skip to content

Meer oor InnovUS > Ontmoet US navorsers

    SOEK 

Doktor Dirk Stephan: Vitis Laboratorium

13/06/2011
Ontmoet US navorsers >>

Wat behels die navorsing?

Dr. Dirk Stephan is die navorsingsbestuurder by die Vitis Laboratorium in die Genetika Departement aan die Universiteit Stellenbosch. Aanvanklik het die laboratorium net navorsing gedoen oor virusse wat druiwestokke besmet, maar sedertdien het dit uitgebrei tot 'n semikommersiële diagnostiese diens vir kwekers, waar patogene wat onder meer dadels, aarbeie, appels, uie en tamaties besmet, opgespoor en ontleed word. Benewens hierdie diagnostiese dienste, bestudeer die laboratorium ook mikroRNA, virale vektore en antimikrobiale peptiede in plante.

Waarom is dit tersaaklik?

Die navorsers by die Vitis Laboratorium hoop om die algemeenste siekteprobleme in druiwe en ander plante te voorkom deur die interaksie tussen 'n patogeen en sy gasheerplant te bestudeer. Hierdie studies behels metagenomika waarin volledige reekse plantvirusse verkry word uit omgewingsmonsters (in plaas daarvan om in 'n laboratorium gekoloniseer te word), asook  antimikrobiale peptiede, bestudeer word. Peptiede is stowwe wat deur plante vervaardig word as 'n natuurlike verdedigingsmeganisme en wat dan die funksie van natuurlkike antibiotika verrig.
 

MikroRNA’s is miniatuur-gene wat konvensionele gene reguleer deur hulle “aan en af” te skakel. Die mikroRNA-projek het twee doelwitte: eerstens om nuwe mikroRNA’s te ontdek wat geaktiveer word as die plant deur 'n virus, fitoplasma of droogte bedreig word, en tweedens om kunsmatige mikroRNA’s te skep wat aangewend kan word om spesifieke genes in 'n plant of virus uit te skakel.

Die laboratorium gebruik ook virale (vervaardig uit gemodifiseerde, stabiele en veilige virusse) en ander vektore om sekere genetiese materiaal in plante te voeg. Hierdie metode wat as oorgangsuitdrukking (transient expression) bekend staan, duur nie so lank nie, maar is baie vinniger as die tradisionele transgeniese roete waartydens genetiese materiaal via genetiese manipulasie ingevoeg word.

Wat hou die toekoms in?

Op die oomblik is dr. Stephan en die voorsitter van die Genetika Departement, prof. Johan Burger, betrokke by die ontwikkeling van nanopartikels. Die doel van die projek is om gemodifiseerde virale partikels van plante te gebruik as teenvoeter vir spesifieke siek weefsels in die menslike liggaam.

Meer oor die navorser

Dr. Dirk Stephan het Tuinbou en Plantpatologie aan die Wilhelm Leibniz Universiteit  in Hannover, Duitsland bestudeer voordat hy sy PhD in Plantvirologie verwerf het. Hy het vier jaar gelede na die Universiteit Stellenbosch gekom as 'n postdoktorale genoot en is tans in beheer van die Vitis Laboratorium en hou ook toesig oor die navorsingsaktiwiteite van die studente in die laboratorium. Hy is 'n kranige skubaduiker en finansiële bestuurder van die Maties Onderwaterklub, die tiende suksesvolste PADI Duiksentrum in SA in 2010.


Terug


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University