ʼn Strategiese benadering tot patentering |
| 26/05/2010 |
ʼn Strategiese benadering tot patentering
Ralph van Niekerk
Vandag, meer as ooit, maak intellektuele-eiendomsregte (IER) ʼn beduidende deel van menige onderneming se balansstaat uit. Hierdie IER’e sluit ongeregistreerde regte in wat outomaties ontstaan – soos kopiereg, naamwaarde, vakgeheime en kundigheid – sowel as geregistreerde regte, soos patente, geregistreerde ontwerpe en handelsmerke. Wat patente betref, is die besluit oor of en hoe ʼn patentportefeulje ontwikkel moet word ʼn belangrike sakeoorweging. Terwyl baie maatskappye patente lukraak bekom, kan die volle potensiaal van patentregte net deur ʼn strategiese en gestruktureerde benadering ontgin word.
ʼn Patent is ʼn beperkte alleenreg wat die staat aan ʼn uitvinder verleen in ruil vir ʼn volle bekendmaking van die uitvinding. ʼn Goed opgestelde patent vir ʼn belangrike tegnologie sal die patenteienaar van die reg voorsien om sy mededingers vir die volle duur van die patent – wat gewoonlik 20 jaar vanaf die aansoekdatum is – te keer om die uitvinding op enige praktiese wyse aan te wend.
Eerstens moet jy jou afvra waarom jou onderneming dit oorweeg om patente te bekom. Daar is verskeie redes waarom patente bekom kan word: ʼn Mens kan hoofsaaklik tussen aanval- of verdedigingstrategieë vir patentering onderskei.
Aanvalstrategieë
Keer mededinging
Patente kan as versperrings dien en mededingers daarvan verhoed om beskermde tegnologieë na te boots, deur hulle te dwing om óm die patente te ontwerp. Hoe doeltreffend jou mededingers gestuit word, hang af van hoe ʼn groot deurbraak jou tegnologie is, en hoe goed jou tegnologie deur jou patentportefeulje beskerm word. Soms is die blote bestaan van ʼn omvattende patentportefeulje met vele aspekte van ʼn kerntegnologie genoeg om mededingers af te skrik of om ʼn gunstige lisensiëringsooreenkoms met jou mededingers af te dwing.
Lisensiëring
Nóg ʼn aanvalstrategie vir patentering behels lisensiëring – waar jy jou mededingers die reg gee om die uitvinding aan te wend in ruil vir ʼn patenthouersaandeel. Sonder ʼn patent is dit gewoonlik baie moeilik om tegnologie te lisensieer, aangesien slegs vertroulike inligting en kundigheid na regte gelisensieer kan word. Vertroulike inligting en kundigheid kan baie maklik in die openbare sfeer uitlek, waarna daar niks oorbly om te lisensieer nie. Met patente is dit egter eenvoudig om alle, of ʼn deel van die, regte op ʼn uitvinding aan ander partye uit te lisensieer. Patentlisensies kan tot bepaalde geografiese gebiede, tegnologiese gebiede of tydperke beperk word om die patenteienaar se mededingende voorsprong in die gekose mark te beskerm, terwyl ander markte terselfdertyd ontsluit word.
Daar is suksesvolle ondernemings wat uitsluitlik daarop toegespits is om tegnologie te ontwikkel, daardie tegnologie te patenteer, en die gebruik daarvan aan ander uit te lisensieer in ruil vir ʼn patenthouersaandeel. ʼn Voorbeeld is die betreklik onbekende Amerikaanse mikroskyfvervaardiger Rambus, wat nuwe semigeleiertegnologie ontwikkel en dit dan aan semigeleier-vervaardigers soos Intel en AMD uitlisensieer. Universiteite is nóg ʼn voorbeeld van entiteite wat oor die algemeen tegnologie patenteer net om lisensie-inkomste daaruit te verdien, eerder as om die uitvindings self te ontgin.
Maatskappye kan kies om hulle kerntegnologieë te lisensieer en só die aanvangskoste om hulle eie vervaardigingsfasiliteite te ontwikkel, vermy, of hulle kan hulle rand- of bykomstige tegnologieë aan partye uitlisensieer wat dit beter kan ontgin. IBM is ʼn voorbeeld van ʼn maatskappy wat jaarliks etlike duisende patentaansoeke indien vir tegnologieë wat nie op hulle hoofsaak betrekking het nie, en dan hierdie patente bemark en uitlisensieer aan maatskappye wat dit wil ontgin.
Verhoog aandeelhouerswaarde en lok belegging aan
Beleggers hou daarvan indien maatskappytegnologie deur patente beskerm word, aangesien dié bates vir hefboomfinansiering gebruik kan word namate die maatskappy groei. Patente bewys ook eienaarskap van tegnologie, en bekragtig die oorspronklikheid van uitvindings. Baie beleggers gebruik die grootte van ʼn maatskappy se patentportefeulje as ʼn belangrike maatstaf vir maatskappywaarde. ʼn Aansienlike patentportefeulje sal dus moontlike beleggers beïndruk en bestaande aandeelhouers gerusstel.
Verdedigingstrategieë
Vryheid om te funksioneer en te onderhandel
In baie markte is dit uiters riskant om sonder patentbeskerming sake te doen. Dit is veral die geval in die Verenigde State, waar patenteienaars dikwels prosedeersiek is. Sonder ʼn geloofwaardige teendreigement, kan dreigemente van skending maatskappye sonder patentbeskerming uit die mark dwing. ʼn Goed ontwikkelde patentportefeulje bied ook buigsaamheid in sakeonderhandelinge, aangesien geskille dikwels deur kruislisensiëringsooreenkomste in der minne geskik kan word.
Patente kan ook beskerming bied teen mededingers wat soortgelyke patente bekom, aangesien patente, anders as vakgeheime of vertroulike inligting, voorgaande vlyt (“prior art”) word nadat dit ingedien is, wat keer dat mededingers vir dieselfde uitvinding beskerming bekom.
Versekeringswaarde
Vroeg in die tegnologieontwikkelingsiklus is dit dikwels onduidelik wat die eindresultaat van enige bepaalde uitvinding sal wees. Indien die tegnologie bekendgemaak word, beland dit in die openbare sfeer. ʼn Kostedoeltreffende manier om ʼn uitvinding uit die staanspoor te beskerm, is om ʼn voorlopige patentaansoek in te dien voordat die uitvinding aan die publiek bekendgemaak word. Op dié manier kan ʼn voorlopige aansoek as ʼn soort versekeringspolis beskou word. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ʼn voorlopige patent wat bloot as versekering ingedien is, uiters waardevol blyk te wees en ongelooflike lisensiëringsmoontlikhede inhou. Onthou dat verdere patentaansoeke op grond van ʼn voorlopige patentaansoek binne ʼn jaar ná die voorlopige aansoek ingedien moet word; so nie, verstryk die voorlopige aansoek.
Behou maatskappybuigsaamheid
Namate tegnologie ontwikkel word en ʼn onderneming uitbrei, gebeur dit dikwels dat sakeomstandighede dermate verander dat ʼn maatskappy sy sakebenadering moet aanpas. In so ʼn geval bied ʼn patentportefeulje wat wyer strek as net jou kernsaak, jou die buigsaamheid om vinnig nuwe markte te betree en nuwe produkte te skep.
Begrotingsvasstelling en portefeuljemonitering
Sodra jy bepaal het waarom jou maatskappy patente wil bekom, moet ʼn realistiese begroting bepaal word. ʼn Praktiese reël is om rofweg sowat 10% van die totale navorsing-en-ontwikkelings- (N&O-)koste aan patentering van uitvindings te bestee. Hoewel dit na ʼn aardige bedrag klink, is dit raadsaam om te onthou dat daar sonder patentbeskerming dikwels geen ander manier is om ʼn eksklusiewe mark tot stand te bring of lisensie-inkomste te verdien nie. Mededingers wat nie die aanvanklike N&O-koste aangegaan het nie, kan jou met jou eie tegnologie uit die mark dwing deur bloot prysgewys met jou mee te ding.
As jy ʼn klein maatskappy met beperkte hulpbronne is en beleggers wil aanlok, het dit waarskynlik meer sin om jou visier slegs op patente vir kerntegnologie te stel. Groter, welvarender maatskappye kan probeer om versperrings op te rig, en kan patente bekom vir bykomstige tegnologieë, om dit daarna te lisensieer.
Sodra jy meer as net ʼn paar patente het, is dit belangrik om die resultate van jou patentbesteding met die koste daarvan te vergelyk. Dit is ook raadsaam om jou patentstrategie voortdurend in oënskou te neem om te bepaal of dit steeds in pas is met jou uiteindelike doel – hetsy om finansiering te bekom, lisensie-inkomste te verdien, nuwe markte te skep, of die verkoop van mededingende produkte te keer.
Oor die skrywer:
Ralph van Niekerk is ‘n vennoot in die patentdepartement by Von Seidels IE Prokureurs. Hy besit ‘n B.Ing.-graad van die universiteit Stellenbosch, ‘n LLB van Unisa en ‘n LLM van Stanford Law School. Ralph se kundigheid sluit in die voorbereiding en indiening van plaaslike en buitelandse patentaansoeke, veral elektroniese en rekenaarverwante uitvindings; die opstel van aansoeke vir geregistreerde ontwerpe; gedingvoering oor patente en algemene intellektuele eiendom (IE); die opstel van regsmenings oor patentskending; en die opstel van patentlisensiëringsooreenkomste. Hy het ʼn jaar lank in die Verenigde State op IE-gebied gestudeer en gewerk, en is dus vertroud met die Amerikaanse IE-stelsel.
Kontakbesonderhede:
E-pos: rvanniekerk@vonsiedels.com
Webtuiste: www.vonsiedels.com
