Uitvinders

Uitvinders

Het jy, as fakulteitslid of student van die Universiteit, 'n idee wat jy graag aan die wêreld wil meedeel? Voor jy egter die aap uit die mou laat deur publikasie of aanbiedings, gesels met ons om te verseker dat jou intellektuele eiendom (IE) behoorlik aangewend en beskerm word.

By Innovus beskik ons oor die kundigheid en hulpbronne om die nodige ondersteuning met die kommersialisering van jou idee te verleen. As jy die vorm vir die openbaarmaking van die uitvindsel indien, kan ons jou gedurende die proses ondersteun – van die evaluering van die lewensvatbaarheid van jou idee tot marknavorsing en die besluit oor die geskikste plan van optrede.

Die lisensiëring van jou idee met 'n geskikte vennoot is een manier om te kommersialiseer. Ons help jou om 'n lewensvatbare vennoot te vind en onderhandel oor die bepalings en voorwaardes wat voorbetaling, mylpaalbetalings en eienaarsaandeel behels. Kliek hier vir verdere inligting.

Jy kan natuurlik ook 'n nuwe afwentelmaatskappy stig. Ons beskik oor die toepaslike middele en dienste om leiding aan jou te verskaf met die proses om jou eie onderneming te begin. Dit behels onder meer:

  • Beperkte stigtingkapitaal;

  • Inkubatorgeriewe;

  • Regshulp;

  • Opleiding in sakevaardighede;

  • Toegang tot sakementors;

  • Hulp om 'n sakeplan te skryf;

  • Sakeadvies;

  • Steun om 'n onderneming te stig;

  • Steun om 'n strategie vir die onderneming te ontwikkel;

  • Toegang tot ons bedryfsnetwerk;

  • Toegang tot ander finansieringsbronne; en

  • Onderhandeling van lisensiëring en ander ooreenkomste.

As jy gereed is, help ons jou ook om jou maatskappy vir moontlike beleggers gereed te maak.

Ons beoog om in alle gevalle meer erkenning vir ons uitvinders te verkry, om die steun en samewerking van die bedryf te kry, en om aansienlike vergoeding vir jou en ook die Universiteit te beding. Ons intellektuele eiendomsbeleid sit al die besonderhede, onder meer die toewysing van inkomste verkry uit kommersialisering, uiteen. Dit is van die uiterste belang om die konsep intellektuele eiendom te verstaan. Die beskerming van jou idee bied vir jou 'n mededingende voordeel wat op sy beurt die moontlikheid van kommersialisering maksimaliseer. 

Kliek hier om  meer oor intellektuele eiendom uit te vind, en maak seker jy bestudeer ons amptelike beleid op intellektuele eiendom. Indien daar enige onsekerheid bestaan, gesels gerus met ons resident- intellektuele eiendomsprokureurs om die nodige advies te kry.

Hoe vorder die ontwikkeling van daardie idee? Skakel Innovus om die bal aan die rol te sit.

Kopiereg 2017 Innovus Technology Transfer, Alle Regte Voorbehou
Webtuiste deur NetMechanic ontwikkel