skip to content

Nuus en gebeure > Jongste nuus

    SOEK 

Nuwe wet oor IE-regte dalk hupstoot vir SA ekonomie

24/01/2011
Jongste nuus >>
Skeptisisme in die privaat sektor oor Suid-Afrika se nuwe wet oor IE-regte (regte op intellektuele eiendom) vir universiteite blyk dalk ongegrond te wees. In teenstelling met vrese dat dié wet tot die ‘nasionalisering’ van intellektuele eiendom kan lei, kan dit inderdaad positiewe – en winsgewende – gevolge vir die regering, universiteite én die privaat sektor hê.

Roux de Villiers, ʼn direkteur by Werksmans Prokureurs, sê die Wet op Intellektuele-eiendomsregte uit Openbaar Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling (die IER-wet), en die regulasies wat daarmee gepaardgaan, kan tot almal se voordeel wees – “mits ons almal saamwerk”.

Hierdie wet het in Augustus 2010 in werking getree en is met kommer deur ontleders in die privaat sektor begroet. Hulle grootste kwelling is dat die nuwe wet privaat maatskappye kan uitsluit en die regering in staat stel om uitvindings aan Suid-Afrikaanse universiteite te beheer.

“Ek glo dié siening is ongegrond,” sê De Villiers. “Dié wet hou baie goeie gevolge in en bied alternatiewe wat beter kan wees as die benadering wat tot nou toe gevolg is.”

Tot dusver het privaatsektorfinansiers ʼn deel van die ontwikkelingskoste verbonde aan ʼn nuwe tegnologie betaal in ruil vir die IE-regte daarop. “Die gedagte was: ‘Ek het daarvoor betaal; dis nou myne,’” sê hy.  Die leemtes in hierdie benadering is meestal oor die hoof gesien.

 

Tradisionele benadering hét nadele 

“Wanneer intellektuele eiendom aan ʼn privaat finansier oorgedra word, loop dit gevaar om te stagneer en selfs heeltemal verlore te gaan,” verduidelik De Villiers.

“Eerstens word die intellektuele eiendom dikwels slegs vir die privaat finansier se interne sake gebruik en ook slegs solank dit deel van sy bedrywighede uitmaak. Dít beteken dat baie ander potensiële kommersialiserings- en ontginningsmoontlikhede verlore gaan.”

Die tweede nadeel van die oordrag van eienaarskap is dat dit die navorsingsinstelling ontneem van alle aansporing om die tegnologie verder te ontwikkel. “Daar bly weinig aansporing oor aangesien die instelling geen verbeterings wat op die bepaalde intellektuele eiendom berus, sou kon ontgin nie,” sê De Villiers.

Derdens, verduidelik hy, kan die intellektuele eiendom geheel en al tot niet gaan indien die privaatsektorfinansier sy deure sluit. “Daarom bly tegnologieë wat aan privaatsektorfinansiers oorgedra word dikwels onderontgin óf dit stagneer. Dit baat niemand nie – allermins die Suid-Afrikaanse ekonomie.”

Met die oog hierop beperk die IER-wet die oordrag van regte vanaf universiteite. “ʼn Grondbeginsel van dié wet is dat enige intellektuele eiendom wat nie ten volle deur ʼn privaatsektorentiteit gefinansier word nie, die eiendom van die navorsingsinstelling moet bly,” sê De Villiers. Dit is juis hierdie beginsel wat sommige waarnemers oormatig ontstel het.

“Hulle vergeet egter dat hierdie wet geensins ʼn maatskappy wat navorsing gedeeltelik gefinansier het, daarvan weerhou om gebruiksreg op die tegnologie te bekom nie,” sê hy. “Dit is nie nodig dat eienaarskap aan jou oorgedra word sodat jy die tegnologie kan gebruik nie.

“Daarbenewens kan jy ook – onderworpe aan goedkeuring deur NIMPO (die nasionale kantoor vir IE-regte) – bepaalde eksklusiewe regte beding wat jou ’n voorsprong bo jou sakemededingers sal gee. Jy kan byvoorbeeld sorg dat die navorsingsinstelling die tegnologie herverkoop slegs op plekke waar dit nie jou sakebelange sal benadeel nie.”

 

Geleenthede om nuwe inkomste te skep

ʼn Minder ooglopende dog potensieel winsgewende voordeel is dat ʼn privaatsektorfinansier mag deel in enige inkomste wat geskep word wanneer die navorsingsinstelling die nuwe tegnologie kommersieel ontgin (soos wat dié nuwe wet nou vereis).

“Dit beteken dat ʼn privaat finansier in bykomende inkomste kan deel wat andersins nie sou bestaan het nie,” sê De Villiers. “Tog wil dit voorkom asof privaatsektorfinansiers hierdie vorm van ontginning tans as ʼn bedreiging eerder as ʼn geleentheid beskou.”

Hy glo hierdie wet het die potensiaal om soortgelyke ekonomiese voordele vir Suid-Afrika te bewerkstellig as wat die bekende Bayh-Dole-wet vir Amerika meegebring het. Daardie wet het Amerikaanse patenterings- en kommersiële-lisensiëringsaktiwiteite aansienlik laat toeneem en openbaar gefinansierde navorsingsinstellings as een van die hoofspelers in die ‘kennisgebaseerde ekonomie’ gevestig.

“Die Suid-Afrikaanse regering het duidelik besef dat ons ons eie kennisgebaseerde ekonomie moet ontwikkel,” sê De Villiers. “Indien die voorgestelde benadering suksesvol in werking gestel word, behoort dit uiteindelik tot ʼn merkbare toename in inkomste vir alle betrokkenes te lei, waarby die ekonomie uiteraard ook sou baat vind. Op dié manier kan die nuwe wet tóg nog sy bestemde rol vervul.”

 

Roux de Villiers

Roux de Villiers staan tans aan die stuur van die tegnologieregpraktyk van die Suid-Afrikaanse korporatiewe firma Werksmans Prokureurs. 

Hy spesialiseer in advies oor tegnologielisensiëringstransaksies, in Suid-Afrika sowel as internasionaal, en het reeds omvattend in Suid-Afrika en Engeland gepraktiseer. Hy tree namens ʼn verskeidenheid kliënte op, veral op die gebied van finansiële dienste, kleinhandel en onderrig, en bied gereeld advies aan internasionale regsfirmas oor tegnologietransaksies waarby Suid-Afrikaanse entiteite betrokke is. 

De Villiers is ʼn kenner van transaksies met betrekking tot sagteware, kommunikasie-infrastruktuur en gepatenteerde tegnologie, onder meer op die terrein van die geneeskunde, biochemie, landbou en ingenieurswese. Transaksies wissel van die ontwikkeling, verkryging en lisensiëring van tegnologie, tot tegnologieverwante diensreëlings en korporatiewe strukturering om tegnologie te ontwikkel, te beskerm en te ontgin.

Hy het reeds verskeie bydraes oor die regs- en kommersiële aspekte van tegnologielisensiëring in boeke en vaktydskrifte gepubliseer. De Villiers is ook nou betrokke by die onderrig van die reg in soverre dit met tegnologielisensiëring verband hou, en konsentreer veral op die ontwikkelende wêreld. In hierdie verband het hy al by ʼn aantal Suid-Afrikaanse en internasionale universiteite as dosent en eksaminator opgetree. 

De Villiers besit grade in Ingenieurswese en Regsgeleerdheid, onder andere ʼn magistergraad in Rekenaar- en Kommunikasiereg van die Universiteit van Londen.

 


Terug


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University