir internasionale byeenkomste voor te berei, bied die Instituut ook kursusse in Sportwetenskap en Sportmedisyne aan, en lewer ook 'n verskeidenheid dienste wat aan die behoeftes van atlete en spanne of die spesifieke behoeftes van individue voldoen. Hierdie dienste sluit in sportopvoeding, gimnasium-lidmaatskap, die aanbied en bestuur van byeenkomste, en toegang tot verskeie ander moderne fasiliteite en akkommodasie.

SUSPI se groeiende kliëntebasis bestaan tans uit internasionale spanne en atlete, nasionale federasies, hoëprestasie-akademies, verskeie Matie-sportspanne asook talle gesondheidsbewuste individue. Die Instituut moedig egter almal aan wat hulle sportpotensiaal wil verwesenlik of hulle gesondheid en fiksheid wil verbeter om van die dienste gebruik te maak.

  • om die prestasie van sowel plaaslike as internasionale atlete en spanne te verbeter;
  • om die intellektuele kapitaal van administrateurs, afrigters en beamptes te verhoog; en
  • om fasiliteite te voorsien ter verbetering van die gesondheid en welsyn van die algemene publiek.

Kontakpersoon: Gustav Venter


 

Diacoustic Medical Devices (Edms.) Bpk.

Die geoutomatiseerde pediatriese hartouskultasiestel (Automated Paediatric Cardiac Auscultation - APCA) is ‘n robuuste draagbare handtoestel wat aan gesondheidsorgverskaffers die nodige ondersteuning bied vir kliniese besluite om tussen patologiese en fisiologiese hartgeruis te kan onderskei.

Die APCA maak doeltreffende ondersteuning vir diagnostiese sifting moontlik om sodoende onnodige en duur kardiologiese verwysings te beperk. Die tegnologie is van die grootste belang vir kinderartse, algemene praktisyns, hospitale, mediese klinieke, verpleegsters en vroedvroue.

Die stelsel bestaan uit ‘n 3.5” streelskermmonitor wat in die hand vasgehou word met ‘n vinnige en intuïtiewe gebruikerkoppelvlak. Saam met die elektroniese stetoskope en driedraad-EKG’s wat van die rak af gekoop kan word, registreer en ontleed dit pediatriese hartklanke wat maklik op ‘n PR afgelaai kan word deur ‘n Bluetooth-koppelvlak.

Die akoestiese seinverwerkings-algoritme kan tussen fisiologiese en patologiese hartgeruis onderskei deur middel van ‘n kunsmatige senuweenetwerk wat opgelei en geverifieer is met meer as 1 200 opnames van pediatriese hartklanke. 

Die toestel kan hartklankdata opteken, stoor, ontleed en terugspeel deur middel van oorfone en deur data op die LCD-streelskermmonitor te vertoon. ‘n Bluetooth-vermoë vergemaklik ook integrasie met ‘n PR en die aflaai van data na eksterne media.

Waardevoorstel
Kongenitale hartdefekte kan ernstige langtermyngevolge vir pediatriese pasiënte hê. Die APCA-stelsel maak doeltreffende sifting moontlik wat:
- aan dokters die nodige kliniese steun vir  besluitneming bied en hulle meer vertroue gee om ‘n diagnose te maak;
- die interpretasie van hartklanke verbeter;
- verkeerde diagnose verminder;
- koste ten opsigte van onnodige verwysing na pediatriese kardioloë verminder; en
- toegang tot behandeling verbeter omdat meer pasiënte behandel kan word.

Innovasiestatus
Diacoustic Medical Devices (Pty) Ltd is in 2007 gestig. Die APCA-handtoestel en algoritmes ondergaan tans produksieprototipe-ontwikkeling - volgens beraming vir die einde van 2009 - en is besig om ISO-13485-sertifisering te kry.

Kontak persoon: Thys Cronje

Kliek hier vir meer inligting oor Diacoustic Medical Devices (Edms.) Bpk.


 

AFRICAN SUN MeDIA

Inligting van AFRICAN SUN MeDIA sal volg.

Kontak persoon: Justa Niemand


 

NioCAD (Edms) Bpk

NioCAD (Edms) Bpk is ’n privaat maatskappy wat in 2009 gestig is.

Dit het begin as ’n navorsings- en ontwikkelingsprojek aan die Universiteit Stellenbosch in 2001, Vanaf 2007 is dit befonds deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting se Innovasiefonds.

NioCAD is in Stellenbosch, Suid-Afrika, geleë. Die maatskappy ontwikkel sagteware vir elektroniese-ontwerpoutomatisering (Electronic Design Automation of EDA) en rekenaargesteunde ontwerp (Computer Aided Design of CAD) vir ontluikende tegnologieë met ’n sterk fokus op integrasie, outomatisering en samewerking.

Ons eerste produk, NioPulse, is toegespits op supergeleidende, digitale elektronika. Ons doel is om analoogstroombaanontwerp vir supergeleidende sensors, filters, en RF-/mikrogolfkomponente te steun.

Ons missie is om die manier waarop ingenieursontwerp gedoen word betekenisvol te verbeter. Ons argitektuur maak dit vir wetenskaplikes en ingenieurs moontlik om die potensiaal van hulle idees vinnig te optimaliseer.

NioCAD verskaf kundigheid in wetenskap en ingenieurswese, sagteware-ontwerp, projekbestuur en tegniese kommunikasie.

Kontak persoon: Retief Gerber


  

 


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University