Doktor Hanno Reuter: Prestasie-beoordeling van industriële verkoelingstelsels en termiese kragaanlegte |
| 22/06/2011 |
Wat behels die navorsing?
Dr. Hanno Reuter se navorsing konsentreer op die verbetering van prestasie en die optimalisering van industriële verkoelingstelsels. Dr. Reuter gebruik rekenaarmatige vloeistofdinamika en eksperimente om gesofistikeerde modelle en verbeterde tegnologieë te ontwikkel ten einde die verkoelingsproses deur die verbetering van onder meer waterdistribusiestelsels, lugvloeipatrone, warmteruilers en ontwerpkonfigurasies te optimaliseer.
Waarom is dit tersaaklik?
Kragaanlegte maak oor die algemeen staat op een van twee soorte verkoelingstelsels, naamlik nat en droë verkoelingstelsels. Nat verkoeling is die doeltreffendste van die twee, maar dit gebruik baie water. Met droë verkoeling is die kragaanleg nie so doeltreffend nie, die brandstofverbruik is dus hoër en koolstof word vrygestel. Hibriede verkoelingstelsels poog om die voordele van nat en droë stelsels in een stelsel saam te voeg. Dr. Reuter se modelle stel hom in staat om die beste kombinasie van faktore te bereken om optimale verkoeling in 'n hibriede stelsel te verskaf. Dit, op sy beurt, lei tot aansienlike kostebesparing en ‘n gunstiger uitwerking op die omgewing.
Wat hou die toekoms in?
Dr. Reuter werk tans saam met prof. Detlev Kröger aan die SUNSPOT-siklus, 'n sonkragaangedrewe termodinamiese siklus wat in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is. Hierdie nuwerwetse siklus gebruik sonkrag om elektrisiteit gedurende die dag op te wek en stoor warm lug in 'n termiese stoorfasiliteit om elektrisiteit in die nag op te wek. Benewens dit word die stoom wat deur die turbine in die stelsel vrygestel word, gekondenseer om die aanleg koel te hou. Iets nuuts van SUNSPOT is dat die meeste verkoeling (kondensasie van stoom) snags nodig is wanneer omringende temperature baie laer is en verkoeling dus doeltreffender is. Die installering van 'n hibriede verkoelingstelsel wat 'n beperkte hoeveelheid brak- of afvalwater gebruik, sal ook help om die siklus gedurende die warmste tye van die dag te verkoel.
Meer oor die navorser
Dr. Hanno Reuter het sy meestersgraad in Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal waarna hy die daaropvolgende agt jaar plaaslik en oorsee in die praktyk gewerk het. In 2003 is hy as senior lektor in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aangestel waarna hy sy doktorsgraad in 2010 verwerf het. Hy is 'n kranige sportman wat graag hokkie, tennis, gholf en muurbal speel. As hy nie op die sportveld is nie gaan hy graag stap of lees of kyk fliek. Hy geniet dit ook om tyd saam met familie en vriende deur te bring.
