Die nuwe Innovuskantoor op die Tygerbergkampus

Die nuwe Innovuskantoor op die Tygerbergkampus

As jy ’n student aan die Universiteit Stellenbosch is wat ’n belangrike idee beetkry en oor die vaardighede beskik om dit uit te voer, is dit redelik maklik om by Innovus uit te kom en hulp daarmee te bekom – Innovus is eintlik om die hoek. Maar sê nou jy is een van vele mediese studente wat jou op die Tygerbergkampus bevind? Dis ’n goeie ent om te ry as jy met tesisse en projekte spook, en gewoonweg jou werk moet klaarkry.

Dink bietjie aan die groot verskeidenheid innovasies wat die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe opgelewer het. Of dalk wil jy ’n lysie hê? Nou gaan kyk gerus – hierdie uitvinders verdien al die tyd wat daar moontlik aan hulle bestee kan word. Dink aan die TB-opsporingsbiomerkers wat tans ontwikkel word en die nanosensors waarmee jy binne minute watersuiwerheid kan bepaal en enige siektes daarin kan opspoor. Nog een is Sporatec, wat lugtoetsingsoplossings vir elke moontlike gebruik bou (van winkelsentrums tot hospitale) en lewensbedreigende allergene (én die wat gewoon lastig is) in die lug kan opspoor nog voor dit probleme kan veroorsaak. Verder is daar Oftalmologiese geneesmiddels, Synsurf se sintetiese longsurfaktante, hartkleppe – werklik ’n ellelange lys.

Om ons mediese innoveerders by te staan en uitvindings in hierdie veld voortdurend aan te moedig, het Innovus besluit om ’n kantoor op die Tygerbergkampus in te rig en studente direk toegang tot die nodige hulp te bied. Van September af sal daar ’n vriendelike en kundige tegnologie-oordragbeampte op die 5de verdieping van die Opvoedkundegebou wees met wie innoveerders oor enige moontlike idee of kwessie kan gesels. Die kantoor se roterende personeellede (elkeen so geesdriftig en toegewyd soos die ander – en ek kan daarvan getuig) sal elke Donderdag daar wees. William Cloete, een van die twee vriendelike gesigte, sê deur nader te wees aan “waar die aksie is”, kan hulle mediese studente en die fakulteit se idees makliker beskerm, ondersteun, versprei en kommersialiseer – want na alles is dit tog die rede waarom Innovus gestig is.

image