skip to content

Nuus en gebeure > Jongste nuus

    SOEK 

InnovUS wek nou eie elektrisiteit op

27/10/2010
Jongste nuus >>

InnovUS wek nou eie elektrisiteit op

InnovUS Tegnologie Oordrag (Edms.) Bpk., Universiteit Stellenbosch se volfiliaal tegnologie-oordragmaatskappy, het hul groen status gevier met ’n bekendstelling by hul kantoor Donderdag.

InnovUS se kantoor in De Beerstraat, Stellenbosch, is die eerste administratiewe gebou op die Stellenbosch-kampus wat fotovoltaïese (PV) sonkragpanele geïnstalleer het om hul eie elektrisiteit op te wek om sodoende die hoeveelheid elektrisiteit wat by die munisipaliteit gekoop word, te verminder. Hierdie projek baan die weg vir die res van die Universiteit om in hul voetspore te volg. “Ons is trots daarop om die voorbeeld te kan stel van hoe goed hierdie gevestigde tegnologie werk en watter voordeel dit vir die omgewing inhou,” sê me Anita Nel, Hoofuitvoerende Beampte: InnovUS.

Hierdie projek is ’n gesamentlike poging van InnovUS, die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (SHVES) en Setsolar, ’n hernubare energiemaatskappy wat in die vervaardiging en installering van PV-sonkragmodules asook sonkragwaterverhittingstelsels spesialiseer. Die projek is in Julie van stapel gestuur ooreenkomstig die Universiteit se oorkoepelende volhoubaarheidsdoelwitte. Setsolar het die PV-panele geskenk en SHVES het dit geïnstalleer. Emergent Energy (Edms.) Bpk. het die wisselrigters en ander toerusting verskaf.

Mnr Duncan Palmer, ’n navorsingsingenieur by SHVES, was verantwoordelik vir die installering en ingebruikneming van die PV-stelsel. Hy sê: “Die spitsproduksie van die PV-panele is in die middel van die dag wat saamval met die spitselektrisiteitsaanvraag van InnovUS. Hierdie nuwe stelsel monitor ook die hoeveelheid elektrisiteit wat InnovUS bespaar as gevolg van die PV-panele.”

Hy het bygevoeg dat die bekendstelling ’n geleentheid was om te wys presies hoe die stelsel werk en hoe dit aangewend kan word om elektrisiteitskoste te verminder wat weer die verbruik van fossielbrandstof verminder en koolsuurgasuitlatings beperk. “Die installering van ’n alternatiewe energiebron gaan met ’n verandering van gewoontes gepaard,” sê Palmer. “Dit behels eenvoudige dinge soos om die ligte af te skakel as dit nie gebruik word nie; om warmer klere in die winter te dra in plaas daarvan om verwarmers aan te skakel; om lugversorgers warmer in die somer en kouer in die winter te stel, en om fiets te ry werk toe in plaas daarvan om ’n motor te gebruik.”


Prof Wikus van Niekerk, Direkteur van SHVES, sê: “Energie wat deur die panele opgewek word, word verbruik soos dit opgewek word, maar met die beplande stoorvermoëns en die gebruik van ’n tweerigting-wisselrigter kan energie ook verbruik word na gelang van behoefte soos met kragonderbrekings, in die aand of op oortrokke dae.”

 

 

 

Mnr Duncan Palmer, ’n navorsingsingenieur by die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, wat  verantwoordelik was vir die installering en ingebruikneming van die fotovoltaïese-stelsel.


Terug


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University