skip to content

Meer oor InnovUS > Ontmoet US navorsers

    SOEK 

Professor Chris Aldrich: Prosesoutomatisering

01/08/2011
Ontmoet US navorsers >>

Wat behels die navorsing?

Professor Chris Aldrich se navorsing fokus op prosesoutomatisering en meer spesifiek op die ontwikkeling van fout-diagnostiese stelsels. Fout-diagnostiese stelsels word aangewend om foute, nuwighede en afwykings in komplekse stelsels op te spoor en dit kan die stelseloperateur onmiddellik in kennis te stel as 'n fout of afwyking in die stelsel geïdentifiseer is.

Waarom is dit tersaaklik?

Die drie deurslaggewende faktore, naamlik koste, veiligheid en omgewingsimpak, is van die allergrootste belang vir enige onderneming wat daarna streef om in die hedendaagse sakeklimaat suksesvol te wees. Fout-diagnostiese stelsels kan gebruik word om die prestasie van al drie hierdie veranderlikes te identifiseer om sodoende onnodige koste te bespaar, veiligheidstandaarde te verbeter en uitlaatgasse wat skadelik is vir die omgewing, te verminder.

Die diagnostiese stelsels wat deur prof. Aldrich en sy span by die Anglo American Platinumsentrum vir Prosesmonitering ontwikkel is, word tans aangewend ter verbetering van veiligheid in die Suid-Afrikaanse mynbedryf. Daarbenewens laat die generiese aard van hierdie stelsels toe dat baie verskillende veranderlikes gemonitor kan word wat op sy beurt  tot moontlike toepassings in byvoorbeeld die biomediese en ruimtevaartbedryf kan lei.

Wat hou die toekoms in?

Die afgelope paar jaar is snelle vooruitgang gemaak met die algoritmes wat gebruik word om data in diagnostiese stelsels te ontleed. Hierdie vooruitgang het egter nog nie tot die bedryf deurgedring nie. Prof. Aldrich is oortuig dat die Universiteit Stellenbosch 'n belangrike rol in hierdie verband kan speel deur gevorderde algoritmes te ontwikkel en as 'n makelaar tussen akademici en die bedryf op te tree. Hy beoog ook om op die ontwikkeling van hoërvlakstelsels te konsentreer. Dit behels dat pasgemaakte algoritmes in die behoeftes van spesifieke kliënte kan voorsien.

Meer oor die navorser

Prof. Chris Aldrich is voorsitter van die Departement Prosesingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch and direkteur van die Anglo American Platinumsentrum vir Prosesmonitering. Hy het 'n meesters- en doktorsgraad in Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy speel graag tennis en skaak in sy vrye tyd. Hy is geesdriftig oor natuurbewaring en sorg dat hy wildparke en natuurhistoriese museums besoek waarheen hy ook al reis.


Terug


Tuisblad | Afstanddoening | Privaatheidsbeleid | Skakel ons | Meer oor ons | Algemene vrae (FAQ) | Skakels | Terreinkaart

© Kopiereg 2002 - 2012 | InnovUS, die tegnologie-oordragmaatskappy van Universiteit Stellenbosch.
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie webtuiste mag op enige wyse of in enige vorm
gekopieer of gestoor word sonder die vooraf toestemming van InnovUS nie.

Stellenbosch University