Dr Paul Papka: Neutronverklikker |
| 18/04/2011 |
Wat behels die navorsing?
Dr. Paul Papka, saam met 'n PhD-student in Fisika aan die Universiteit Stellenbosch, Daphney Singo, het 'n ongewone neutronverklikker ontwikkel wat die aanwesigheid van baie hoë neutronvlakke in hoëstralingsvlakke kan meet. Die verklikker bied 'n intydse lesing en kan aansienlike neutronwisseling sonder enige probleme hanteer.
Waarom is dit tersaaklik?
Die neutronverklikker kan gebruik word om toestande aan die binnekant van 'n hoëtemperatuurreaktor te monitor terwyl dit in werking is. As gevolg van hoëstralingsvlakke en -temperatuur in die reaktor is elektroniese toerusting nie geskik om die neutronwisseling en ander parameters soos temperatuur in die kern te meet nie. Deur die meting van die neutronvlakke kan dr. Papka en sy kollegas die neutronwisseling karakteriseer en is hulle in staat om 'n metode te ontwikkel om die temperatuur in die reaktor te meet. Die grootste voordeel van die neutronverklikker is dat dit gebruik kan word selfs as die reaktor in werking is.
Wat hou die toekoms in?
Die neutronverklikker is by iThemba LABS getoets en daar is bevind dat dit baie doeltreffend is. Verdere toetse word in die vooruitsig gestel om die verklikker sensitief vir die hele energie-omvang van meV tot MeV (milli tot mega elektron volts) te maak.
Meer oor die navorser
Dr. Paul Papka het sy meestersgraad in Kernfisika en sy PhD in Fisika aan die Universiteit van Strasbourg in Frankryk verwerf. Hy het in 2009 by die Fisika departement aan die Universiteit van Stellenbosch aangesluit waar hy tans Eksperimentele Kernfisika, Rekenaarfisika en Kwantummeganika doseer. In sy vrye tyd speel hy die dubbelbaskitaar en bou en restoureer antieke motors. Na drie jaar van werskaf oor naweke het hy onlangs die restourasiewerk aan 'n afslaankap DS Chapron Citroën voltooi.
