SensiCardiac: Die Shazam van Suid-Afrikaanse harte

SensiCardiac: Die Shazam van Suid-Afrikaanse harte

Wanneer dit kom by die kuns van ’n lang en gesonde lewe sal die meeste van ons saamstem dat die hart ons belangrikste orgaan is. Alhoewel dit vir baie van ons nog nie nodig was om ’n kardioloog te besoek nie (en hopelik sal die meeste van ons dit nooit hoef te doen nie), sal ons waarskynlik op só ’n dag ’n paar kilometer ver wees van ’n spesialis wat gou kan luister, ’n diagnose kan maak en ’n oplossing kan voorskryf.

Maar wat van die byna 20 miljoen Suid-Afrikaners wat buite bereik van groot stedelike sentra woon? Mense vir wie afstand (en ’n gebrek aan vervoer om die afstand te oorbrug) net so ’n groot probleem is as die gebrek aan spesialiste wat kan luister, diagnoseer en voorskrifte uitskryf? Om die waarheid te sê, beskik ons land oor bitter min spesialisvaardighede. Terwyl die Bostonse Kinderhospitaal in die VSA meer as 75 pediatriese kardioloë het, het ons presies 24 in die ganske land, wat dit vir landelike gemeenskappe byna onmoontlik maak om die regte spesialis op die regte tyd op te spoor, en dan is die kostes nog nie ingereken nie. Dit is veral kommerwekkend as mens in gedagte hou dat 1 uit elke 100 babas met ’n aangebore hartdefek in die wêreld kom.

Hartsiekte is moontlik nie ons grootste gesondheidsuitdaging nie, met MIV/Vigs steeds die hoogste prioriteit op almal se lys, maar wanneer jy daaraan dink dat 200 mense elke dag aan hartverwante siektes sterf, is dit steeds ’n baie belangrike kwessie. Verpleegkundiges wat landelike gebiede besoek en as mediese gemagtigdes in verskillende gebiede van die geneeskunde optree, kan advies en hulp verleen omdat hulle eerstehulpkissies, MIV- en TB-toetstelle en algemene gesondheidsvaardighede tot hulle beskikking het, al het hulle nie die kundigheid om hartprobleme te kan opspoor nie. En ongelukkig kan mens nie ’n kardioloog met jou saamdra nie.

Wel, nie tot dusvêr nie.

SensiCardiac, ’n nuwe toestel wat deur ’n span ingenieurs aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is, gebruik die klank van ’n hartklop (ongereeld of andersins), wat digitaal vasgelê en deur middel van intelligente algoritmes verwerk is, om hartprobleme akkuraat te identifiseer en te diagnoseer – ’n draagbare, digitale kardioloog. Deur ’n digitale stetoskoop met ’n pasgemaakte databasis van meer as 2 000 verskillende hartgeluide (meer as 30 000 individuele hartkloppe – die grootste databasis ter wêreld) te kombineer, kon hulle ’n stelsel ontwerp wat die akkuraatheid van die kardiologiese diagnose bespoedig en verbeter – strukturele hartdefekte, wat volgens patologiese en psigologiese geruis en die posisie daarvan (sistolies of diastolies), en selfs volgens gradering, deur byna enige mens, waar ook al, geïdentifiseer kan word. Dink daaraan as die Shazam van harte.

Boonop visualiseer en neem dit klanke op, wat geberg kan word (vir daaropvolgende ontmoetings), of met ander spesialiste gedeel kan word. Omdat dit ’n 90%- akkuraatheidskoers het, verminder dit onnodige (en duur) verwysings, wat die las op ons beursies en hospitale met tot 60% kan verlig.

SensiCardiac is ’n besluitondersteuningstelsel vir ons primêresorgwerkers – en ’n digitale tweede opinie vir kardiologiese spesialiste.

Die idee vir SensiCardiac het oorspronklik van ’n meestersverhandeling van die medestigter, Jacques de Vos, in 2003 gekom. Hy en medestigter Thys Cronje het Innovus in die navorsingsfase saam genader om die intellektuele eiendom (IE) wat hulle só toegewyd ontwikkel het, te kommersialiseer. Hulle het ook besef hulle het iets wonderbaarliks beet, en wou uiteindelik ’n besigheid daaruit bou. In Innovus het hulle ’n kennisvennoot gevind wat oor die regte kontakte vir kommersialisering en befondsing beskik het. En wat ’n vennootskap was dit nie tot dusver nie.

Deel van die Innovusmandaat is om selfvolhoubare afwentelmaatskappye te skep uit die tegnologieë en IE wat aan die Universiteit ontwikkel word. In 2007 is die maatskappy Diacoustic Medical Devices (Pty) Ltd gestig, wat verder met die ontwikkeling van die tegnologie vir SensiCardiac gemoeid was en aandeelhouers van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC), die Universiteit Stellenbosch en GeoMed insluit. Dit is selfs deur die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA) geregistreer.

“Hulle is die leidende tegnologieoordragkantoor in Suid-Afrika,” sê Thys, “en dit was heerlik om met hulle te kon saamwerk.”

Glo dit of nie, die SensiCardiac-tegnologie kry redelik groot aftrek in Amerika, waar hulle met gevestigde maatskappye meeding. Die feit dat dit op daardie “eerstewêreld”-vlak sukses behaal, spreek boekdele van wat Thys, Jacques en die Sakeontwikkelingsbestuurder, Michael Maas (MIng), opgebou het. Die volgende stap is om te verseker dat Suid-Afrika se gemeenskappe en gesondheidswerkers toegang tot SensiCardiac-tegnologie in klinieke oor die hele land bekom.

Diacoustic Medical Devices(Pty) Ltd en hulle breinkind, SensiCardiac, is uitstekende voorbeelde van die gehalte van die navorsing wat aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Geneeskunde gedoen word, hoe intellektuele inspanning sowel emosioneel as finansieel vrugte kan oplewer, en hoe belangrik die regte vennootskappe kan wees – vir mekaar en vir ons land. 

image