Sensi gebruik om hartdefekte op te spoor by kinders met gesplete verhemelte |
| 24/01/2011 |
Sensi, ’n produk van Diacoustics Medical Devices, wat medici ondersteun in die diagnose van hartdefekte, word tans gebruik deur die La Sonrie Conmigo-stigting in Venezuela om aangebore hartdefekte by kinders met gesplete verhemeltes op te spoor. Diacoustics Medical Devices is ’n afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch.
La Sonrie Conmigo is ’n organisasie sonder winsbejag wat gestig en bestuur word deur ouers wie se kinders gesplete verhemeltes het. Die organisasie voorsien ouers van spesiale bababottels, voedingsinstruksies, bied ondersteuning aan ouers en families, doen gratis operasies in Venezuela en bied ook opleiding aan dokters om hulle beter voor te berei om dié operasies te doen.
Mnr Thys Cronje van Diacoustic Medical Devices, het mnr Darko Moskovitz verlede jaar by ‘n mediese produkskou in Düsseldorf ontmoet. Mnr Moskovitz is die president en stigter van Sonrie Conmigo en het self ‘n kindjie met ‘n gesplete verhemelte. Hy spandeer al sy tyd om kinders met gesplete verhemeltes in die Amasone te help, hoewel hulle ook elders in die wêreld werk doen. Dr Brian Sommerlad, ‘n Britse dokter, is die kliniese leier van die span.
Mnr Moskovitz baie belang gestel in die produk, aangesien baie van die kinders waarmee die stigting werk hartprobleme het. “Aangesien ek in daardie stadium nie daar kon handel dryf nie, het ek voorgestel oom een stetoskoop en stel sagteware aan hulle te skenk, met die voorwaarde dat hulle terugvoer aan ons moet gee oor die gebruik daarvan,” sê Cronje.
Volgens mnr Cronje kom aangebore hartdefekte voor by 8 uit elke 1000 babas wat met gesplete verhemeltes gebore word in vergelyking met die 60 – 100 uit elke 1000 babas wat nie aan hierdie toestand ly nie.
Die Sensi-sagteware, wat onderskei tussen normale/ fisiologiese en patologiese hartsuisings deur die akoestiese hart- en EKG-seine wat met behulp van die WelchAllyn Meditron Analiseerder opgeneem word, word tans as ’n siftingstoets gebruik om aangebore hartdefekte by kinders met gesplete verhemeltes op te spoor.
Hoewel daar nog nie amptelike terugvoering oor Sensi ontvang is nie, is mnr Moskovitz positief oor die produk nadat 140 kinders al daarmee getoets is.
Lees meer oor Sensi by http://www.diacoustic.co.za/
