Professor Louw Hoffman: Vleiskunde |
| 03/05/2011 |
Wat behels die navorsing?
Professor Louw Hoffman se navorsing konsentreer op elke stadium van die vleisbedryf, van die “plaas tot die maag”. Hy bestudeer die lewensomstandighede van die diere voordat hulle geslag word, die manier waarop hulle geslag word, die wyse waarop die vleis preserveer word en die vleis se voedingswaarde. Sy navorsing strek van diere waarmee tradisioneel geboer word, pluimvee en akwakultuur (vis) tot eksotiese vleis, 'n gebied waarop hy as 'n wệreldkenner beskou word.
Waarom is dit tersaaklik?
Prof. Hoffman se navorsing is veral waardevol vir Suid-Afrikaanse vleisuitvoerders. Vleis word gevries voordat dit uitgevoer word, en weer ontdooi vir gebruik in die land waarvoor dit bestem is. Maar tydens hierdie ontdooiproses verloor die vleis tot 10% van sy volume in die vorm van vog wat verlore gaan. In 'n onlangse studie het prof Louw en sy studente by die Veekundige Wetenskappe Departement 'n studie gedoen oor die invloed wat die tempo waarteen die vleis gevries en ontdooi word, op vogverlies het en ook hoe die raklewe en kleurstabiliteit van vleis verbeter kan word.
Ander studies van prof. Hoffman het aandag geskenk aan die verskil in die sagtheid van vleis van vrylopende plaasdiere vergeleke met diere wat gevoer word, asook die voedingswaarde van verskillende soorte afval, byvoorbeeld skaapbrein, omdat dit so gewild is by tradisionele gemeenskappe in Suid-Afrika, en die gevolglike belangstelling van buitelandse toeriste in hierdie kos.
Wat hou die toekoms in?
Prof. Hoffman werk tans aan 'n projek saam met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) oor die invloed van temperatuur op vars vis se raklewe. Hierdie studie is gerig op die raklewe van vis wat deur tradisionele vissers in die Kaapse waters gevang word en het ten doel om die vermorsing as gevolg van die oormaat vis wat sleg raak, te verminder.
Nog 'n projek wat saam met die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gedoen word, ondersoek die waardeketting van wildsvleis en wil jagters wat vir ontspanning jag, opvoed oor die slag en hantering van vleis sodat die vleis van die diere wat hulle geskiet het, geskik is vir insluiting in die kommersiële vleiswaardeketting.
Meer oor die navorser
Prof. Louw Hoffman is hoof van die Veekundige Wetenskappe Departement aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het sy voorgraadse honneurs- en meestersgrade in Veekunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en 'n PhD in Akwakultuur aan die Universiteit van die Noorde (nou bekend as die Universiteit van Limpopo). Hy is 'n selferkende vleisliefhebber – “as dit bloei, eet ek dit” – wat laas groente geëet het toe hy 13 jaar oud was. In sy vrye tyd jag en duik hy en bestee tyd saam met sy vrou en twee seuns.
