Professor Johan Smith: Volumevloeimeter |
| 18/04/2011 |
Wat behels die navorsing?
Professor Johan Smith se navorsing konsentreer op die ontwikkeling van 'n volumevloeimeter wat met die hand vasgehou word en in staat is om die vloei en volume van lug te meet wat gedurende pogings tot resussitasie of kunsmatige ventilasie aan die longe toegedien word.
Waarom is dit tersaaklik?
Standaardventilators het 'n ingeboude funksionaliteit wat die vloei en volume van lug kan meet. Maar pogings tot resussitasie word dikwels sonder die hulp van 'n ventilator gedoen, soos byvoorbeeld by ambulansdienste of in die kraamsaal in die geval van prematuurbabas. In hierdie gevalle is daar geen manier om die volume lug te meet wat aan die longe toegedien word deur eksterne druk toe te pas nie. Dit is veral van belang in die geval van prematuurbabas omdat hul longe baie sensitief is en maklik beskadig kan word deur te hoë volume lug wat deur eksterne druk gegenereer word. Daar is tewens in 'n studie met prematuurlammetjies bevind dat net ses inhalasies met druk toegepas voldoende is om die longe van die lammetjies te beskadig. Tussen 20 en 50 persent van prematuurbabas ly aan chroniese longsiektes as gevolg van te hoë volume lug aan die longe tydens resussitasie toegedien. Hierdie babas is ook geneig tot leer- en fisieke gestremdhede later in die lewe.
Die volumevloeimeter wat met die hand vasgehou word, sal mediese personeel wat nie toegang tot 'n ventilator het nie, in staat stel om die vloei en volume van lug akkuraat te meet en daardeur longskade by prematuurbabas en ook ander individue met longprobleme te verhoed. Die volumevloeimeter sal so ontwerp word dat dit so klein en liggewig as moontlik is en sal ook ‘n wegdoenbare aanhegting hệ waardeur die pasiënte kan asemhaal.
Wat hou die toekoms in?
Die volumevloeimeter word tans onder leiding van prof. Cornie Scheffer by die Biomediese Afdeling van die Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel. Een prototipe is al voltooi en dit sal gewaarmerk word om te verseker die lesings is akkuraat en betroubaar.
Meer oor die navorser
Prof. Johan Smith het medisyne aan die Universiteit Stellenbosch studeer en in 1987 as pediater gekwalifiseer. Hy het daarna in 1994 as ‘n neonataloog geregistreer en in 2002 sy PhD met die proefskrif Synthetic Lung Surfactant Development voltooi. In 2009 het hy deur portuuroorsig die kwalifikasie LKI Pediatrie ontvang. In sy vrye tyd geniet hy dit om te lees en sport te kyk. Hy gaan ook gereeld gimnasium toe, maar hy beskou dit is ‘n straf eerder as ‘n stokperdjie!
