Meer as 80 studente neem deel aan die eerste virtuele SU Hackathon

Meer as 80 studente neem deel aan die eerste virtuele SU Hackathon

Dit was die derde jaarlikse Hackathon, aangebied deur Innovus, die US se kantoor vir tegnologie-oordrag wat verantwoordelik is vir die kommersialisering van die intellektuele goedere van die Universiteit. Studente kon aan 'n Fintech-koderingsuitdaging of 'n Data Wetenskap-uitdaging deelneem. Die borge vanjaar was Capitec, Entersekt en Explore. Die tema van die Hackathon was om oplossings te ontwikkel wat klein ondernemings kan help om doeltreffend te funksioneer in die nuwe normale post-COVID-19-omgewing. Studente het vanuit hul huise regoor die land, en sommige uit hulle koshuise op die Stellenbosch-kampus deelgeneem.

“Ons het studente uitgedaag om innoverend te dink en om nie slegs bestaande oplossings na te boots nie. Hulle moes eerder nadink oor die uitdagings wat klein ondernemings in die nuwe ekonomie in die gesig staar – probleme waarvoor niemand nog oplossings gevind het nie,” sê Camille de Villiers, tegnologie-oordragbeampte by Innovus. Soos gewoonlik was sake-en tegnologie-mentors, insluitend ingenieurs, datawetenskaplikes en ontwikkelaars, van die borge oor die naweek beskikbaar om studente te help.

Camille sê dertien studentespanne het aan die Data Wetenskap-uitdaging deelgeneem. Hulle is uitgedaag om maniere te identifiseer hoe data gebruik kan word om aan klein ondernemings bruikbare insig te bied. "Daar word van spanne verwag om die beskikbare data van kleinsake-ondernemings aan te vul met bykomende oopbron datastelle (bv. weerpatrone, verkeers en relevante liggingsgebaseerde dienste soos OTM's) om spesifieke insigte vir die klein ondernemings te bied."

Wen met data-wetenskap

Die wenners van die data-wetenskap uitdaging, Designated Derivers met Ulrich Kotze, Niel van Zyl, Claudia di Santola en Thamu Mnyulwa, het 'n toepassing genaamd CAPITEC / AIR geskep. Hierdie toep bied outomatiese bedryfsverslae (AIR) vir klein ondernemings om hulle te help om beter aankoopbesluite te neem. CAPITEC / AIR bied meer toeganklike en intuïtiewe insig waarvolgens ‘n mens gebeure en patrone letterlik op 'n kaart kan identifiseer om kritieke inligting te verstaan ​​en dienooreenkomstig op te tree.

Die naaswenner was Gemmerkoekies (met Murray Louw, Marco Ribeiro, Retief Louw en Jaco Luus) en Yeet It In Orange (met Michael Burke, DT Rodwell, Samuel Kingwill en HJ Schutte) het ook 'n eervolle vermelding ontvang. Die beoordelaars was Prof. Kanshu Rajaratnam, Direkteur van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, US, August Carstens, Bestuurder van Data-wetenskap by Capitec Bank, Coetzee Smit, Digitale hoof van Mercantile Bank, en Jaco Jansen van Rensburg, hoof instrukteur by die EXPLORE Data-wetenskap Akademie.

Fintech-wenners

Nege studentespanne het aan die Fintech-uitdaging deelgeneem. Die spanne is uitgedaag om hul koderingsvaardighede en verbeelding te gebruik om 'n ontwrigtende FinTech-geïnspireerde sagteware-oplossing te ontwerp en te bou wat klein ondernemings en hul verbruikers kan help om in die nuwe afstands-ekonomie te floreer.

Die oplossing moes 'n mate van mobiele kapasiteit insluit.

Die wenspan vir die Fintech-uitdaging was Horizon 12, met Troy Verwayen, Justin Abrams, Tieg O’Sullivan en Thomas Theron. Hulle het 'n mobiele toepassing genaamd Skillchain geskep, wat 'n afstands-instrument is wat deur klein ondernemings gebruik kan word om beroeps-gerigte werkers in die formele ekonomie met opdraggewende kliënte te koppel, en om sodoende hulle dienste met behulp van slim kontrakte en blokketting te lewer.

Die naaswenner was KickASS, met Abdullah Karbanee, Sarah Meinie en Summayah Alimudin. Eervolle vermelding is ook aan Quaranteam, met Lauren Abrahall, Paul Geldenhuis en Henru du Toit, gemaak.

Beoordelaars vir die Fintech-uitdaging was Prof. Ingrid Woolard, dekaan van ekonomiese en bestuurswetenskappe by US, Amrei Botha, hoofbestuurder van kliënte-ervaring by Capitec Bank, en Richard Bailey die senior vise-president van ingenieurswese by Entersekt.

Innovus

Camille sê Innovus speel gasheer vir die US Hackathon ten einde talentvolle studenteprogrammeerders, ontwerpers, bouers, statistici, wetenskaplikes en ingenieurs saam te bring om sodoende hulle kreatiewe idees te deel, saam te leer, te bou en innoverende maniere vind om probleme op te los. “Innovus glo dat die aanbieding van die jaarlikse US Hackathon bydra tot die skepping van 'n entrepreneuriese en innoverende kultuur op die hele US-kampus.”

“Hierdie aktiwiteite skep waardevolle opvoedkundige en loopbaanontwikkelings-ervarings vir studente, wat klaskameronderrig aanvul en die Stellenbosch-ervaring vir die studentegemeenskap nog beter maak. Die gebeure het ook 'n positiewe invloed op die plaaslike ontwikkelaars- en innoveerdersgemeenskap op Stellenbosch, want dit moedig die uitruil van innoverende idees aan en lei tot nuwe netwerke wat tussen industrie en die akademie binne hierdie gemeenskap geskep word.

Die US Hackathon is ‘n samewerking tussen die US en die plaaslike borge, Capitec en Entersekt, wat die uitdagingsriglyne opstel en mentorskap aan die studente bied. Die plaaslike industrie se betrokkenheid by die Hackathon bied studente werklike insigte waarna ondernemings kyk wanneer hulle in nuwe idees en tegnologië wil belê.

Die hoofmentor vir die Fintech-uitdaging, en bestuurder van innovasie by Capitec, Francois Dempers, sê: “’n Mens kan die beste kodeerder wees en die beste oplossing bou, maar as jy nie jou idees doeltreffend kan oordra nie, dan gaan die goeie idee dit nie maak nie. Hierdie Hackathon berei jou vir die regte wêreld voor.”

Om hierdie rede het die 2020 US Hackathon ook 'n Masterclass vooraf aangebied, wat deur Anton Pretorius van Sologix gefasiliteer is. Camille sê dat die studente hierdie jaar regtig die goeie raad ter harte geneem het en dat die voorleggings (en kreatiwiteit van die oplossings) in die algemeen vanjaar van ‘n aansienlik hoër standaard was.

 

Wenners van die data-wetenskap uitdaging: Designated Derivers 

Wenspan van die Fintech-uitdaging: Horizon 12