Prof. Danie Brink: Akwakultuur |
| 14/11/2011 |
Wat behels die navorsing?
Professor Danie Brink staan aan die hoof van die Afdeling vir Akwakultuur aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Genetika. Hierdie afdeling is verantwoordelik vir 'n hele paar akwakultuur-toetsprojekte langs die Suider-Afrikaanse kuslyn waar 'n verskeidenheid inheemse vissoorte soos perlemoen, geelstert, kabeljou, oesters en mossels geteel word. Daarbenewens fokus die eenheid op die ontwikkeling van kunsmatige voedselbronne vir geteelde vis en die versnelde makmaak van vis deur genetiese tegnieke soos selektiewe voortplanting.
Waarom is dit tersaaklik?
Visverbruik is regoor oor die wêreld aan die toeneem, maar die vlakke van visproduksie deur die tradisionele visindustrie is vanweë krimpende natuurlike hulpbronne nou laer as ooit. Akwakultuur het ten doel om in die behoefte aan vars seekos te voorsien deur vis op 'n meer beheerde en gereguleerde wyse te produseer. Dit is die snel groeiendste bedryf in die voedselsektor en produseer meer as 50% van die seekos wat tans wêreldwyd verbruik word.
Die stigting van akwakultuur-toetsprojekte langs die Suider-Afrikaanse kus is gemik op die herlewing van dorpies wat voorheen hul brood en botter uit bestaansvissery gekry het. 'n Goeie voorbeeld is die visdorpie Hondeklipbaai, wat eens die kern van die vissersbedryf gevorm het en nou 'n werkloosheidskoers van 75% het. Daar word gehoop dat die akwakultuurprojekte in hierdie dorpies in kommersiële entiteite sal ontwikkel wat werk sal skep en omgewingsvolhoubare ontwikkeling sal verseker. Universiteit Stellenbosch se Afdeling vir Akwakultuur het kragte saamgesnoer met die Wêreld-Natuurfonds se program vir volhoubare visserye, wat akwakultuur steun aangesien dit die druk op natuurlike seehulpbronne verlig.
Wat hou die toekoms in?
Terreine wat in die toekoms deur prof. Brink en die Afdeling vir Akwakultuur nagevors sal word, behels in die ontwikkeling van kultuurstelsels vir toepassing langs ons hoë-energiekuslyn (daar is 'n gebrek aan beskutte kusterreine), asook die gebruik van landbou- en industriële “neweprodukte” van produksieprosesse om in die voedingsbehoeftes van vis te voorsien.
Meer oor die navorser
Prof. Danie Brink staan aan die hoof van die Afdeling vir Akwakultuur aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Genetika. Hy beskik oor 'n Meestersgraad en 'n PhD in Landbouwetenskap verwerf aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het 'n passie vir die buitelewe en bestee graag sy vrye tyd aan stap in die natuur en kajakroei.
