Daar’s ’n “Bungle in the Jungle” – en dis heerlik

Daar’s ’n “Bungle in the Jungle” – en dis heerlik

Soos jy seker uit vorige nuusbriewe sal onthou, bied die Departement Voedselwetenskap by die Universiteit Stellenbosch jaarliks ’n voedselwetenskapkompetisie aan waartydens ons beste en talentvolste bakkers gevra word om ’n spesifieke probleem op te los.

Indien jy die vorige artikels gelees het, sal jy moontlik onthou dat ons finalejaarstudente se buitengewoon hoë standaarde van vindingrykheid en uitvoering al sinoniem met die kompetisie geword het. By laas jaar se “Stealth Health”-kompetisie is die wonder van S’cool Beans aan die wêreld bekend gestel, daardie heimlik heilsame laesuiker-, laesoutsmeer wat die tweede plek in die Internasionale Unie vir Voedselwetenskap en Tegnologie se wêreldwye kompetisie in Ierland behaal het.

En hierdie jaar was dit weer so.

Die tema vir 2016 was voedsame happies vir kinders met voedselsensitiwiteit. Elke woordgreep was ’n inskrywingskriterium en opnuut relevant in die omstandighede waar voedselsensitiwiteit aan die toeneem is, veral onder die jonger geslag. Die uitdaging was egter heelwat moeiliker as om ’n heilsame happie te skep – elke produk moes ook wetenskaplik gegrond en bemarkbaar wees, en ’n raklewe van minstens 7 dae hê. In vanjaar se kompetisie het 6 deelnemers met hulle ewe briljante portuurgroep om die eerste plek meegeding en van die mees merkwaardige innovasies ingeskryf.

Gell-O-Pop is ’n jelliestokkielekker met ’n vrugte-en-groentebasis en ’n bygevoegde klapper-sorbetlekker. Pudding Clouds is koekiekoppies wat tot oorlopens toe vol is met ’n groentevulsel (wat steeds soos poeding smaak) en met malvalekkers versier is. Holey Moley (inderdaad) is ’n oliebol wat van pampoen gemaak word (in plaas van meel en suiker), verglans met klappermelk, en met vanieljegeursel en heuning-kaneelfrummels. (Innovus se William Cloete het die Holey Moley al beskryf as “die beste dekselse oliebol wat ek al ooit geëet het.”) Mmnandi is ’n vrugtegeurmousse, maar wat uit aartappelmelk geprakseer is (kan jy nou meer), terwyl No-moo besluit het om ’n gevriesde aarbei-en-karamelgegeurde nagereg van makadamianeutmelk en knolgroente te skep.

Heerlike, voedsame kinderkos; vol gesonde, natuurlike bestanddele en met min allergene en diereprodukte.

Die indrukwekkendste uitvinding van almal, en die wenner, is die unieke en genotvolle Jungle Bungle. Hierdie span, wat aanvanklik ’n groentebasis- aangesuurde sojaproduk as ’n alternatief vir jogurt wou ontwikkel (daar is op die oomblik net twee op die mark en nie een het ’n groentebasis nie), het uiteindelik gesonde, eetbare eetgerei ontwikkel – en die twee produkte se geurprofiele pas perfek by mekaar. Ja, dis reg: jy eet jou gesonde allergeenvrye beet-en-kakao-“jogurt” en daarna eet jy jou saad-en-beskuitjie-teelepel ook.

Die Jungle Bungle-span het skoonskip in al drie beoordelingskategorieë gemaak deur as die mees kommersialiseerbare, die mees innoverende en die skaregunsteling aangewys te word.

Met ’n kontantprys van R7 500 in die sak gaan die Jungle Bungle-uitvinders ook op Innovus se ondersteuning en netwerk van konneksies kan staatmaak wanneer hulle hul heerlike nuwe uitvindings bekend stel, kommersialiseer en op die mark bring. Ons is seker die beleggers en maatskappye wat vinnig bewegende verbruiksgoedere verkoop, sal nes die beoordelaars op vanjaar se paneel nie kan wag om daaraan te begin weglê nie.

 

image